YouVersion Logo
Search Icon

TITUS 3

3
Die Christelike gedrag
1Herinner die mense nadruklik daaraan dat hulle hulle aan owerheid en gesag moet onderwerp, daaraan gehoorsaam moet wees en bereid moet wees om alles te doen wat goed is. 2Hulle moet van niemand kwaadpraat nie en nie rusie soek nie. Hulle moet inskiklik wees en altyd bedagsaam teenoor almal.
3Vroeër was ons ook onverstandig, ongehoorsaam, op die verkeerde pad, verslaaf aan allerlei begeertes en singenot; ons het ons lewe in kwaadwilligheid en jaloesie deurgebring; ons was haatlik en het mekaar gehaat. 4Maar toe het die goedheid van God ons Verlosser en sy liefde vir die mens verskyn. 5Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee. 6God het die Heilige Gees oorvloedig op ons uitgestort deur Jesus Christus ons Verlosser. 7So is ons dan deur sy genade vrygespreek en het ons erfgename geword van die ewige lewe wat ons verwag.
8Dit is 'n betroubare woord. Daarom wil ek hê dat jy van hierdie dinge met groot nadruk moet getuig, sodat dié wat tot geloof in God gekom het, hulle op goeie werk kan toelê, werk wat goed en nuttig is vir die mense. 9Maar jy moet jou nie inlaat met dwase strydvrae en geslagsregisters en met getwis en stryery oor die wet van Moses nie, want dit is nutteloos en sinloos. 10Met iemand wat na twee vermanings nog skeuring veroorsaak, moet jy niks te doen hê nie, 11omdat jy weet dat so 'n man op die verkeerde pad is. Deur sy sonde bring hy die oordeel oor homself.
Besondere opdragte en groete
12Sodra ek vir Artemas of Tigikus na jou toe stuur, moet jy probeer om na my toe te kom in Nikopolis, want ek het besluit om die winter daar oor te bly. 13Doen ook jou bes om vir Senas, die regsgeleerde, en Apollos voort te help op hulle reis, en sorg dat hulle niks kortkom nie.
14Ons mense moet ook leer om met eerlike werk in die noodsaaklike lewensbehoeftes te voorsien. Dan sal hulle lewe nie onvrugbaar wees nie.
15Almal wat hier by my is, stuur vir jou groete. Gee ons groete aan ons vriende in die geloof.
Die genade sal by julle almal wees!

Currently Selected:

TITUS 3: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy