Parallel
17
Die besnydenis as verbondsteken
1Toe Abram nege en negentig jaar oud was, het die Here aan hom verskyn en vir hom gesê:
“Ek is God die Almagtige.
Lewe naby My en wees opreg!
2Ek sal my verbond met jou sluit
en baie, baie mense uit jou laat voortkom.”
3Abram het op sy knieë geval, en toe sê God vir hom:
4“Dit is my verbond met jou:
jy sal die vader wees van 'n menigte nasies;
5jy sal nie meer Abram genoem word nie,
jou naam sal Abraham wees,
want Ek maak jou die vader van baie nasies.
6Ek sal jou baie vrugbaar maak,
Ek sal jou tot nasies maak,
en konings sal uit jou voortkom.
7“Ek bring 'n verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte. Dit is 'n blywende verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag. 8Ek gee aan jou en jou nageslag die land waar jy as vreemdeling woon, die hele Kanaän, as 'n blywende besitting, en Ek sal hulle God wees.”
9Verder het God vir Abraham gesê: “Jy moet my verbond nakom, jy en jou nageslag en al hulle nageslagte. 10Dit is my verbond wat moet geld vir jou en jou nageslag: elke lid van die manlike geslag onder julle moet besny word. 11Julle moet besny word aan die voorhuid. Dit is die verbondsteken tussen My en julle: 12elke seun onder julle van ag dae oud moet besny word. Dit geld vir elke lid van die manlike geslag onder julle: al julle nageslagte en ook elke slaaf wat as kind in jou besit gebore word, en die slawe wat van 'n vreemde met geld gekoop word, wat nie jou afstammeling is nie. 13'n Slaaf wat as kind in jou besit gebore word, en een wat vir geld gekoop word, moet beslis besny word. So sal my verbondsteken aan julle liggame wees as 'n blywende verbond. 14Elke lid van die manlike geslag wat nie besny is nie, moet van sy volksgenote afgesny word. Hy het my verbond verbreek.”
15God het ook nog vir Abraham gesê: “Jy moet jou vrou nie meer Sarai noem nie. Haar naam is nou Sara. 16Ek sal haar seën en vir jou 'n seun uit haar gee. Ja, Ek sal haar seën, en nasies en konings van volke sal uit haar voortkom.”
17Toe het Abraham op sy knieë geval en hy het gelag en gedink: kan daar vir 'n man van honderd 'n kind gebore word, of kan Sara wat negentig is, 'n kind in die wêreld bring?
18En Abraham het vir God gesê: “As Ismael maar net in u teenwoordigheid kan bly lewe!”
19Maar God het vir Abraham gesê: “Nee, jou vrou Sara sal vir jou 'n seun in die wêreld bring. Jy moet hom Isak#Isak beteken “hy lag”, vgl. 17:17; 18:13-15. noem. Ek sal my verbond met hom hou as 'n blywende verbond, en ook met sy nageslag. 20Ek het gehoor wat jy oor Ismael gesê het. Kyk, Ek seën hom ook. Ek maak hom vrugbaar, en Ek sal sy nakomelinge baie maak. Uit hom sal daar twaalf heersers stam, en Ek sal hom 'n groot nasie laat word. 21Maar dit is met Isak, die seun wat Sara vir jou oor 'n jaar in die wêreld sal bring, dat Ek my verbond sal nakom.”
22Nadat God klaar met Abraham gepraat het, het Hy van Abraham af weggegaan.
23Op daardie selfde dag het Abraham sy seun Ismael gevat en al die slawe wat in sy besit gebore is, en ook dié wat hy met geld gekoop het, elke lid van die manlike geslag in sy huis, en hy het hulle besny, soos God vir hom gesê het. 24Abraham was nege en negentig toe hy besny is, 25en sy seun Ismael dertien. 26Abraham en Ismael is op presies dieselfde dag besny. 27Al die mans in Abraham se huis, die slawe wat in sy besit gebore is, en dié wat hy van vreemdes gekoop het, is saam met hom besny.