YouVersion Logo
Search Icon

MATTEUS 26:36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75

MATTEUS 26:36 AFR83

Daarna kom Jesus met sy dissipels by 'n plek met die naam Getsemane, en Hy sê vir hulle: “Sit hier terwyl Ek daar gaan bid.”

MATTEUS 26:37 AFR83

Hy het vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saamgeneem. Toe het Hy bedroef en beangs geword

MATTEUS 26:38 AFR83

en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak saam met My.”

MATTEUS 26:39 AFR83

Hy het 'n entjie verder gegaan en daar gekniel met die gesig teen die grond en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.”

MATTEUS 26:40 AFR83

Daarna kom Hy na die dissipels toe terug en kry hulle aan die slaap. Hy sê toe vir Petrus: “Kon julle nie eens een uur lank saam met My waak nie?

MATTEUS 26:41 AFR83

Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is gewillig, maar die vlees is swak.”

MATTEUS 26:42 AFR83

'n Tweede keer het Hy gaan bid en gesê: “My Vader, as hierdie lydensbeker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied.”

MATTEUS 26:43 AFR83

Toe Hy terugkom, kry Hy hulle weer aan die slaap, want van die vaak kon hulle nie hulle oë oophou nie.

MATTEUS 26:44 AFR83

Hy het hulle weer alleen laat bly en 'n derde keer gaan bid en dieselfde woorde gesê.

MATTEUS 26:45 AFR83

Toe kom Hy na die dissipels toe terug en sê vir hulle: “Slaap en rus julle nog? Die uur het gekom. Die Seun van die mens word in die hande van sondaars oorgegee.

MATTEUS 26:46 AFR83

Staan op, kom ons loop. Kyk, die man wat My verraai, is hier naby.”

MATTEUS 26:47 AFR83

Op daardie oomblik, terwyl Jesus nog praat, kom Judas, een van die twaalf, daar aan, en saam met hom was 'n groot klomp mense met swaarde en stokke. Hulle is deur die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk gestuur.

MATTEUS 26:48 AFR83

Die verraaier het met die manne 'n teken afgespreek. Hy het gesê: “Die een wat ek soen, dit is hy. Gryp hom!”

MATTEUS 26:49 AFR83

Hy het reguit na Jesus toe gegaan en gesê: “Goeiemôre, Rabbi,” en Hom gesoen.

MATTEUS 26:50 AFR83

Maar Jesus sê vir hom: “Vriend, doen wat jy gekom het om te doen!” Toe kom hulle vorentoe, gryp vir Jesus en neem Hom gevange.

MATTEUS 26:51 AFR83

Een van dié wat saam met Jesus was, gryp toe sy swaard en trek dit uit. Hy slaan na die slaaf van die hoëpriester en kap sy oor af.

MATTEUS 26:52 AFR83

Toe sê Jesus vir hom: “Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat na die swaard gryp, sal deur die swaard omkom.

MATTEUS 26:53 AFR83

Of dink jy Ek kan nie my Vader om hulp vra nie? Hy sal dadelik vir My meer as twaalf legioene engele beskikbaar stel.

MATTEUS 26:54 AFR83

Maar hoe sal die Skrif dan vervul word wat sê hoe die dinge moet gebeur?”

MATTEUS 26:55 AFR83

Dit was toe dat Jesus vir die klomp mense gesê het: “Was dit vir julle nodig om met swaarde en stokke uit te gaan om My te vang asof Ek 'n rower is? Dag vir dag het Ek in die tempel gesit en die mense geleer, en julle het My nie gevange geneem nie.

MATTEUS 26:56 AFR83

Maar dit alles het gebeur sodat die geskrifte van die profete vervul kan word.” Toe het al sy dissipels Hom in die steek gelaat en weggehardloop.

MATTEUS 26:57 AFR83

Die mense wat vir Jesus gevange geneem het, het Hom weggelei na Kajafas, die hoëpriester, waar die skrifgeleerdes en die familiehoofde bymekaargekom het.

MATTEUS 26:58 AFR83

Petrus het op 'n afstand agter Hom aan gegaan tot by die binnehof van die hoëpriester se woning. Hy het ingegaan en daar by die wagte gaan sit om te kyk hoe dit afloop.

MATTEUS 26:59 AFR83

Die priesterhoofde en die hele Joodse Raad het vals getuienis teen Jesus probeer kry sodat hulle Hom kon doodmaak.

MATTEUS 26:60 AFR83

Baie vals getuies het na vore gekom, en tog kon die Raad niks teen Hom vind nie. Eindelik het daar twee vorentoe gekom

MATTEUS 26:61 AFR83

en gesê: “Hierdie man het gesê: Ek kan die tempel van God afbreek en in drie dae weer opbou.”

MATTEUS 26:62 AFR83

Toe staan die hoëpriester op en sê vir Hom: “Verweer jy jou glad nie? Wat van die getuienis wat hierdie mense teen jou inbring?”

MATTEUS 26:63 AFR83

Maar Jesus het niks gesê nie. Die hoëpriester sê toe vir Hom: “Ek stel jou onder 'n eed by die lewende God dat jy vir ons moet sê: Is jy die Christus, die Seun van God?”

MATTEUS 26:64 AFR83

Jesus antwoord hom: “Dit is soos u sê. Daarby sê Ek vir julle: “Van nou af sal julle die Seun van die mens sien waar Hy aan die regterhand sit van Hom wat magtig is, en julle sal Hom sien kom op die wolke van die hemel. ”

MATTEUS 26:65 AFR83

Toe skeur die hoëpriester uit verontwaardiging sy klere en sê: “Hy het God gelaster. Waarvoor het ons nog getuies nodig? Daar het julle nou net die godslasterlike woorde gehoor.

MATTEUS 26:66 AFR83

Wat dink julle?” Hulle het geantwoord: “Hy verdien die dood!”

MATTEUS 26:67 AFR83

Toe het hulle in sy gesig gespoeg en Hom met die vuis geslaan. Hulle het Hom geklap

MATTEUS 26:68 AFR83

en gesê: “Jy is mos 'n profeet, Christus! Sê vir ons, wie het jou geslaan?”

MATTEUS 26:69 AFR83

Petrus het buite in die binnehof gesit toe 'n diensmeisie na hom toe kom en sê: “Jy was ook saam met Jesus die Galileër.”

MATTEUS 26:70 AFR83

Maar hy het dit voor almal ontken: “Ek weet nie waarvan jy praat nie.”

MATTEUS 26:71 AFR83

Hy gaan toe na die uitgang van die binnehof. Daar sien 'n ander diensmeisie hom en sê vir dié wat daar staan: “Hierdie man was saam met Jesus van Nasaret.”

MATTEUS 26:72 AFR83

Weer het Petrus dit ontken en met 'n eed gesê: “Ek ken die man nie!”

MATTEUS 26:73 AFR83

'n Rukkie later kom die manne wat daar staan, na Petrus toe en sê: “Dit is waar, jy is ook een van hulle. 'n Mens kan dit aan jou spraak hoor.”

MATTEUS 26:74 AFR83

Toe begin hy vloek, en hy sweer: “Ek ken die man nie!”

MATTEUS 26:75 AFR83

En op daardie oomblik het daar 'n haan gekraai. Toe val dit Petrus by wat Jesus gesê het: “Voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verloën.” En hy het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.

Free Reading Plans and Devotionals related to MATTEUS 26:36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75