YouVersion Logo
Search Icon

DIE OPENBARING 22

22
1Toe het die engel my die rivier met die water van die lewe gewys. Dit is helder soos kristal en dit stroom uit die troon van God en van die Lam uit. 2Tussen die hoofstraat van die stad aan die een kant en die rivier aan die ander kant staan die boom van die lewe. Hy dra twaalf keer per jaar vrugte: elke maand lewer hy sy vrugte. Die blare van die boom bring genesing vir die nasies.
3Daar sal niks meer wees wat deur God vervloek is nie. Die troon van God en van die Lam sal in die stad wees, en sy dienaars sal Hom dien. 4Hulle sal Hom sien, en sy Naam sal op hulle voorkoppe wees. 5Daar sal nie meer nag wees nie. Die mense het nie die lig van 'n lamp en die lig van die son nodig nie, omdat die Here God hulle sal verlig, en hulle sal tot in alle ewigheid regeer.
Die wederkoms van Jesus
6Toe sê die engel vir my: “Hierdie woorde is betroubaar en waar. Die Here God, wat sy Gees aan die profete gee, het sy engel gestuur om vir sy dienaars te wys wat binnekort moet gebeur.”
7Jesus sê toe: “Kyk, Ek kom gou! Geseënd is elkeen wat die woorde van hierdie profetiese boek ter harte neem.”
8Dit is ek, Johannes, wat dit alles gehoor en gesien het. Toe ek dit gehoor en gesien het, het ek voor die voete van die engel wat dit alles vir my gewys het, op my knieë neergeval om hom te aanbid.
9“Pas op, moenie!” sê hy toe vir my. “Ek is 'n mededienaar van jou en van jou medegelowiges, die profete en dié wat die woorde van hierdie boek ter harte neem. Aanbid God!”
10Verder sê hy vir my: “Moenie die woorde van hierdie profetiese boek geheim hou nie, want die eindtyd is naby. 11Wie kwaad doen, moet voortgaan om kwaad te doen, en wie vuil is, moet vuil bly; maar wie doen wat reg is, moet voortgaan om reg te doen, en wie heilig is, moet heilig bly.”
12Jesus sê toe weer: “Kyk, Ek kom gou! Ek bring die loon saam met My om elkeen te beloon vir wat hy gedoen het. 13Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde.
14“Geseënd is dié wat hulle klere was, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en deur die poorte in die stad kan ingaan. 15Buitekant is die dwaalleraars, die bedrieërs en die onsedelikes, die moordenaars en die afgodsdienaars en almal wat valsheid liefhet en doen.
16“Ek, Jesus, het my engel gestuur om dit alles aan julle in die gemeentes te betuig. Ek is die Wortel, dit is, die Nakomeling van Dawid. Ek is die helder Môrester.”
17Die Gees en die bruid sê: “Kom!”
En elkeen wat dit hoor, moet sê: “Kom!”
En elkeen wat dors het, moet kom;
elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!
18Ek betuig aan almal wat die woorde van hierdie profetiese boek hoor: As iemand iets hieraan byvoeg, sal God vir hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is; 19en as iemand een van die woorde van hierdie profetiese boek wegneem, sal God sy deel aan die boom van die lewe en aan die heilige stad wegneem waarvan in hierdie boek geskrywe is.
20Hy wat dit alles getuig, sê:
“Ja, Ek kom gou!”
Amen! Kom, Here Jesus!
21Die genade van die Here Jesus sal by almal wees.

Currently Selected:

DIE OPENBARING 22: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy