YouVersion Logo
Search Icon

GALASIËRS 4

4
1Hierby wil ek nog dít sê: Solank 'n erfgenaam nog minderjarig is, verskil sy posisie nie werklik van dié van 'n slaaf nie, al behoort die hele erfenis aan hom. 2Tot die dag wat sy pa bepaal het, staan hy onder toesig van voogde en word sy besittings deur bestuurders beheer.
3En so is dit ook met ons. Toe ons nog geestelik onmondig was, was ons slawe van wettiese godsdienstige reëls. 4Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur. Hy is uit 'n vrou gebore en van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe 5om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word. 6En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: “Abba!” Dit beteken: Vader! 7Jy is dus nie meer 'n slaaf nie; jy is nou 'n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak.
Paulus se besorgdheid oor die Galasiërs
8Daar was 'n tyd toe julle nie vir God geken het nie en slawe was van nikswerd afgode. 9Maar noudat julle Hom leer ken het, of liewer, noudat Hy julle ken, hoe val julle dan nou weer terug na daardie minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls? Wil julle van voor af weer slawe daarvan wees? 10Julle hou aan om besondere dae en maande, feesgeleenthede en jare te vier. 11Ek vrees my harde werk aan julle was dalk tevergeefs.
12Ek smeek julle, broers: Word soos ek, soos ek my ook met julle vereenselwig het. Julle het my nooit sleg behandel nie. 13Julle onthou mos hoe dit gekom het dat ek die eerste keer die evangelie aan julle verkondig het. Dit was deurdat ek siek geword het. 14En al was my toestand vir julle 'n versoeking om my te verag of selfs te verfoei, het julle dit nie gedoen nie. Inteendeel, julle het my ontvang asof ek 'n engel van God was, ja, asof ek Christus Jesus self was. 15Julle was so bly daaroor. Wat het nou van julle blydskap geword? Dít kan ek van julle getuig: As dit moontlik was, sou julle julle oë uitgeruk en vir my gegee het. 16Het ek dan nou julle vyand geword deurdat ek die waarheid aan julle voorhou?
17Daardie mense se ywer vir julle is nie met suiwer bedoelings nie. Hulle wil julle van my losmaak sodat julle julle vir hulle saak sal beywer. 18Om jou vir 'n goeie saak te beywer, is goed, maar dan moet dit altyd die geval wees en nie net as ek by julle is nie. 19My kinders, ek verkeer van voor af weer in geboortepyne oor julle totdat Christus in julle gestalte kry. 20Ek wens ek kon nou by julle wees en op 'n ander toon met julle praat. Ek is werklik besorg oor julle.
Hagar en Sara
21Julle wat so graag aan die wet van Moses onderworpe wil wees, sê vir my: Hoor julle nie wat die wet sê nie? 22Daar staan tog geskrywe dat Abraham twee seuns gehad het, een by 'n slavin en een by 'n vrygeborene. 23Sy seun by die slavin is volgens die loop van die natuur verwek en gebore, maar sy seun by die vrygeborene kragtens 'n belofte van God.
24'n Mens moet dit figuurlik verstaan. Die twee vroue staan vir twee verbonde. Die een is by Sinaiberg gesluit en bring slawe voort. Dié verbond is Hagar. 25Hagar staan vir Sinaiberg in Arabië, en dit is 'n beeld van die huidige Jerusalem, want Jerusalem en sy kinders is slawe. 26Maar die hemelse Jerusalem is vry, en dit is ons moeder. 27Daar staan immers geskrywe:
“Verbly jou, onvrugbare wat nie kinders kon hê nie.
Juig van vreugde,
jy wat nooit moeder kon word nie,
want die kinderlose vrou wat deur haar man verlaat is,
sal meer kinders hê as die vrugbare wie se man by haar is.”
28En julle, my broers, is net soos Isak kragtens die belofte kinders van God. 29Destyds het die seun wat volgens die loop van die natuur gebore is, die seun vervolg wat deur die Gees in die wêreld gekom het. En dit is nou nog so. 30Maar wat sê die Skrif hiervan? “Jaag die slavin en haar seun weg, want die seun van die slavin mag hoegenaamd nie saam met die seun van die vrygeborene erf nie.” 31Ons is dus nie kinders van 'n slavin nie, broers; ons is kinders van die vrye.

Currently Selected:

GALASIËRS 4: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy