YouVersion Logo
Search Icon

SPREUKE 14

14
1'n Wyse vrou sorg vir haar huis;
'n vrou sonder wysheid breek alles af.
2Wie opreg lewe, dien die Here;
wie krom paaie loop, het nie eerbied vir die Here nie.
3Die verwaande woorde van die dwaas bring vir hom straf;
die woorde van wyse mense beskerm hulle.
4As daar nie osse is nie, is die voerkrip leeg;
met net een goeie os bring jy 'n groot oes in.
5'n Betroubare getuie lieg nie;
'n vals getuie vertel een leuen na die ander.
6Al soek 'n ligsinnige mens wysheid, hy kry dit nie;
'n verstandige mens doen maklik kennis op.
7Vermy 'n dwase mens;
jy sal nie by hom leer om verstandig te praat nie.
8Die wysheid van 'n verstandige mens wys vir hom 'n duidelike koers aan;
die dwaasheid van 'n dwase mens maak alles vals.
9Die skuldoffer wat deur dwase gebring word, maak hulle bespotlik;
mense wat opreg lewe, geniet die guns van God.
10Net 'n mens self ken die bitterheid van sy eie gemoed,
en ook in sy vreugde kan niemand anders voluit deel nie.
11Die goddelose en sy nageslag sterf uit;
die opregtes het 'n groot nageslag.
12Daar is 'n lewenswyse wat vir 'n mens reg kan lyk,
maar die uiteinde daarvan is die dood.
13'n Mens kan lag terwyl hy treur,
die uiteinde van vreugde kan kommer wees.
14'n Onbetroubare mens kry sy verdiende loon;
'n goeie mens ontvang meer as sy beloning.
15Wie ervaring kortkom, glo alles wat gesê word;
'n verstandige mens oorweeg elke tree wat hy gee.
16Wie wysheid het, is versigtig en vermy die kwaad;
wie wysheid kortkom, is roekeloos en selfversekerd.
17Wie kort van draad is, begaan dwaashede;
'n agterbakse mens maak hom gehaat.
18Mense wat ervaring kortkom, sit met hulle eie dwaasheid;
verstandige mense word met kennis bekroon.
19Slegte mense moet voor goeies buig,
goddeloses moet buig wanneer 'n regverdige by sy huis uitkom.
20'n Arm mens word selfs deur sy buurman verstoot;
'n ryk man het baie vriende.
21Wie sy naaste verag, doen sonde;
wie medelye het met die mens in nood, met hom gaan dit goed.
22Wie altyd op kwaad uit is, is op die verkeerde pad;
wie goed doen, geniet liefde en trou.
23Harde werk bring beloning;
om net te praat, bring gebrek.
24Wyse mense word bekroon met rykdom;
die dwaasheid van dwase mense lei na meer dwaasheid.
25'n Betroubare getuie red lewens;
die een wat leuens kwytraak, maak alles vals.
26Wie die Here dien, het daarin 'n veilige toevlug,
en ook sy kinders vind daar skuiling.
27Wie die Here dien, vind daarin 'n bron van lewe;
dit laat jou die strikke van die dood ontkom.
28'n Koning met baie onderdane is hoog in aansien;
een met min onderdane gaan te gronde.
29'n Geduldige mens is baie verstandig;
een wat kort van draad is, stel sy dwaasheid ten toon.
30'n Kalm gemoed hou die liggaam gesond;
hartstog vreet 'n mens op.
31Wie 'n arm mens verdruk, beledig sy Maker;
wie hom oor 'n arm mens ontferm, eer God.
32Die goddelose kom tot 'n val deur sy boosheid;
die regverdige het 'n toevlug, ook in sy dood.
33In 'n verstandige gemoed pas die wysheid goed in;
by dwaasheid is dit nie tuis nie.
34Gehoorsaamheid aan die Here laat 'n volk sterk staan;
sonde bring skande oor 'n volk.
35'n Verstandige amptenaar geniet die guns van die koning;
een wat skande maak, maak hom kwaad.

Currently Selected:

SPREUKE 14: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy