YouVersion Logo
Search Icon

JEREMIA 49

49
Oor die Ammoniete
1Oor die Ammoniete. So sê die Here:
Het Israel dan nie seuns nie,
het hy niemand wat sy vyand verdryf nie?
Waarom het Milkom die gebied van Gad in besit geneem
en woon sý mense in Gad se stede?
2Daar kom 'n tyd, sê die Here,
dat Ek oorlog aankondig teen Rabba, die Ammonietestad.
Hy sal 'n verlate ruïneheuwel word
en sy buitedorpe sal afgebrand word.
Dan sal Israel dié verdryf wat hom verdryf het,
sê die Here.
3Huil, Gesbon, jy is verwoes, 'n puinhoop,
roep om hulp, vroue van Rabba,
trek rouklere aan en treur,
hardloop heen en weer tussen die landmure,
want Milkom word in ballingskap weggevoer
saam met sy priesters en sy amptenare.
4Wat beroem jy jou op valleie, weerspannige volk,
op jou waterryke vallei?
Jy vertrou op jou rykdom en jy sê:
“Wie sal my bykom?”
5Ek bring angs oor jou vir almal rondom jou,
sê die Here God, die Almagtige.
Julle sal uitmekaargejaag word,
en niemand sal die vlugtelinge bymekaarmaak nie.
6Maar Ek sal tóg later die lot van die Ammoniete verander,
sê die Here.
Oor Edom
7Oor Edom. So sê die Here die Almagtige:
Is daar geen wysheid meer in Teman nie?
Het die manne met insig nie meer raad nie?
Het hulle wysheid verdwyn?
8Draai om, vlug! Kruip diep weg, inwoners van Dedan!
Ek bring 'n ramp oor Esau, die tyd vir sy straf is daar.
9As ander jou wingerd kom afoes,
sal hulle niks vir jou laat oorbly nie.
As daar diewe in die nag kom,
steel hulle tot hulle genoeg het.
10Ek het Esau kaalgestroop,
Ek het sy skuilplekke oopgemaak,
sodat niemand daar kan wegkruip nie.
Sy nageslag is uitgeroei, en ook sy broers en sy bure;
daar is niemand oor nie.
11Laat maar jou weeskinders agter, Ek sal hulle in die lewe hou; en laat jou weduwees op My vertrou. 12Ja, so sê die Here: As selfs dié wat dit nie verdien nie, die oordeelsbeker moet drink, kan jý ongestraf bly? Jy sal nie ongestraf bly nie; drink sal jy die beker drink. 13Ek lê 'n eed af by Myself, sê die Here, dat Bosra 'n verlate plek sal word, 'n spot, 'n uitgedorde stuk grond, 'n voorbeeld wat in verwensings aangehaal word, en dat al sy buitedorpe vir altyd in puin sal lê.
14Ek het 'n boodskap ontvang, en dit kom van die Here af. Daar is 'n boodskapper onder die nasies rondgestuur om te sê:
Kom bymekaar, trek teen Edom op,
maak oorlog teen hom!
15Edom, Ek maak jou 'n klein volkie onder die volke,
een wat nie deur mense gereken word nie.
16Die vrees wat ander vir jou het
en jou vermetelheid het jou mislei.
Jy woon teen die kranse,
jy klou vas aan die hoë bergtoppe,
maar al bou jy jou nes
daar in die hoogte soos 'n aasvoël,
Ek sal jou daar afhaal, sê die Here.
17Edom sal 'n verlate plek word;
elkeen wat daar verbykom, sal sy asem intrek
en van verbasing fluit oor die slag wat vir Edom getref het.
18Soos Sodom en Gomorra en die buurdorpe verwoes is,
sê die Here, so sal niemand in Edom woon nie;
geen mens sal daar wil bly nie.
19Soos 'n leeu uit die digte Jordaanbos toeslaan
op 'n weiveld aan 'n standhoudende stroom,
so sal Ek vir Edom eensklaps verjaag uit sy land,
en Ek sal vir dié taak aanwys wie Ek verkies.
Wie is soos Ek, wie kan My tot verantwoording roep?
