YouVersion Logo
Search Icon

EKSODUS 28

28
Die priesters se klere
(Vgl. Eks. 39:1-31)
1“Jy moet jou broer Aäron en sy seuns Nadab, Abihu, Eleasar en Itamar na jou toe laat kom uit die volk Israel uit en hulle aanstel om My as priesters te dien.
2“Maak vir jou broer Aäron gewyde klere wat waardig en mooi is. 3Jy moet al die knap manne vir wie Ek met vakmanskap bedeel het, aansê om vir Aäron klere te maak sodat hy gewy kan word om 'n priester in my diens te wees. 4Hulle moet die volgende kledingstukke maak: 'n borssak, 'n skouerkleed, 'n mantel, geweefde priesterklere, 'n tulband en 'n serp. Dit is die gewyde klere wat vir jou broer Aäron en sy seuns gemaak moet word sodat hulle priesters kan wees in my diens. 5Die vakmanne moet gouddraad en blou, pers en bloedrooi wolstof en linne gebruik 6om die skouerkleed te maak. Die blou, pers en bloedrooi wolstof en die goed geweefde linne moet met die gouddraad geborduur word.
7“Die skouerkleed moet aan die punte twee bande hê om dit oor die skouer aanmekaar vas te maak. 8Dit moet ook 'n gordel hê van dieselfde gehalte en daarvoor moet ook gouddraad, blou, pers en bloedrooi wolstof en goed geweefde linne gebruik word.
9“Vat twee oniksstene en graveer die name van die seuns van Israel 10volgens ouderdom daarop, ses op die een en ses op die ander. 11Jy moet 'n bekwame vakman wat graveerwerk op seëlringe kan doen, aansê om die name van die seuns van Israel op die twee stene te graveer, en monteer dit in goud.
12“Werk die twee stene vas op die skouerbande van die skouerkleed dat die stene kan herinner aan die stamme van Israel. So sal Aäron hulle name op sy twee skouers dra voor My, die Here, om My aan hulle te herinner. 13Jy moet goue monterings maak 14en van suiwer goud ook twee kettinkies, gedraai soos tou. Sit hierdie gedraaide kettinkies aan die monterings vas.
15“Maak 'n borssak wat deur die priester gebruik word wanneer hy oor regsake moet beslis. Dit moet netjies geborduur wees soos die skouerkleed, gemaak van gouddraad, blou, pers en bloedrooi wolstof en goed geweefde linne. 16Die borssak moet dubbel gevou wees, vyf en twintig sentimeter in die vierkant. 17Jy moet hierop vier rye edelstene monteer. Die eerste ry moet bestaan uit 'n karneool, 'n topaas en 'n smarag; 18die tweede uit 'n turkoois, 'n saffier en 'n jaspis; 19die derde uit 'n hiasint, 'n agaat en 'n ametis, 20en die vierde uit 'n chrisoliet, 'n oniks en 'n opaal. Die hele montering moet van goud wees. 21Daar moet twaalf stene wees, een vir elke naam van die stamme van Israel. Die name van al twaalf stamme moet daarop gegraveer word soos op 'n seëlring. 22Jy moet van suiwer goud vir die borssak ook kettinkies maak, gedraai soos tou.
23“Jy moet ook nog twee goue ringe maak vir die borssak en dit vassit aan die twee boonste hoeke daarvan. 24Maak die twee goue kettinkies vas aan die twee ringe wat aan die hoeke van die borssak is. 25Maak dan die ander punte van die twee kettinkies vas aan die twee monterings en werk dit vas aan die voorkant van die skouerbande van die skouerkleed. 26Jy moet nog twee goue ringe maak en dit vaswerk aan die onderste hoeke van die borssak, aan die agterkant, die kant waar dit teen die skouerkleed is. 27Dan moet jy twee ander goue ringe maak en dit aan die twee skouerbande van die skouerkleed vassit, laag af aan die voorkant, aan die naat net bo die gordel. 28Die ringe van die borssak moet met 'n blou toutjie aan die ringe van die skouerkleed vasgemaak word, net bokant die gordel van die skouerkleed, sodat die borssak nie van die skouerkleed af wegskuif nie. 29Wanneer Aäron in die heiligdom ingaan, moet hy die name van die stamme van Israel op die borssak op sy bors dra om My, die Here, altyd aan hulle te herinner. 30Binne-in die borssak wat deur die priester gebruik word wanneer hy oor regsake moet beslis, moet jy die urim en tummim sit. Hulle moet op Aäron se bors wees as hy ingaan na My toe. Aäron moet gedurig die borssak vir regsake met die name van die stamme van Israel daarop, op sy bors dra as hy voor My, die Here, verskyn.
31“Jy moet die mantel wat saam met die skouerkleed gedra word, as een stuk blou wolstof weef. 32In sy middel moet daar 'n opening vir die kop wees, die gat moet omgeboor wees, sterk soos 'n pantserhemp, dat dit nie kan skeur nie. 33Rondom die some moet jy granaatjies van blou, pers en bloedrooi wolstof maak met goue klokkies tussenin, 34afwisselend 'n goue klokkie en 'n granaatjie rondom die hele soom van die mantel. 35Aäron moet dit dra as hy diens doen. Wanneer hy in die heiligdom na My toe ingaan en as hy daarvandaan uitkom, sal die geluid van die klokkies gehoor word, en dan sal hy nie sterf nie.
36“Jy moet 'n blom van suiwer goud maak en daarop, soos op 'n seëlring, graveer: Aan Die Here Gewy.
37“Jy moet dit met 'n blou toutjie aan die tulband vasmaak. Dit moet aan die voorkant van die tulband wees. 38Dit moet op Aäron se voorkop wees as teken dat hy aanspreeklik is vir elke ontwyding van die offers deur Israel. Die blom moet gedurig op Aäron se voorkop wees as teken dat Ek, die Here, die Israeliete goedgesind is.
39“Jy moet vir Aäron die priesterklere van linne weef en jy moet vir hom 'n tulband van linne en 'n geborduurde serp maak. 40Vir elkeen van sy seuns moet jy 'n stel priesterklere en 'n serp maak. Jy moet vir hulle kopdoeke maak wat waardig en mooi is.
41“Laat jou broer Aäron en sy seuns hierdie klere aantrek. Salf hulle, wy hulle en reinig hulle om vir My as priesters diens te doen. 42Jy moet vir hulle linnebroeke maak om hulle naaktheid te bedek. Die broeke moet van die heupe af tot by die bobene strek. 43Aäron en sy seuns moet dit aanhê as hulle in die tent van ontmoeting ingaan of as hulle na die altaar toe kom om diens in die heiligdom te doen, want anders sal hulle 'n oortreding begaan en sterf. Dit is 'n vaste voorskrif vir hulle en ook vir dié wat ná hulle kom.”

Currently Selected:

EKSODUS 28: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy