YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 1

1
Net Sion het oorgebly
1Die openbaring wat Jesaja seun van Amos ontvang het aangaande Juda en Jerusalem. Dit was in die regeringstyd van Ussia, Jotam, Agas en Hiskia, konings van Juda.
2Luister, hemele, gee aandag, aarde,
want die Here het gesê:
Ek het kinders grootgemaak en opgevoed,
maar hulle het teen My in opstand gekom.
3'n Bees ken sy eienaar
en 'n donkie die krip van sy baas,
maar Israel ken My nie,
my volk het geen begrip van wat Ek doen nie.
4Ellende wag vir julle, sondige nasie,
volk met skuld belaai,
geslag wat verkeerd handel,
julle wat net afbreek,
wat My, die Here, verlaat het,
My, die Heilige van Israel, verag
en vir My die rug gedraai het.
5Daar is nie meer plek
waar nog aan julle geslaan kan word nie,
en tog hou julle aan om van My af weg te draai.
Die hele kop is vol seerplekke
en die hele gestel is verswak.
6Van kop tot tone
is daar nie een plek heel nie:
dit is die ene kneusplekke, hale en rou wonde!
Hulle is nie skoongemaak of verbind
of met salf behandel nie.
7Julle land is verwoes,
julle stede is verbrand,
voor julle oë verteer vreemdes julle landerye.
Hulle het dit 'n verlate wêreld gemaak.
8Soos 'n skerm in 'n wingerd
het Sion alleen oorgebly,
soos die hut van 'n wagter in 'n komkommertuin.
Sion is 'n beleërde stad.
9As die Here die Almagtige
nie 'n klompie van ons laat oorbly het nie,
sou ons soos Sodom geword het,
ons sou net soos Gomorra gewees het.
Leer om weer goed te doen
10Luister na die woord van die Here, julle Sodomsleiers!
Gee ag op wat ons God julle leer, julle Gomorrasvolk!
11Wat het Ek aan julle baie offers? vra die Here.
Ek is sat van die brandoffers van ramme
en die vet van voerbeeste;
die bloed van bulle en lammers en bokke staan My nie aan nie.
12As julle kom om voor My te verskyn,
wie het julle gevra om my voorhowe te kom vertrap?
13Moenie langer julle nuttelose offergawes bring nie:
Ek het 'n afsku van julle wierookoffers.
Nuwemaansfeeste, sabbatsvierings, die uitroep van feesdae:
Ek verdra nie feesviering met onreg saam nie.
14Julle nuwemaansfeeste en feesgetye haat Ek.
Hulle is vir My 'n las,
Ek is moeg daarvoor.
15As julle julle hande in gebed uitstrek,
sal Ek my oë vir julle toemaak.
Selfs al bid julle hoe baie,
sal Ek nie luister nie,
want julle hande is met bloed bevlek.
16Was julle, reinig julle.
Moenie voor My verskyn
as julle verkeerd doen nie.
Hou op met kwaad doen.
17Leer om weer goed te doen,
sorg dat daar reg geskied,
gaan die verdrukker teë.
Laat reg geskied aan die weeskinders,
behartig die regsake van die weduwees.
18Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here:
Al was julle skarlakenrooi van sonde,
julle sal wit word soos sneeu.
Al was julle purperrooi,
julle sal wit word soos wol.
19As julle gehoorsaam wil wees,
sal julle die goeie van die land eet,
20maar as julle weier en opstandig bly,
sal die swaard júlle eet,
want dit is die Here wat dit gesê het.
21Die getroue stad het 'n ontrou slet geword!
Die stad wat die tuiste van die reg was,
waarin geregtigheid geskied het,
is nou vol moordenaars!
22Jou silwer het lood geword,
jou bier is met water bederf.
23Jou vorste is in opstand teen My,
hulle is kop in een mus met diewe.
Hulle is almal versot op korrupsie
en is agter omkoopgeskenke aan.
Hulle laat nie reg geskied aan weeskinders nie,
hulle behartig nie die regsake van weduwees nie.
24Daarom sê die Here
die almagtige God,
die Sterke van Israel:
Ek sal afreken met my teëstanders.
Ek sal My wreek op my vyande.
25Ek sal teen jou optree;
met loog sal Ek jou lood weer tot silwer suiwer,
al jou afsaksel afskei.
26Ek sal jou regeerders weer maak soos hulle vroeër was
en jou leiers soos in die begin.
Dan sal hulle jou weer noem:
Stad van Geregtigheid,
Getroue Stad.
27Sion sal deur die oordeel vrygemaak word,
dié wat hulle bekeer, deur 'n regverdige beslissing.
28Wie oortree en sondig, sal almal verpletter word.
Wie die Here verlaat, sal te gronde gaan,
29want die afgodsbome waarop julle begeertes gerig was,
sal julle vertroue beskaam,
en julle sal teleurgestel staan
met die tuine wat julle bo My verkies het.
30Julle sal wees soos bome
waarvan die blare verdroog het,
soos tuine sonder water.
31Die sterke word 'n stuk lap
en sy werk is die vonk:
die twee sal saam brand
sonder dat iemand die vuur blus.

Currently Selected:

JESAJA 1: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy