YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 21

21
Teen Babel
1'n Uitspraak van die Here teen Babel:
Soos warrelwinde deur die Suidland trek,
so kom daar iemand uit die woestyn,
uit die land waarvoor almal bang is.
2'n Harde oordeel is aan my geopenbaar:
die verraaier pleeg verraad,
die verwoester saai verwoesting.
Elam, jy moet oorlog maak! Medië, jy moet begin veg!
Die Here maak 'n einde aan al die lyding.
3Skrik oorweldig my, angs oorval my soos dié van 'n vrou
wat 'n kind in die wêreld bring.
Ek is verskrik oor wat ek gehoor het,
ek is bang oor wat ek gesien het.
4My verstand staan stil, angs oorweldig my,
die rustigste deel van die dag is nou vir my 'n verskrikking.
5'n Tafel word gedek,
die eetgerei is reggesit,
hulle begin eet en drink!
Dan kom die bevel: “Leiers, wees gereed!
Smeer die skilde met olie!”
6So het die Here vir my gesê:
Sit 'n wag uit, hy moet sê wat hy sien.
7As hy 'n strydwa sien, 'n strydwa met perde,
of 'n strydwa met donkies, of een met kamele,
moet hy baie goed oplet.
8Die wag het uitgeroep:
“Meneer, ek het die hele dag deur wag gestaan,
ek het die hele nag op my pos gebly.
9Daar kom 'n man op 'n strydwa,
'n strydwa met perde.
Hy hou aan roep: Geval, geval het Babel,
al sy afgodsbeelde lê stukkend op die grond!”
10My volk, jy wat vertrap is op die dorsvloer,
ek het vir jou gesê wat die Here vir my gesê het,
die Almagtige, die God van Israel.
Teen Edom
11'n Uitspraak van die Here teen Duma:
Iemand roep na my van Seïr af:
“Wag, wanneer is die nag verby?
Wag, wanneer is die nag verby?”
12Die wag antwoord:
“Die môre het gekom, maar dit is nog nag.
As julle weer wil kom vra, kom vra gerus,
julle kan elke keer weer kom vra.”
Teen Arabië
13'n Uitspraak van die Here teen Arabië:
Handelaars van Dedan,
julle wat in die bosse van Arabië oornag,
14gee water vir dié wat dors het;
julle wat in Tema woon,
bring kos vir die vlugtelinge!
15Die mense vlug vir die oorlog:
vir die swaard wat wil doodmaak,
vir die boog wat reg is om te skiet.
Die mense vlug vir die wrede oorlog.
16Dit het die Here vir my gesê:
Binne 'n jaar, 'n jaar wat so ondraaglik sal wees soos dit vir 'n dagloner is, sal daar 'n einde kom aan Kedar se rykdom.
17Selfs van sy dapper soldate wat met pyl en boog veg,
sal maar min oorbly!
Die Here die God van Israel het dit gesê.

Currently Selected:

JESAJA 21: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy