YouVersion Logo
Search Icon

RIGTERS 18

18
Die stam Dan trek na Lajis toe
1In die tyd toe daar nog nie 'n koning in Israel was nie, het die stam Dan grond gesoek om op te woon, want tot op daardie tyd het hy nog nie 'n eie besitting onder die stamme van Israel gekry nie. 2Die mense van Dan het vyf dapper man uit Sora en uit Estaol gestuur as verteenwoordigers van hulle hele stam om die land te verken en deur te kyk. Daar is vir hulle gesê: “Gaan kyk die land deur.”
Hulle het by die huis van Miga in die Efraimsberge gekom en daar oornag. 3Toe hulle by die huis van Miga kom, het hulle die stem van die jongman, die Leviet, herken en daar ingedraai. Hulle het vir hom gevra: “Wie het jou hierheen gebring? Wat doen jy hier? Hoekom is jy hier?”
4Toe sê hy vir hulle: “Miga het met my 'n reëling getref: hy het my gehuur en ek is sy priester.”
5Hulle het vir hom gesê: “Vra tog vir God of ons onderneming wat ons aangepak het, goed sal verloop of nie!”
6Die priester het vir hulle gesê: “Gaan gerus! Die Here is by julle op julle reis.”
7Die vyf mans is toe daar weg, en hulle het in Lajis gekom. Hulle het opgemerk dat die inwoners rustig woon, hulle was sonder agterdog en houtgerus soos die mense van Sidon maar was. Hulle het nooit iets in hulle land kortgekom nie, hulle besittings was veilig. Hulle was ver van die ander mense van Sidon af en was nie in aanraking met ander mense nie. 8Die vyf mans het teruggekom by hulle familie in Sora en in Estaol, en dié het vir hulle gevra: “Wat het julle gesien?”
9Toe antwoord hulle: “Kom ons trek daarnatoe. Ons het die land gesien. Dit is baie mooi. Wat sit julle nog stil? Moenie talm om die land in besit te gaan neem nie. 10Wanneer julle trek, sal julle by 'n volk kom wat houtgerus is en by 'n land wat oop lê na weerskante toe. Die Here gee vir julle 'n plek waar daar nie gebrek is aan enigiets op aarde nie.”
11Ses honderd goed gewapende man uit die stam Dan het toe uit Sora en uit Estaol opgetrek. 12Hulle het kamp opgeslaan by Kirjat-Jearim in Juda. Daarom word die plek, wat net agter Kirjat-Jearim lê, nou nog Magane-Dan genoem. 13Van daar af het hulle na die Efraimsberge toe getrek en by Miga se huis gekom. 14Die vyf man wat die land by Lajis gaan verken het, het vir hulle stamgenote gesê: “Julle weet, in hierdie huis is daar 'n efodbeeld, afgodsbeeldjies en 'n godsbeeld. Julle weet nou wat julle behoort te doen.”
15Hulle het daar ingedraai en na die huis van die jongman, die Leviet, toe gegaan by Miga se huis en die jongman gegroet. 16Die ses honderd goed gewapende man uit die stam Dan het by die deur gaan staan, 17en die vyf wat die land gaan verken het, het by die huis ingegaan en die godsbeeld en die afgodsbeeldjies en die efodbeeld gevat. Die priester het by die deur gestaan by die ses honderd goed gewapende man, 18en toe die vyf man die huis van Miga ingaan en die godsbeeld en die efodbeeld en die afgodsbeeldjies vat, sê die priester vir hulle: “Wat doen julle?”
19Maar hulle sê vir hom: “Bly stil! Moenie praat nie! Kom saam met ons en wees ons leermeester en priester. Is dit vir jou beter om priester te wees vir een man se huis of vir al die mense van 'n stam in Israel?”
20Die priester was toe tevrede, en hy het die efodbeeld, die afgodsbeeldjies en die godsbeeld gevat en saam met die mense van Dan gegaan. 21Hulle het toe weggedraai en vertrek met hulle kinders en vee en besittings op die voorpunt. 22Toe hulle 'n ent weg is van Miga se huis af, het hy die hulp ingeroep van die mense wat in sy omgewing bly. Hulle het die mense van Dan ingehaal 23en vir hulle geskreeu, maar die mense van Dan het omgekyk en vir Miga gesê: “Wat is dit met jou dat jy so te kere gaan?”
24Toe sê hy: “Maar julle het my god wat ek gemaak het, gevat en ook my priester, en nou gaan julle weg. Wat het ek nou oor? Hoe sê julle vir my: Wat is dit met jou?”
25Die mense van Dan het hom geantwoord: “Moenie hier by ons kom staan en lawaai nie! Netnou val 'n klompie roekelose manne jou aan en dan maak hulle jou en jou mense dood.”
26Toe trek die mense van Dan verder, en Miga het besef hulle is sterker as hy en hy het omgedraai huis toe.
27Die mense van Dan het die beelde gevat wat Miga gemaak het, en ook sy priester, en na Lajis toe gegaan, na die volk wat sonder agterdog en houtgerus woon, en hulle doodgemaak en hulle stad verbrand. 28Niemand kon hulle red nie, want hulle was ver van Sidon af en nie binne bereik van ander mense nie. Die stad was geleë in die laagte by Bet-Regob.
Die mense van Dan het die stad herbou en daarin gaan woon. 29Hulle het die stad Dan genoem, na hulle stamvader Dan wat vir Israel gebore is. Die stad is vroeër Lajis genoem. 30Die mense van Dan het die afgodsbeeld daar opgestel, en Jonatan, seun van Gersom seun van Moses, en sy seuns was priesters vir die stam Dan totdat die bevolking in ballingskap weggevoer is.
31Hulle het die afgodsbeeld van Miga wat hy gemaak het, op sy plek neergesit, en dit het daar gebly so lank as die huis van God in Silo was.

Currently Selected:

RIGTERS 18: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy