YouVersion Logo
Search Icon

EKSODUS 36

36
1“Besaleël, Oholiab en al die ander vakmanne vir wie die Here die vaardigheid en verstand gegee het om te weet hoe om al die werk aan die heiligdom uit te voer, moet die werk doen soos die Here beveel het.”
Die volk gee meer as wat nodig is
2Moses het toe vir Besaleël en Oholiab geroep en al die ander vakmanne vir wie die Here die vaardigheid gegee het, almal wat aangebied het om die werk te doen. 3Hulle het van Moses al die offergawes ontvang wat deur die Israeliete gebring is om die heiligdom op te rig.
Die volk het elke oggend nog vrywillige offers na Moses toe gebring. 4Toe het al die vakmanne wat die werk aan die heiligdom moes doen, elkeen van sy afdeling van die werk af, 5vir Moses kom sê: “Die volk bring meer as wat nodig is om die werk te doen wat die Here beveel het.”
6Toe het Moses in die kamp rond laat weet dat die mense nie meer iets as offergawe vir die heiligdom moet gee nie, en eers toe het die volk opgehou bring. 7Daar was meer as genoeg om al die werk te doen, daar was selfs nog oor.
Die tabernakel
(Vgl. Eks. 26:1-37)
8Die begaafde vakmanne het met die werk aan die tabernakel begin. Hulle het tien stukke materiaal van goed geweefde linne en blou, pers en bloedrooi wolstof gebruik en gerubs daarop uitgeborduur.
9Die lengte van elke stuk materiaal was veertien meter en die breedte twee meter, almal was presies ewe groot.
10Die stukke materiaal is vyf-vyf aanmekaar gewerk. 11Daar is toe blou lissies vasgewerk aan die een kant van die een strook materiaal en so ook aan die een kant van die ander strook, 12vyftig vir die een en vyftig vir die ander strook. Die lissies was presies reg teenoor mekaar. 13Hulle het vyftig goue hakies gemaak om die twee stelle doeke aanmekaar te hou sodat die tabernakel een geheel kon wees.
14Daar is 'n tent van bokhaarmateriaal gemaak om oor die tabernakel te sit. Elf stukke bokhaarmateriaal is gebruik 15en elke stuk materiaal was vyftien meter lank en twee meter breed. Die elf stukke was almal presies ewe groot. 16Hulle het eers vyf stukke aanmekaar gewerk en toe die ses ander stukke. 17Hulle het daarna vyftig lissies gemaak vir die een kant van die een strook en so ook vyftig vir die een kant van die ander strook. 18Hulle het vyftig bronshakies gemaak om die tent aanmekaar te hou sodat dit een geheel kon wees.
19Hulle het verder ook 'n seil van rooigekleurde ramsvelle gemaak en 'n seil van gebreide vel daarbo-oor gespan. 20Hulle het rame van doringhout vir die tabernakel gemaak om dit regop te hou. 21Elke raam was vyf meter lank en 'n driekwart meter breed. 22Daar was twee tappe vir elke raam om die rame aanmekaar te voeg. Al die rame vir die tabernakel is so gemaak. 23Hulle het twintig rame gebruik vir die raamwerk aan die suidekant, die regterkant van die tabernakel. 24Die mense het verder ook veertig silwervoetstukke gemaak en onder die twintig rame gesit, twee voetstukke onder elke raam, een by elke tap. Onder elke raam was dus twee voetstukke, by sy twee tappe.
25Vir die ander kant van die tabernakel, die noordekant, het hulle ook twintig rame gemaak. 26Vir hulle was daar veertig silwervoetstukke, twee voetstukke vir elke raam. 27Hulle het vir die agterkant, die westekant van die tabernakel, ses rame gemaak. 28Hulle het verder nog twee rame gemaak vir die hoeke aan die agterkant van die tabernakel. 29Hierdie rame was versterk van onder tot bo, tot by die boonste ring. Dit was die hoekrame. 30Daar was dus ag rame met hulle sestien silwervoetstukke, twee voetstukke vir elke raam.
31Hulle het dwarslatte van doringhout gemaak, vyf vir die rame van die een kant van die tabernakel 32en vyf vir dié van die ander kant, en ook nog vyf dwarslatte vir die agterkant, die westekant van die tabernakel. 33Daar was 'n middelste dwarslat wat in die middel van die rame dwarsdeur geloop het van die een kant af tot by die ander kant.
34Die rame is met goud oorgetrek en vir hulle is goue ringe gemaak om die dwarslatte deur te steek. Die dwarslatte is ook met goud oorgetrek.
35Hulle het 'n voorhangsel gemaak van goed geweefde linne en van blou, pers en bloedrooi wolstof. Gerubs is daarop uitgeborduur. 36Hulle het toe, om die voorhangsel op te hang, vier doringhoutstyle gemaak en dit met goud oorgetrek. Daar was goue kramme aan die style, en hulle het ook vier silwervoetstukke daarvoor gegiet.
37Hulle het 'n afskorting vir die deur van die tent gemaak van goed geweefde linne en van blou, pers en bloedrooi wolstof. Dit was borduurwerk. 38Vir hierdie afskorting het hulle vyf style gemaak met kramme daaraan. Die bokante van die style was met goud oorgetrek, so ook die gordynstokke. Die vyf voetstukke was van brons.

Currently Selected:

EKSODUS 36: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy