Parallel
34
Dina en die mense van Sigem
1Dina, die dogter wat deur Lea vir Jakob in die wêreld gebring is, het op 'n keer gaan kuier by die dogters van die omgewing. 2Toe Sigem seun van die Hewiet Gamor, 'n volksleier, haar sien, het hy haar gegryp en met haar gemeenskap gehad. Hy het haar verkrag. 3Daarna het hy al hoe meer begin hou van Dina dogter van Jakob. Hy het die meisie lief gekry en haar hart probeer wen. 4Hy het vir sy pa, vir Gamor gesê: “Kry vir my daardie meisie as vrou.”
5Jakob het verneem dat sy dogter Dina deur Sigem onteer is, maar omdat Jakob se seuns met die vee in die veld was, het hy niks gedoen voor hulle terug was nie. 6Toe Gamor, Sigem se pa, na Jakob toe gaan om met hom te praat oor Dina, 7kom Jakob se seuns juis van die veld af by die huis aan en toe hulle hoor wat gebeur het, was die manne ontsteld. Hulle was baie kwaad, want Sigem het 'n gruwelike ding aangevang toe hy met die dogter van Jakob, 'n Israelitiese meisie, gemeenskap gehad het. So iets doen 'n mens nie.
8Gamor het vir hulle gesê: “My seun Sigem hou baie van die dogter uit julle huis. Laat haar tog met hom trou. 9Kom ons word familie van mekaar. Dan kan julle dogters met ons trou en ons dogters met julle. 10Dan bly julle hier by ons. Ons land is tot julle beskikking. Bly net hier of trek rond en kry julle eie grond hier by ons.”
11Toe sê Sigem vir Dina se pa en haar broers: “As julle instem, sal ek betaal wat julle ook al van my vra. 12Julle kan maar die vergoeding wat ek moet gee, net so groot maak soos julle wil. Ek sal ook nog enige ander geskenk gee wat julle vra. Gee net asseblief die meisie vir my dat ek met haar kan trou.”
13Jakob se seuns het egter nie vir Sigem en sy pa Gamor 'n reguit antwoord gegee nie, want die broers se suster Dina was onteer. 14Hulle het toe gesê: “Ons kan nie ons suster sommer so laat trou met 'n man wat nie besny is nie. Dit is vir ons 'n ongehoorde ding. 15Ons kan net instem as julle soos ons word: besny al julle mans. 16Dan kan ons ons dogters met julle laat trou en kan ons met julle dogters trou. Dan sal ons by julle bly en ons sal een volk word. 17Maar as julle nie na ons luister nie en julle nie laat besny nie, sal ons ons suster vat en wegtrek.”
18Gamor en sy seun Sigem het hiertoe ingestem. 19Die jongman Sigem wou nie die saak laat sloer nie, want hy was lief vir Jakob se dogter. Omdat Gamor en Sigem die meeste gesag onder hulle mense gehad het, 20het hulle na die stadspoort toe gegaan en daar vir die mans van die stad gesê: 21“Hierdie vreemde mense het met goeie bedoelings na ons toe gekom. Hulle wil hier kom bly en met hulle kuddes in ons land rond trek: die land is groot en lê oop voor hulle. Dan kan ons met hulle dogters trou en hulle met ons s'n. 22Hierdie mense sal egter net by ons kom bly en saam met ons een volk word as al ons mansmense besny word soos dit by hulle is. 23Hulle kuddes, al hulle vee, hulle besittings, word ons eiendom as ons instem, en dan sal hulle by ons bly.”
24Al die mans van die stad het na Gamor en sy seun Sigem geluister, en hulle almal is besny. 25Drie dae later toe hulle baie pyn gehad het, het Jakob se twee seuns Simeon en Levi, die broers van Dina, elkeen sy swaard gevat en sonder om agterdog te wek, die stad ingegaan en al die mans doodgemaak, 26ook vir Gamor en sy seun Sigem. Hulle het vir Dina uit Sigem se huis uit weggevat en uit die stad uit gegaan.
27Jakob se seuns het toe op die slagoffers toegesak en die stad geplunder omdat hulle suster daar onteer is: 28kleinvee, beeste, donkies, alles in die stad en alles in die veld het hulle vir hulle gevat. 29Ja, hulle het alles geplunder wat daar in die stad was, hulle het alles wat in die huise was, buitgemaak; ook die kinders en vrouens is as gevangenes saamgevat.
30Toe sê Jakob vir Simeon en Levi: “Julle het my in die moeilikheid gebring, want julle het my naam sleg gemaak by die mense van hierdie land, die Kanaäniete en die Feresiete. Ek het maar 'n klein klompie mans by my. As die mense van die land almal saamstaan teen my, sal hulle my en my mense verslaan en ons om die lewe bring.”
31Toe antwoord hulle: “Hy moes nie ons suster soos 'n hoer behandel het nie!”