YouVersion Logo
Search Icon

DEUTERONOMIUM 30

30
1“Wanneer al hierdie dinge, die seën en die straf wat ek jou voorgehou het, oor jou kom en jy daar tussen al die nasies waarheen die Here jou God jou verdryf het, daaraan dink 2en jy terugkom na die Here jou God en Hom gehoorsaam en jy en jou kinders met hart en siel doen wat ek jou vandag beveel het, 3sal die Here jou God jou omstandighede verander. Hy sal jou jammer kry en jou weer bymekaarmaak van oral af waarheen Hy jou tussen die volke verstrooi het. 4Al is jy verdryf tot in die uithoeke van die aarde, die Here jou God sal jou daar gaan bymekaarmaak en van daar af gaan haal. 5Hy sal jou terugbring na die land toe wat deur jou voorvaders besit is en jy sal dit in besit neem, en die Here sal aan jou goeddoen en jou meer laat word as jou voorvaders was. 6Die Here jou God sal jou lewe en die lewe van jou nageslag aan Hom wy, sodat jy Hom sal liefhê met hart en siel. Dan sal jy lewe, 7en die Here jou God sal al hierdie strawwe laat neerkom op jou vyande en op jou haters wat jou agtervolg. 8Dan sal jy terugkom na die Here en Hom gehoorsaam en volgens al sy gebooie lewe wat ek jou vandag beveel. 9-10Die Here jou God sal jou dan voorspoedig maak in alles wat jy aanpak en Hy sal jou kinders, die aanteel van jou vee en die opbrengs van jou land baie maak, sodat dit met jou goed sal gaan. Wanneer jy die Here jou God gehoorsaam en sy gebooie en voorskrifte nakom wat opgeteken is in hierdie wetboek, en wanneer jy met hart en siel terugkom na die Here jou God, sal Hy Hom weer oor jou verbly soos Hy Hom oor jou voorvaders verbly het en sal dit met jou goed gaan.
11“Die gebod wat ek jou vandag beveel, is nie te moeilik vir jou nie. Dit is ook nie buite jou bereik nie. 12Dit is nie in die hemel nie, sodat jy nie hoef te sê: ‘Wie sal vir ons opklim hemel toe om die gebod vir ons te gaan haal en ons dit mee te deel sodat ons daarvolgens kan lewe’ nie. 13Dit is ook nie oorkant die see nie, sodat jy nie hoef te sê: ‘Wie sal vir ons oorvaar na die oorkant toe om die gebod vir ons te gaan haal en ons dit mee te deel sodat ons daarvolgens kan lewe’ nie. 14Die gebod is baie naby aan jou, jy kan daaroor praat, jy ken dit, jy kan daarvolgens lewe.
15“Ek het vandag die lewe en die voorspoed, die dood en die teenspoed aan jou voorgehou. 16As jy die Here jou God liefhet en sy wil doen deur sy gebooie, sy voorskrifte en sy bepalings wat ek jou vandag gegee het, te gehoorsaam, sal jy lewe en baie word en sal die Here jou God jou voorspoedig maak in die land wat jy in besit gaan neem. 17-18Maar ek verkondig vandag aan julle: As jy van die Here af wegdraai en Hom nie gehoorsaam nie en as jy jou laat verlei om ander gode te vereer en te dien, sal julle almal omkom; julle sal nie lank bly woon in die land wat jy in besit gaan neem sodra jy deur die Jordaan getrek het nie. 19Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe. 20Om die Here jou God lief te hê, Hom te gehoorsaam en Hom aan te hang, sal vir jou lewe gee en jou lank laat woon in die land wat die Here met 'n eed aan jou voorvaders Abraham, Isak en Jakob beloof het om aan hulle te gee.”

Currently Selected:

DEUTERONOMIUM 30: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy