YouVersion Logo
Search Icon

MIGA 2

2
Ek beplan onheil teen hierdie mense
1Ellende wag vir julle
wat rampe teen ander beplan,
wat op die bed lê en dink aan kwaad om te doen,
wat dit vroeg in die môre gaan uitvoer
omdat hulle die mag in die hande het.
2Hulle begeer 'n stuk grond en vat dit,
huise, en lê beslag daarop.
Hulle kul 'n man uit sy huis uit,
'n mens uit sy besitting uit.
3Daarom, so sê die Here:
Ek beplan 'n ramp teen hierdie mense,
hulle sal dit nie kan ontwyk nie.
Hulle sal nie meer regop kan loop nie,
want dit sal 'n tyd van swaarkry wees.
4Daardie dag sal hulle 'n spotlied oor jou maak,
hulle sal 'n klaaglied sing en sê:
“Ons is geheel en al vernietig,
my volk se besitting is opgedeel,
dit is van ons afgevat,
ons land is onder verraaiers verdeel.”
5Daarom sal jy nie meer iemand in die gemeente van die Here hê
om jou land te verdeel nie.
6Dié wat maak of hulle profete is, sê:
“Moenie jý 'n profeet probeer wees nie,
moenie oor dié dinge praat nie.
Daar sal nie ellende oor ons kom nie.”
7Volk van Jakob, moet daar gevra word:
“Is die Gees van die Here kwaad?
Doen Hy sulke dinge?”
Belowe Ek nie goeie dinge
vir dié wat opreg lewe nie?
8My volk het in die afgelope tyd 'n vyand geword
en in opstand gekom;
julle stroop die mooi klere af
van dié wat houtgerus by julle verbystap
soos soldate van die slagveld af.
9Julle jaag die vrouens van my volk
uit hulle gerieflike huise uit,
julle vat die blywende gerief wat Ek hulle gegee het,
van hulle kinders af weg.
10Maak klaar, gee pad!
Dit is nie julle blyplek nie,
want dit is onrein en verwoes,
onherstelbaar verwoes!
11Wanneer 'n rondloper, 'n bedrieër lieg en sê:
“As profeet beloof ek aan julle wyn en bier,”
sal hy vir hierdie volk dié profeet wees.
Die Here sal voor hulle wees
12Ek sal julle almal bymekaarmaak, Jakob,
Ek sal dié vergader wat van Israel oorgebly het,
Ek sal hulle bymekaarbring soos skape in 'n kraal,
soos 'n groot kudde in die weiveld,
die wêreld sal dreun van mense.
13Een wat uitbreek, sal hulle lei,
hulle sal uitbreek en deur die poort gaan,
hulle sal daar uitgaan,
hulle Koning sal voor hulle uitgaan,
die Here sal voor hulle wees.

Currently Selected:

MIGA 2: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy