YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 2

2
Uit Sion kom die openbaring
1Die openbaring wat Jesaja seun van Amos ontvang het oor Juda en Jerusalem.
2Daar kom 'n tyd dat die berg
waarop die huis van die Here is,
'n blywende plek sal hê bokant die bergtoppe
en sal uitstaan bo die heuwels.
Al die nasies sal daarheen stroom,
3baie volke sal daarnatoe gaan en sê:
“Kom, laat ons optrek na die berg van die Here toe,
na die huis van die God van Jakob
sodat Hy ons sy wil kan leer,
en ons daarvolgens kan lewe,
want uit Sion kom die openbaring,
uit Jerusalem die woord van die Here.”
4Hy sal oordeel tussen die nasies,
regspreek oor baie volke.
Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee
en van hulle spiese snoeiskêre.
Die een nasie sal nie meer die swaard teen die ander opneem nie,
en hulle sal nie meer leer om oorlog te maak nie.
5Kom, volk van Jakob,
laat ons lewe in die lig wat van die Here af kom.
Die hoogmoediges sal verneder word
6U het u volk Jakob verstoot:
hulle gee hulle oor aan die waarsêery van die ooste,
beoefen towery soos die Filistyne
en hou saam met vreemdes vas aan bygeloof;
7hulle land lê vol silwer en goud,
daar is geen einde aan hulle skatte nie;
hulle land loop vol perde,
daar is geen einde aan die getal van hulle strydwaens nie;
8hulle land is vol afgode,
hulle buig voor die maaksel van hulle hande,
voor wat hulle vingers gemaak het.
9So het mense hulleself verneder
en tot 'n val gekom.
U moet hulle dit nie vergewe nie.
10Vlug die rotse in,
kruip weg in die grond
vir die verskrikking wat van die Here kom
en vir die glans van sy majesteit.
11Die hoogmoediges sal tot 'n val kom,
die selfversekerdes sal verneder word.
Op dié dag sal net die Here hoog wees.
12Die Here die Almagtige het 'n dag bepaal
teen al wat trots en hoog is,
teen alles, hoog en laag,
13teen al die hoë en verhewe seders van die Libanon
en teen al die groot bome van Basan;
14teen al die hoë berge
en teen al die steil rante;
15teen elke hoë toring
en teen elke skansmuur;
16teen al die handelskepe
en teen al die vaartuie vol kosbaarhede.
17Die hoogmoediges sal verneder word,
die selfversekerdes sal tot 'n val kom.
Op dié dag sal net die Here hoog wees.
18Die afgode sal heeltemal verdwyn.
19As die Here die aarde begin skud,
vlug die mense in grotte in die rotse
en in gate in die grond in
vir die verskrikking wat van Hom kom
en vir die glans van sy majesteit.
20Daardie dag sal die mense
die afgode van silwer en goud
wat hulle gemaak het om voor te buig,
weggooi vir die rotte en die vlermuise.
21As die Here die aarde begin skud,
sal hulle die rotsholtes en die klipskeure invlug
vir die verskrikking wat van Hom kom
en vir die glans van sy majesteit.
22Moenie op mense staatmaak nie:
hulle blaas so maklik die laaste asem uit.
Hulle is min werd.

Currently Selected:

JESAJA 2: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy