HANDELINGE 19:1-20
HANDELINGE 19:1-20 AFR83
Terwyl Apollos in Korinte was, het Paulus deur die binneland gereis en in Efese gekom. Daar het hy 'n groepie gelowiges gekry vir wie hy gevra het: “Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het?” “Ons het nog nie eens gehoor of die Heilige Gees al gekom het nie,” het hulle geantwoord. “Watter soort doop het julle dan ontvang?” vra hy toe. “Die doop van Johannes,” antwoord hulle. Daarop sê Paulus: “Johannes het die mense gedoop as hulle hulle bekeer het. Maar hy het vir die volk gesê dat hulle in die Een moet glo wat ná hom kom, dit is in Jesus.” Toe hulle dit hoor, het hulle hulle in die Naam van die Here Jesus laat doop. Paulus het hulle ook die hande opgelê. Toe het die Heilige Gees op hulle gekom, en hulle het ongewone tale of klanke gebruik, en hulle het geprofeteer. Hulle was altesaam omtrent twaalf. Paulus het drie maande lank met vrymoedigheid in die sinagoge geredeneer oor die koninkryk van God en die mense daarvan probeer oortuig. Maar party was koppig en wou hulle nie laat oortuig nie. Hulle het ook in die openbaar die leer van die Here belaglik probeer maak. Toe het Paulus hulle verlaat en die gelowiges afsonderlik geneem en daagliks in die saal van Tirannus besprekings gehou. Dit het twee jaar lank so aangehou, sodat al die inwoners van die provinsie Asië, Jode sowel as Grieke, die woord van die Here gehoor het. God het deur Paulus wonderbaarlike dinge gedoen. Selfs doeke of voorskote wat aan sy lyf geraak het, is op siekes gesit en dan het hulle siektes verdwyn; en die bose geeste het uit hulle uitgegaan. Party Jode wat rondgegaan het om bose geeste te besweer, het dit ook gewaag om die Naam van die Here Jesus daarvoor te gebruik. Hulle het gesê: “Ek besweer julle in die Naam van dié Jesus wat deur Paulus verkondig word.” Dit was die sewe seuns van 'n Joodse priesterhoof, Skeva, wat dit gedoen het. Maar een van die bose geeste het vir hulle gesê: “Jesus ken ek, en van Paulus weet ek, maar julle, wie is julle?” Die man met die bose gees spring toe onder hulle in en oorweldig hulle. Hy was te sterk vir hulle, sodat hulle kaal en stukkend geslaan uit daardie huis gevlug het. Al die Jode en Grieke wat in Efese gewoon het, het daarvan te hore gekom. Vrees het hulle almal oorval, en die Naam van die Here Jesus is geprys. Baie van die mense wat gelowig geword het, het ook gekom en al hulle towerpraktyke openlik bely en bekend gemaak. Heelparty van die mense wat toorkunste beoefen het, het hulle boeke gebring en voor almal verbrand. Hulle het die waarde daarvan bereken en gevind dat dit vyftig duisend silwermuntstukke werd was. So het die woord van die Here sy krag getoon en al hoe verder versprei.