YouVersion Logo
Search Icon

PSALMS 74

74
Dink tog aan u verbond
1'n Gedig van Asaf.
Waarom, o God, hou U aan om ons te verstoot?
Waarom is U kwaad vir die kudde wat aan U behoort?
2Dink tog aan u gemeente
wat U lank gelede u eiendom gemaak het,
die volk wat U vir Uself as besitting verkry het,
Sionsberg waarop U gewoon het!
3Kom loop tog deur die plek wat so lank al in puin lê,
die heiligdom wat die vyand so totaal verwoes het.
4Die oorwinningskreet van u vyande het in die plek van samekoms weerklink,
en hulle het hulle vaandel daar opgerig.
5Dit het gelyk soos wanneer iemand met 'n byl bosse skoonkap.
6Hulle het al die houtsneewerk
met byl en koevoet stukkend geslaan.
7Hulle het u heiligdom aan die brand gesteek,
die woonplek van u Naam tot op die grond afgebreek.
8Hulle het vir hulleself gesê: “Ons sal alles vernietig.”
En hulle het elke plek van samekoms in die land aan die brand gesteek.
9U openbaar U nie meer aan ons nie,
daar is geen profeet meer nie,
niemand onder ons wat weet hoe lank dit nog gaan duur nie.
10Hoe lank, o God, sal ons teëstanders ons nog verneder?
Sal die vyand u Naam vir altyd bly belaster?
11Waarom help U ons nie?
Waarom lig U nie u hand op en vernietig die vyand nie?
12God is van altyd af my koning,
dit is Hy wat op die aarde redding bring.
13Dit is U wat deur u mag die see onstuimig gemaak het,
U wat die koppe van die monsters in die see vermorsel het.
14U wat die koppe van die Leviatan verpletter het
en hom vir die haaie gegee het,
15U wat fontein en stroom laat uitbreek het,
U wat standhoudende riviere laat opdroog het.
16Dit is U aan wie dag en nag behoort,
U wat aan die son en die maan hulle plek gegee het,
17U wat al die seisoene van die aarde vasgestel het;
somer en winter is die werk van u hand.
18Dink tog hieraan: die vyand spot met U, Here,
'n barbaarse volk belaster u Naam.
19Moet tog nie dié wat deur U onderrig is,
aan hierdie ondiere uitlewer nie,
moet tog nie u verdrukte volk vir goed vergeet nie!
20Dink tog aan u verbond,
want selfs in die uithoeke van die land is daar verdrukking.
21Moenie dat die verdrukte teleurgestel omdraai nie,
red die hulpelose en die arme, laat hulle u Naam prys.
22Kom tog, o God! Laat geld tog u reg.
Dink tog daaraan hoe u eer
dag vir dag deur barbare geskend word.
23Moet dit tog nie ongemerk laat verbygaan nie:
die geskreeu van u teëstanders,
die aanhoudende rumoer van u vyande.

Currently Selected:

PSALMS 74: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy