YouVersion Logo
Search Icon

HOSEA 5

5
Teen die leiers en teen die volk
1Luister hierna, priesters!
Let op, leiers van Israel,
gee aandag, koningshuis!
Hierdie oordeelswoord is vir julle bedoel.
Julle is die wip in Mispa,
die oopgespreide vangnet op Tabor,
2die diep vanggat in Sittim.
Maar Ek gaan julle almal straf.
3Ek ken Efraim en Ek weet wat in Israel aangaan.
Omdat jy jou nou aan hoerery oorgegee het, Efraim,
is Israel verontreinig.
4Hulle dade maak dit vir hulle onmoontlik om na hulle God toe terug te keer, want 'n hoergees het by hulle posgevat en hulle is nie meer aan die Here toegewy nie.
5Israel se hoogmoed getuig teen hom, en Israel en Efraim sal saam tot 'n val kom oor hulle sonde. Selfs Juda het saam met hulle tot 'n val gekom. 6Met offers van kleinvee en beeste sal hulle na die wil van die Here kom vra, maar hulle sal nie antwoord kry nie, omdat Hy Hom aan hulle onttrek het. 7Hulle was ontrou aan die Here, want hulle het buite-egtelike kinders verwek. Hy gaan hulle binnekort vernietig. Binne 'n maand gaan Hy hulle gesaaides verwoes.
Die volk soek hulp op die verkeerde plek
8Blaas die ramshoring in Gibea,
die trompet in Rama!
Maak alarm in Bet-Awen!
Benjamin is agter jóú aan, Efraim.
9Jy gaan verwoes word op die dag van afrekening.
Ek maak aan die stamme van Israel bekend wat beslis gaan gebeur.
10Die leiers van Juda het beslag gelê op Israel se grond. Daarom het my toorn hulle soos 'n vloedgolf getref. 11Efraim is verdruk; sy reg is hom ontneem, want hy het kant gekies vir iemand wat hom nie kon help nie.
12Ek was vir Efraim soos 'n gewas en vir Juda soos beentering. 13Toe Efraim agterkom dat hy siek is en Juda dat hy 'n sweer het, het Efraim gaan hulp soek by Assirië en 'n afvaardiging gestuur na koning Jareb toe. Maar hý kon julle nie gesond maak of die sweer uitsny nie. 14Ek is soos 'n leeu teenoor Efraim, soos 'n roofdier teenoor Juda. Dit is Ek wat verskeur en my koers gaan, wat wegdra sonder dat iemand dit kan keer.
Ek gaan My terugtrek
15Ek gaan My in my woonplek terugtrek totdat hulle hulle skuld bely en vra na my wil. In hulle nood sal hulle my hulp kom vra.

Currently Selected:

HOSEA 5: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy