YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 49

49
Ek maak jou 'n lig van die nasies
1Luister na my, eilande,
gee aandag, nasies wat ver is!
Die Here het my voor my geboorte al geroep;
toe ek nog in my moeder se liggaam was,
het Hy my op my naam genoem.
2Hy het my mond soos 'n skerp swaard gemaak,
my in die skaduwee van sy hand verberg,
Hy het my 'n skerp pyl gemaak
en my in sy pylkoker weggesteek.
3Hy het vir my gesê: Jy is my dienaar,
jy is Israel, deur jou maak Ek my mag bekend.
4Ek het gedink: ek het my tevergeefs vermoei,
ek het my heeltemal verniet afgesloof.
Maar die Here sál aan my reg laat geskied,
my God sál my beloon.
5En nou maak die Here 'n aankondiging,
Hy wat my in die moederskoot al sy dienaar gemaak het
om Jakob na Hom toe terug te bring
sodat Israel nie meer verstrooi sal wees nie.
Die Here het my 'n belangrike opdrag gegee
en my God gee my die krag om dit te doen.
6Hy het gesê: Dit is nie genoeg dat jy my dienaar is
om die stamme van Jakob te herstel
en om die Israeliete wat gered is,
terug te bring nie;
Ek maak jou 'n lig vir die nasies
sodat die redding wat Ek bewerk,
die uithoeke van die aarde sal bereik.
7So sê die Here,
die Heilige van Israel, sy Verlosser,
vir dié een wat diep verag is,
wat deur die nasies verafsku word
en wat 'n dienaar van regeerders is:
Konings sal sien wat gebeur en sal opstaan,
leiers sal buig
tot eer van die Here wat getrou is,
die Heilige van Israel wat jou uitverkies het.
Hulle sal nie honger of dors kry nie
8So sê die Here:
Op 'n tyd wat Ek goeddink, sal Ek jou gebede verhoor,
op die dag wanneer Ek wil red, sal Ek jou help.
Ek sal jou beskerm
en jou my verbond met my volk maak
om sy land te herstel,
om sy verlate eiendom weer in besit te neem,
9om aan dié wat gevange gehou word, te sê: “Gaan uit!”
aan dié wat in die donker opgesluit sit: “Kom uit!”
Hulle sal versorg word terwyl hulle op pad is,
selfs op kaal heuwels sal daar vir hulle genoeg wees.
10Hulle sal nie honger of dors kry nie,
die woestynhitte en die son sal hulle nie brand nie,
want Hy wat Hom oor hulle ontferm het,
sal hulle onder sy sorg neem.
Hy sal hulle by fonteine langs lei.
11Ek sal al my berge paaie maak,
my grootpaaie sal sonder opdraandes wees.
12Daar kom my volk van ver af!
Party kom uit die noorde en uit die weste,
party kom uit die land van die Siniete.
13Jubel, hemel! Juig, aarde!
Sing vrolik, berge!
Die Here het vir sy volk uitkoms gegee,
Hy het Hom ontferm oor sy volk wat in nood was.
14Sion sê: “Die Here het my verlaat,
die Here het my vergeet.”
15Kan 'n vrou haar eie baba vergeet,
haar nie ontferm oor die kind
wat sy in die wêreld gebring het nie?
Selfs al sou so iets kon gebeur,
Ek sal jou nie vergeet nie.
16Ek het jou naam in my handpalms gegraveer,
Ek sien jou mure altyd voor my.
17Jou kinders kom binnekort,
en dié wat jou verwoes en verniel het, sal uit jou uit padgee.
18Kyk rondom jou en sien wat gebeur,
al jou kinders kom bymekaar en hulle kom na jou toe.
So seker as Ek lewe, sê die Here,
jy sal oor hulle so bly wees soos 'n vrou oor halssnoere,
soos 'n bruid oor haar juwele.
19Jy is nou nog net puinhoop en ruïne,
'n verwoeste plek,
maar jy sal te klein word vir al jou inwoners,
en dié wat jou afgebreek het, sal verdwyn.
20Kinders wat jy nou nie het nie,
sal nog in jou ore kom kerm en sê:
“Dié plek is te klein vir ons!
Maak vir ons plek om in te woon!”
21Dan sal jy dink:
wie het hierdie kinders vir my in die wêreld gebring?
Ek was kinderloos en onvrugbaar,
'n balling, 'n verstoteling.
Wie het hierdie kinders grootgemaak?
Ek het alleen oorgebly.
Waar kom hulle vandaan?
22So sê die Here God:
Ek sal my hand uitstrek na die nasies toe,
onder die volke sal Ek my vaandel opsteek.
Dan sal hulle jou seuns op die arm na jou toe bring,
en jou dogters sal op die skouer aangedra word.
23Konings sal jou kinders oppas,
koninginne sal hulle pleegmoeders wees.
Hulle sal diep voor jou buig
en die stof van jou skoene aflek.
Dan sal jy besef dat Ek die Here is;
wie op My vertrou, word nie teleurgestel nie.
24Kan 'n soldaat se buit afgeneem word?
Sal 'n gevangene sommer vrygelaat word
as hy onder bewaking van 'n betroubare persoon is?
25So sê die Here:
'n Soldaat se gevangene kan ontset word,
selfs 'n man met baie mag se buit kan afgeneem word.
Ek is 'n vyand van jou vyand
en Ek sal jou kinders red.
26Ek sal jou verdrukkers hulle eie vleis laat eet,
hulle sal van hulle eie bloed so dronk word soos van wyn.
Dan sal al wat leef, besef dat Ek die Here is,
jou Redder en jou Verlosser, die magtige God van Jakob.

Currently Selected:

JESAJA 49: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy