YouVersion Logo
Search Icon

ESEGIËL 23

23
Samaria en Jerusalem het dieselfde pad geloop
1Die woord van die Here het tot my gekom: 2“Mens, daar was twee vrouens, dogters van dieselfde ma. 3Hulle was al onsedelik in Egipte, toe hulle jonk was. Dáár is hulle borste al betas, dáár, toe hulle nog jongmeisies was, is daar al aan hulle borste gevat. 4Die oudste se naam was Ohola, en haar suster was Oholiba. Hulle het aan My behoort en hulle het seuns en dogters gehad. Ohola se naam was eintlik Samaria en Oholiba s'n was Jerusalem. 5Ohola was ontrou aan My en het gesmag na haar minnaars, die Assiriërs. Hulle was vegters, 6goewerneurs en ampsdraers wat pers klere gedra het, almal uitgesoekte manne, ruiters te perd. 7Sy het gewillig met hulle omgegaan, met al die beste Assiriërs. Sy het haar verontreinig met almal na wie sy gesmag het, met al hulle afgode. 8Sy het haar onsedelikheid waarmee sy in Egipte begin het, nie laat vaar nie. Hulle het toe sy nog jonk was, by haar geslaap, aan haar borste gevat toe sy nog 'n jongmeisie was. Hulle het hulle luste laat botvier met haar. 9Daarom het Ek haar oorgegee in die mag van haar minnaars, in die mag van die Assiriërs na wie sy gesmag het. 10Hulle het haar klere uitgetrek, haar seuns en dogters weggevat en haar toe met die swaard doodgemaak. Die straf wat sy ondergaan het, het van haar 'n voorbeeld gemaak wat vrouens moes afskrik.
11“Haar suster Oholiba het dit alles gesien. Maar haar wellus en haar onsedelikheid was nog erger as dié van haar suster. 12Sy het gesmag na die Assiriërs, goewerneurs, ampsdraers, vegters met pragtige klere aan, ruiters te perd, almal uitgesoekte manne. 13Ek het gesien hoe sy haar verontreinig. Die twee susters het dieselfde pad geloop. 14Maar Oholiba het met haar onsedelikheid nog verder gegaan. Sy het mansfigure teen 'n muur afgeteken gesien, afbeeldings van Galdeërs, met 'n rooi kleurstof geteken; 15hulle het lendedoeke om die heupe gehad en oorhangende tulbande op die koppe; almal het na offisiere gelyk en dit het gelyk of hulle Babiloniërs kon wees, afkomstig uit Galdeërland. 16Toe sy hulle sien, het sy na hulle gesmag; sy het boodskappers na hulle toe in Galdeërland gestuur, 17en die Babiloniërs het na haar toe gekom en by haar geslaap en haar verontreinig met hulle onsedelikheid. Maar nadat sy van hulle onrein geword het, het sy 'n teësin in hulle gekry.
18“Omdat sy so openlik onsedelik was en haar klere vir almal uitgetrek het, het Ek ook 'n teësin in haar gekry, net soos in haar suster. 19Sy het immers aangegaan met haar onsedelikheid en haar rondlopery wat al in haar jeug in Egipte bestaan het, nie laat vaar nie. 20Sy het gesmag na die wellustelinge onder hulle wat so goed bedeeld was soos donkiehingste en perdehingste. 21Ja, jy het bly terugverlang na jou afstootlike gedrag in jou jeug toe die Egiptenaars jou borste betas, jou jeugdige borste gestreel het.
22“Daarom, Oholiba,” so sê die Here my God, “gaan Ek nou jou minnaars in wie jy 'n teësin gekry het, teen jou aanhits, Ek bring hulle van alle kante af na jou toe; 23die Babiloniërs, al die Galdeërs, die mense van Pekod, Soa en Koa, en al die Assiriërs saam met hulle, uitgesoekte manne, almal goewerneurs en ampsdraers, offisiere en vooraanstaande mense, almal te perd. 24Hulle sal jou uit die noorde oorval met strydwaens en groot leërmagte. Toegerus met klein en groot skilde en met helms, sal hulle rondom teen jou stelling inneem. Ek gee jou aan hulle oor om jou te straf, en hulle sal jou straf volgens hulle gebruike. 25Ek gee my woede teen jou vrye teuels: hulle sal hulle op jou wreek en jou neus en jou ore afsny. Wat van jou inwoners oor is, sal met die swaard doodgemaak word. Hulle sal jou seuns en jou dogters vat, en wat van jou oorbly, sal verbrand word. 26Hulle sal jou klere uittrek en jou juwele vat. 27Ek gaan 'n end maak aan jou aanstootlike gedrag, jou onsedelikheid wat jy al in Egipte bedryf het. Jy sal nie meer na minnaars kyk nie en nie meer aan Egipte dink nie.”