Wie is die regeerder wat teen My kan standhou?
20Hoor wat die Here besluit het,
wat sy beslissing oor Edom is,
wat Hy Hom voorgeneem het
oor die inwoners van Teman:
hulle sal weggesleep word deur hulle eie jongmanne,
Edom se woonplek sal deur hulle eie toedoen verwoes word.
21Die aarde sal skud van die dreun van Edom se val,
die geroep om hulp sal gehoor word tot by die Rietsee.
22Die vyand sal soos 'n aasvoël opvlieg
en afsak en oor Bosra sweef,
en daardie dag sal Edom se soldate so bang wees
soos vrouens wat vasgekeer is.
Oor Damaskus
23Oor Damaskus.
Hamat en Arpad is verslae,
hulle het slegte nuus gehoor,
hulle is onrustig, soos 'n onstuimige see,
hulle kan nie tot rus kom nie.
24Damaskus is magteloos,
hy draai om om te vlug,
hy is vreesbevange,
angs en pyn soos dié van 'n vrou
wat 'n kind in die wêreld bring,
het hom beetgepak.
25Hoe word so 'n beroemde stad dan nie gespaar nie,
so 'n vrolike stad?
26Sy jongmanne sal op sy strate sneuwel,
al sy soldate sal omgebring word
wanneer die tyd daar is, sê die Here die Almagtige.
27Ek steek die stad Damaskus aan die brand,
die vuur sal die paleise van Ben-Hadad verteer.
Oor Kedar en Gasor
28Oor Kedar en oor die koninkryke van Gasor wat deur koning Nebukadnesar van Babel aangeval is. So sê die Here:
Kom, val vir Kedar aan,
verdryf dié mense wat in die ooste woon!
29Hulle tente en hulle kleinvee sal gevat word,
hulle tentdoeke, hulle gereedskap,
hulle kamele sal geroof word,
en mense sal vir hulle skreeu: “Gevaar! Gevaar!”
30Vlug! Hardloop!
Kruip diep weg, inwoners van Gasor!
sê die Here;
koning Nebukadnesar van Babel het 'n plan met julle,
hy het 'n besluit oor julle geneem.
31Gaan val dié nasie aan wat so sonder sorge is
en so rustig woon, het die Here gesê.
Sy stede het nie poorte en sluitbalke nie
en hy woon eenkant alleen.
32Hulle kamele sal buitgemaak word,
hulle groot troppe vee sal geroof word.
Ek sal hulle oor al die windstreke verstrooi,
dié mense wat die kante van hulle koppe kaal skeer,
Ek sal hulle van alle kante af deur rampe laat tref,
sê die Here.
33Gasor sal 'n blyplek vir jakkalse word,
vir altyd verlate.
Daar sal niemand meer woon nie,
geen mens sal daar wil bly nie.
Oor Elam
34Die woord van die Here wat tot die profeet Jeremia gekom het oor Elam. Dit was aan die begin van die regeringstyd van koning Sedekia van Juda. 35So sê die Here die Almagtige:
Ek gaan Elam se pyl en boog breek,
Ek gaan die keur van sy leërmag vernietig.
36Ek laat die vier winde losbreek teen Elam,
die winde uit die vier hoeke van die hemelruim,
Ek verjaag hulle al die windrigtings in;
daar sal nie 'n nasie wees nie
of van Elam se vlugtelinge sal daar beland.
37Ek laat Elam se mense paniekbevange raak voor hulle vyande,
voor dié wat hulle lewe soek;
Ek laat 'n ramp teen hulle losbreek,
my gloeiende toorn, sê die Here,
Ek stuur die swaard agter hulle aan
totdat Ek hulle heeltemal uitgeroei het.
38Ek sal my regterstoel in Elam neersit
en koning en amptenare laat ombring,
sê die Here.
39Maar wanneer die tyd daar is,
sal Ek die lot van Elam verander,
sê die Here.

Currently Selected:

JEREMIA 49: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy