YouVersion Logo
Search Icon

ESEGIËL 34

34
Ek gaan optree teen die herders
1Die woord van die Here het tot my gekom: 2“Mens, tree op as profeet teen die herders van Israel, tree op as profeet en sê vir hulle, vir die herders: So sê die Here my God: Ellende wag vir die herders van Israel wat net vir hulleself sorg! Moet herders dan nie vir die kleinvee sorg nie? 3Julle drink die melk, julle maak vir julle klere van die wol, julle slag die vetste kleinvee, maar julle sorg nie vir die kleinvee nie. 4Julle het nie die swakkes gehelp nie, julle het nie die siekes gedokter nie, julle het nie die wonde van dié wat seergekry het, versorg nie, julle het nie dié wat weggedwaal het, teruggebring nie, julle het nie dié wat weggeraak het, gesoek nie. Julle was harde en wrede regeerders. 5Die kleinvee was sonder herder en het verstrooi geraak, en toe hulle verstrooi raak, word hulle 'n prooi vir roofdiere. 6My kleinvee het rondgedwaal oor al die berge en oor al die hoë heuwels, hulle het verstrooi geraak oor die hele aarde en niemand het hulle gesoek of na hulle gevra nie.”
7Daarom, herders, hoor die woord van die Here: 8“My kleinvee is uitgelewer en het die prooi van enige wilde dier geword; hulle is sonder herder, sonder iemand wat na hulle soek; die herders het vir hulleself gesorg en nie vir my kleinvee nie. So seker as Ek leef,” sê die Here my God, “Ek sal die herders straf.” 9Hoor die woord van die Here, herders! 10So sê die Here my God: “Ek gaan optree teen die herders: Ek eis my kleinvee van hulle terug, Ek maak 'n end daaraan dat hulle die kleinvee se herders is, hulle sal nie herders bly net om vir hulleself te sorg nie. Ek sal my kleinvee red en hulle nie deur die herders laat opeet nie.”
Ek sal self my kleinvee se herder wees
11So sê die Here my God: “Ek sal self my kleinvee soek en na hulle omsien. 12Soos 'n herder omsien na die kleinvee wat uit sy trop verstrooi raak, so sal Ek omsien na my kleinvee en hulle red uit al die plekke waarheen hulle verstrooi is op daardie donker oordeelsdag. 13Ek sal hulle tussen die ander volke uitbring, hulle bymekaarmaak uit die ander lande en hulle bring na hulle land toe. Ek sal hulle versorg op die berge van Israel, in die klowe, in al die woonplekke in die land. 14Ek sal vir hulle sorg vir goeie weiding. Hulle sal wei op die hoë berge van Israel en rustig daar in die goeie weiveld lê en herkou. Hulle sal op geil veld wei daar in die berge van Israel. 15Ek sal self my kleinvee se herder wees en hulle rustig laat lê en herkou,” sê die Here my God. 16“Ek sal dié soek wat weggeraak het, dié terugbring wat weggedwaal het, die wonde versorg van dié wat seergekry het, die swakkes help. Maar Ek sal dié wat vet en sterk geword het, uitroei. Ek sal 'n herder wees wat reg laat geskied.
17“En wat julle betref, my kleinvee,” sê die Here my God, “Ek gaan regverdig oordeel tussen skaap en skaap en tussen skape en bokke. 18Party van julle het die beste gras afgewei en boonop wat oorgebly het, vertrap. Julle het skoon water gedrink en wat oorgebly het, vuil gemaak. 19My ander skape moes die gras vreet wat deur julle vertrap is en die water drink wat deur julle vuil gemaak is.
20“Daarom,” so sê die Here my God, “gaan Ek nou regverdig oordeel tussen die vet skape en die maeres. 21Julle het die swakkes met julle lywe en skouers weggestoot en hulle met julle horings gestamp totdat julle hulle weggedryf het. 22Maar Ek gaan my kleinvee red. Hulle sal nie meer uitgelewer wees as buit nie. Ek gaan regverdig oordeel tussen skaap en skaap. 23Ek gaan vir hulle net een herder aanstel, en hy sal vir hulle sorg: my dienaar Dawid. Hy sal vir hulle sorg, hy sal vir hulle 'n herder wees. 24Ek, die Here, sal hulle God wees, en my dienaar Dawid sal oor hulle regeer. Ek, die Here, het dit gesê. 25Ek sal met hulle 'n verbond sluit wat vir hulle vrede sal bring. Ek sal die roofdiere uitroei uit die land sodat my kleinvee veilig kan wees in die weiveld en in die bosse kan slaap. 26Ek maak hulle en alles rondom my heuwel voorspoedig; Ek laat die reëns val op die regte tyd, reëns wat voorspoed sal bring. 27Die bome sal hulle vrugte lewer en die grond sy opbrengs, en my volk sal veilig wees in hulle land. Wanneer Ek die juk wat op hulle gedruk het, stukkend breek en hulle red uit die mag van dié wat slawe wou maak van hulle, sal hulle besef dat Ek die Here is. 28Hulle sal nie weer die buit van ander nasies word nie en nie meer deur roofdiere opgevreet word nie. Hulle sal veilig woon en vir niemand hoef bang te wees nie. 29Ek gee hulle 'n land wat beroemd sal word vir sy vrugbaarheid; hulle sal nie weer deur hongersnood geteister word nie en hulle sal nie weer deur ander nasies verneder word nie. 30Hulle sal besef dat Ek, die Here hulle God, by hulle is en dat hulle my volk Israel is,” sê die Here my God.
31“Julle is my kleinvee, julle is die volk vir wie Ek sorg, en Ek is julle God,” sê die Here my God.

Currently Selected:

ESEGIËL 34: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy