YouVersion Logo
Search Icon

ESTER 6

6
Die koning vereer vir Mordegai
1Daardie nag kon die koning nie slaap nie en het hy opdrag gegee dat die annale gebring en aan hom voorgelees moet word. 2Daarin is toe opgeteken gevind dat dit Mordegai was wat vir Bigtan en Teres ontmasker het, twee paleisbeamptes van die koning wat poortwagte was en wat saamgesweer het om koning Ahasveros te vermoor. 3Toe vra die koning: “Watter eerbewys en erkenning het Mordegai hiervoor ontvang?”
Die kamerpersoneel van die koning het geantwoord: “Hy het niks ontvang nie.”
4Toe vra die koning: “Wie is in die voorhof?”
Net toe kom Haman aan in die buitenste voorhof van die paleis om by die koning aan te beveel dat Mordegai opgehang moet word aan die galg wat Haman vir hom opgerig het. 5Die dienaars van die koning sê toe vir hom: “Haman staan in die voorhof.”
Toe sê die koning: “Laat hy inkom!”
6Haman het binnegekom en die koning het hom gevra: “Wat moet gedoen word met iemand aan wie die koning baie graag eer wil bewys?”
Haman het gedink: aan wie anders as aan my sou die koning eer wou bewys?
7Toe antwoord hy die koning: “Met die man aan wie die koning graag eer wil bewys, moet soos volg gehandel word: 8daar moet 'n koninklike kleed gebring word wat die koning self aangehad het en 'n perd waarop die koning self gery het, 'n perd met die koninklike embleem op sy kop. 9Die kleed en die perd moet oorhandig word aan een van die hoogste amptenare van die koning, en dié moet die kleed aantrek vir die man aan wie die koning graag eer wil bewys. Die amptenare moet die man dan op die perd oor die stadsplein laat ry en voor hom uitroep: So word gemaak met iemand aan wie die koning graag eer wil bewys!”
10Toe sê die koning vir Haman: “Vat dadelik die kleed en die perd en maak soos jy voorgestel het met die Jood Mordegai wat in die poort van die paleis sit. Jy moet niks nalaat van wat jy voorgestel het nie.”
11Haman het toe die kleed en die perd gevat, die kleed vir Mordegai aangetrek, hom oor die stadsplein laat ry en voor hom uitgeroep: “So word gemaak met iemand aan wie die koning graag eer wil bewys!”
12Daarna is Mordegai terug na die poort van die paleis toe, maar Haman is haastig huis toe, ontnugter en skaam. 13Hy het vir sy vrou Seres en al sy vriende alles vertel wat met hom gebeur het. Sy raadgewers en sy vrou Seres sê toe: “As dit so is dat Mordegai, voor wie jy hierdie eerste vernedering ondergaan het, tot die Joodse volk behoort, sal jy nie kan standhou voor hom nie. Voor hom sal jy heeltemal ondergaan.”
14Terwyl hulle nog met hom praat, kom die paleisbeamptes van die koning en neem vir Haman vinnig na die onthaal toe wat Ester voorberei het.

Currently Selected:

ESTER 6: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy