YouVersion Logo
Search Icon

AMOS 4

4
1Luister na hierdie woord,
vrouens wat op Samariaberg lekker lewe,
lewe soos die koeie van Basan,
julle deur wie die swakkes verdruk
en die armes mishandel word,
julle wat vir julle mans sê:
“Bring wyn dat ons kan drink!”
2Die Here my God wat heilig is, het 'n eed afgelê:
Pas op, daar kom dae oor julle dat julle met hake opgetel sal word,
dat julle van agter met haakdorings aangedryf sal word.
3Elke vrou sal reg voor haar uit oor die afgebreekte stadsmuur loop,
julle sal na Hermon toe uitgedryf word, sê die Here.
4Kom na Bet-El toe as julle wil sonde doen,
na Gilgal toe as julle nog meer sonde wil doen.
Bring julle offers vroegmôre,
julle tiendes op die derde dag.
5Verbrand die ongesuurde brood as dankoffer,
kondig julle vrywillige offers aan,
laat die mense dit hoor.
So hou julle mos daarvan, Israeliete,
sê die Here my God.
Maak jou klaar om voor jou God te kom verskyn
6Ek het hongersnood in al julle stede laat kom,
broodsgebrek in al julle dorpe,
maar julle het julle nie tot My bekeer nie, sê die Here.
7Ek het die reën drie maande voor oestyd
van julle af weggehou;
Ek het laat reën oor een stad
en oor 'n ander die reën laat wegbly;
die een stuk grond het goed reën gekry
en die ander waar dit nie gereën het nie, het uitgedroog.
8Twee, selfs drie stede se mense het hulle na 'n stad toe aangesleep
om water te kry, sonder om hulle dors te les,
en tog het julle julle nie tot My bekeer nie, sê die Here.
9Ek het julle gestraf met brandkoring en met heuningdou,
Ek het julle tuine en wingerde laat verdroog,
sprinkane het julle vyebome en julle olyfbome kaalgevreet,
en tog het julle julle nie tot My bekeer nie, sê die Here.
10Ek het plae soos dié van Egipte na julle toe gestuur;
Ek het julle jongmans en hulle spogperde
met die swaard doodgemaak;
Ek het die stank van julle laer in julle neuse laat opwalm,
en tog het julle julle nie tot My bekeer nie, sê die Here.
11Ek het julle stede verwoes soos Ek Sodom en
Gomorra geheel en al verwoes het,
julle het soos 'n stuk hout geword
wat uit die vuur uit geruk is,
en tog het julle julle nie tot My bekeer nie, sê die Here.
12Daarom sal Ek dit alles weer aan jou doen, Israel!
En omdat Ek jou dít sal aandoen, Israel,
maak jou klaar om voor jou God te kom verskyn!
13Jy moet besef:
Hy wat berge vorm en die wind skep,
Hy wat sy gedagtes aan die mens bekend maak,
Hy wat die dagbreek donker maak,
Hy wat oor die hoogtes van die aarde gaan,
sy Naam is Here, almagtige God!

Currently Selected:

AMOS 4: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy