RIGTERS 6
AFR83
6
Gideon
1Die Israeliete het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, en Hy het hulle sewe jaar lank oorgegee in die mag van die Midianiete. 2Hulle het die Israeliete hard behandel, en daarom het hulle langs die bergstroompies, in grotte en in ander ontoeganklike plekke gaan bly. 3Wanneer die Israeliete iets gesaai het, het die Midianiete teen hulle opgetrek saam met die Amalekiete en ander mense uit die ooste. 4Dan slaan die Midianiete kamp op en vernietig die opbrengs van die land selfs tot by Gasa se wêreld. Hulle het nie 'n dier in Israel lewend agtergelaat nie, nie 'n skaap of 'n bees of 'n donkie nie. 5Die Midianiete het met hulle veetroppe gekom en kom tent opslaan. Hulle was so baie soos sprinkane: hulle en hulle kamele kon nie getel word nie. Hulle het die land kaalgestroop. 6Hulle het die Israeliete arm laat word, en toe het die Israeliete tot die Here geroep om hulp.
7Toe hulle tot die Here roep om hulp teen die Midianiete, 8het Hy 'n man gestuur om onder die Israeliete as profeet op te tree, en hy het vir hulle gesê: “So sê die Here die God van Israel: Ek het julle uit Egipte laat wegtrek en Ek het julle uit die plek van slawerny bevry. 9Ek het julle gered uit die mag van Egipte en van almal deur wie julle verdruk is. Ek het hulle laat plek maak vir julle en Ek het hulle land vir julle gegee. 10Ek het vir julle gesê: ‘Ek is die Here julle God. Julle mag nie die gode dien van die Amoriete in wie se land julle woon nie.’ Maar julle het nie na My geluister nie.”
11Daarna het 'n Engel van die Here gaan sit onder die groot boom in Ofra wat behoort het aan Joas die Abiësriet. Sy seun Gideon was besig om koring uit te slaan in 'n parskuip waar hy weggekruip het vir die Midianiete. 12Die Engel van die Here het aan hom verskyn en vir hom gesê: “Die Here is by jou, dapper man!”
13Maar Gideon het vir die Engel gesê: “Ekskuus, Meneer, maar as die Here by ons is, waarom kom al hierdie dinge oor ons? Waar is al sy magtige dade waarvan ons voorvaders ons vertel het toe hulle gesê het: ‘Het die Here ons nie uit Egipte bevry nie?’ Nou het die Here ons in die steek gelaat: Hy het ons oorgegee in die mag van die Midianiete.”
14Toe het die Here na Gideon toe gedraai en vir hom gesê: “Gaan met die krag wat jy het en gaan red die Israeliete uit die mag van die Midianiete! Toe, Ek stuur jou!”
15Maar Gideon sê vir Hom: “Ekskuus, Meneer, waarmee sal ek die Israeliete gaan red? Die familie waaraan ek behoort, is die armste in die hele Manasse, en van my pa se kinders het ek die minste aansien.”
16Die Here het hom geantwoord: “Ek is by jou, en jy sal die Midianiete verslaan asof hulle nie meer as een is nie.”
17Gideon het vir Hom gesê: “As U so vriendelik wil wees, doen tog vir my 'n wonder dat ek seker kan wees dit is U, Here, wat met my praat! 18Moenie hiervandaan af padgee nie dat ek tog net gou 'n offer voor U kan kom neersit.”
Toe sê die Here: “Ek sal wag tot jy terug is.”
19Gideon het toe 'n bokkie gaan gaar maak, en van sestien kilogram meel het hy brood sonder suurdeeg gebak. Hy het die vleis in 'n mandjie gepak en die sous in 'n pan gegooi en vir die Engel van die Here gebring onder die groot boom. Toe Gideon dit naderbring, 20sê die Engel van God vir Gideon: “Vat die vleis en die brood sonder suurdeeg en sit dit op hierdie rots en gooi die sous daaroor.”
Hy het so gemaak, 21en toe raak die Engel van die Here met die punt van die stok in sy hand aan die vleis en die brood. 'n Vuur het uit die rots uit opgevlam en die vleis en die brood verteer. Daarna is Hy van Gideon af weg.
22Gideon het besef dat dit die Engel van die Here was, en hy het uitgeroep: “Ag, Here my God, ek het die Engel van die Here van aangesig tot aangesig gesien!”
23Toe sê die Here vir Gideon: “Wees gerus! Moenie bang wees nie! Jy sal nie sterf nie!”
24Gideon het net daar 'n altaar vir die Here gebou en dit genoem: “Die Here gee rus!” Die altaar staan vandag nog in Ofra van die Abiësriete. 25Daardie nag het die Here vir Gideon gesê: “Vat 'n groot bul, die sewe jaar oud bul van jou pa, sy tweede bul, breek jou pa se altaar vir Baäl af en kap die gewyde paal daar langsaan af. 26Bou dan 'n netjiese altaar vir die Here jou God bo-op daardie versterkte plek en vat die bul en offer dit as brandoffer. Jy moet die hout gebruik van die gewyde paal wat jy afgekap het.”
27Gideon het tien van sy slawe gevat en gedoen wat die Here hom beveel het. Hy het dit in die nag gedoen: hy was bang vir sy pa se familie en vir die stad se mense om dit oordag te doen. 28Toe die stad se mense die volgende môre opstaan, was Baäl se altaar afgebreek en die gewyde paal daar langsaan afgekap en was die bul 'n brandoffer op die altaar wat gebou is. 29Hulle het vir mekaar gevra: “Wie het dit gedoen?”
Hulle het oral navraag gedoen, en daar is gesê: “Dit is Gideon seun van Joas! Hy het dit gedoen!”
30Toe sê die stad se mense vir Joas: “Bring jou seun uit jou huis uit! Hy moet doodgemaak word, want hy het Baäl se altaar afgebreek en die gewyde paal daar langsaan afgekap.”
31Maar Joas het vir almal wat daar by hom gestaan het, gesê: “Wil julle Baäl se saak behartig? Wil julle hom red? Wie Baäl se saak behartig, moet vanmôre nog doodgemaak word. As hy 'n god is, kan hy sy eie saak behartig. Dis sý altaar wat afgebreek is.”
32Daardie dag het hulle vir Gideon genoem Jerubbaäl#Die naam Jerubbaäl hou verband met die naam Baäl en die Hebreeuse woord vir “saak behartig”., “want,” het hulle gesê, “laat Baäl self sy saak teen Gideon behartig, want dis hý wat Baäl se altaar afgebreek het.”
33In daardie tyd het die hele Midian en Amalek saam met ander mense uit die ooste bymekaargekom en deur die Jordaanrivier getrek. Hulle het in die Jisreëlvlakte kamp opgeslaan. 34Die Gees van die Here het vir Gideon in besit geneem, en hy het die ramshoring geblaas en die Abiësriete opgeroep om hom te volg. 35Hy het ook boodskappers na Manasse, Aser, Sebulon en Naftali toe gestuur en hulle ook opgeroep om hom te volg, en hulle het almal bymekaargekom.
36-37Gideon het vir God gesê: “Ek sal weet dat U deur my vir Israel wil red soos U beloof het, as ek 'n stukkie vlieswol op die dorsvloer sit en daar kom dou op die wol terwyl die grond droog bly.”
38En dit het toe gebeur: toe Gideon die volgende môre opstaan, het hy die stukkie wol uitgedraai en dou daaruit gedruk, 'n hele kom vol water.
39Toe sê hy vir God: “Moet asseblief nie vir my kwaad word nie! Ek wil nog 'n keer iets vra. Laat my tog net nog een toets met die vlieswol toe: net die wol moet droog wees, terwyl daar oral op die grond dou is.”
40Daardie nag het God dit so laat gebeur: net die wol was droog en oral op die grond was daar dou.

Verskaf met die komplimente van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. © Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

Ondersteun ons en word ‘n saaier van hoop.

Learn More About Afrikaans 1983