28So sê die Here my God: “Ek gee jou oor in die mag van dié wat jy haat, dié in wie jy 'n weersin gekry het. 29Hulle sal hulle haat teen jou laat geld, hulle sal alles vat waarvoor jy gewerk het en jou kaal, sonder klere los. Almal sal jou onsedelike naaktheid sien. Jou afstootlike gedrag, jou onsedelikheid 30doen dit aan jou. Jy het in jou ontrou ander nasies nagevolg en jou met hulle afgode verontreinig. 31Jy het jou suster se voorbeeld gevolg, en daarom het Ek jou die beker laat drink wat sy moes drink.”
32So sê die Here my God:
“Jy sal die beker drink wat jou suster moes drink,
'n diep, wye beker.
Jy sal bespot en uitgelag word,
want daar is baie in die beker.
33Jy sal jou vol drink en dronk word van swaarkry;
die beker wat jou suster Samaria moes drink,
is 'n beker vol angs en skrik.
34Jy sal hom leeg drink, alles opdrink,
jy sal aan sy skerwe knaag,
jy sal jou borste stukkend skeur.
Ek, die Here, het gepraat,”
sê die Here my God.
35So sê die Here my God: “Omdat jy My vergeet het en jou rug vir My gedraai het, sal jy die straf vir jou aanstootlike gedrag en jou onsedelikheid dra.”
36Die Here het vir my gesê: “Mens, oordeel jy oor Ohola en Oholiba. Vertel vir hulle van hulle afskuwelike dade. 37Hulle het owerspel gepleeg en daar is bloed aan hulle hande. Hulle het owerspel gepleeg met hulle afgode en hulle het boonop hulle kinders wat hulle vir My in die wêreld gebring het, as offers laat verbrand. 38Hulle het My ook nog dít aangedoen: hulle het my heiligdom ontwy en op dieselfde dag my sabbatte ontheilig; 39hulle het hulle kinders vir hulle afgode geslag en op dieselfde dag in my heiligdom gekom en dit ontwy. Dit is wat hulle binne-in my huis gedoen het.
40“Ja, jy het mans van ver af laat kom, jy het boodskappers na hulle toe gestuur en hulle het gekom. Jy het gebad, jou oë geverf en jou juwele aangesit. 41Jy het op 'n pragtige bed gesit en voor jou was 'n gedekte tafel waarop jy my wierook en my olie gesit het.
42“Die stemme van 'n sorgelose klomp was rondom haar. By dié manne is van al die baie mense wat daar is, ook nog mense van Seba uit die woestyn bygebring, en dié het vir die twee susters armbande aangesit en op hulle koppe pragtige kranse. 43Ek het gedink: kom hulle owerspel pleeg met 'n vrou wat klaar opgebruik is? Het sy nou 'n gewone hoer geword? 44Hulle het na haar toe gekom soos 'n mens na 'n hoer toe kom. So het hulle na Ohola en Oholiba, die afstootlike vrouens toe gekom. 45Regverdige manne moet oor dié vrouens oordeel volgens die bepaling oor owerspel en die bepaling oor bloedvergieting, want hulle het owerspel gepleeg en daar is bloed aan hulle hande.”
46So sê die Here my God: “Roep 'n volksvergadering teen hulle saam, maak van hulle iets waaroor mense met afgryse vervul word en laat hulle geplunder word. 47Die volksvergadering moet hulle met klippe doodgooi en hulle met byle in stukke kap; hulle seuns en dogters moet doodgemaak en hulle huise verbrand word. 48Ek wil 'n end maak aan die afstootlike gedrag in die land en al die vrouens afskrik dat hulle hulle nie so afstootlik gedra nie.
49“Julle afstootlike gedrag sal op julle eie kop afkom, julle sal die straf dra vir julle sonde met julle afgode. Dan sal julle besef dat Ek die Here God is.”

Currently Selected:

ESEGIËL 23: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy