YouVersion Logo
Search Icon

AMOS 5

5
Israel het geval
1Hoor hierdie woord wat ek teen julle moet sê,
hierdie treurlied, Israel:
2Israel het geval en hy sal nie weer opstaan nie;
hy lê neergegooi op sy grond
en niemand help hom op nie.
3So het die Here my God gesê:
Die stad wat met duisend gaan aanval,
hou net honderd oor,
en dié een wat met honderd aanval,
hou net tien oor vir Israel.
Vra na my wil, dan sal julle lewe
4So sê die Here vir Israel:
Vra na my wil, dan sal julle lewe!
5Moenie in Bet-El gaan raad soek nie,
moenie na Gilgal toe gaan
of verbygaan Berseba toe nie.
Gilgal sal in ballingskap weggevoer word,
en Bet-El sal tot niet gaan.
6Vra na die wil van die Here, dan sal julle lewe!
As julle dit nie doen nie,
sal die Here vir Josef soos 'n vuur tref,
'n vuur wat vir Bet-El sal verteer
sonder dat iemand dit kan blus.
7Julle maak van die regspraak 'n bitter saak,
julle trap die reg in die grond in.
8Hy deur wie die Sewester en Orion gemaak is,
Hy wat die donker in oggendlig verander
en die dag donker nag laat word,
Hy wat die water van die see roep
en dit oor die aarde uitstort,
sy Naam is die Here.
9Dit is Hy wat die magtige met vernietiging tref,
wat vernietiging oor die vestingstad bring.
Julle moet haat wat verkeerd is
10Julle haat dié wat vir die reg opkom in die howe,
julle verafsku dié wat die waarheid praat.
11Omdat julle die arm mens vertrap
en van hom koring afpers,
sal julle nie woon in die huise van gekapte klip wat julle bou nie
en sal julle nie die wyn drink van die pragtige wingerde
wat julle plant nie.
12Ek weet hoe baie julle oortredings is,
hoe groot julle sondes is,
julle wat die vyande is van dié wat reg doen,
julle wat julle laat omkoop
en nie aan die armes reg laat geskied nie.
13Dit is daarom dat 'n verstandige mens maar stilbly in hierdie tyd,
want dit is 'n bose tyd.
14Probeer goed doen, nie verkeerd nie, dat julle kan lewe!
Dan sal die Here die almagtige God so by julle wees
soos julle sê dat Hy is.
15Julle moet haat wat verkeerd is,
julle moet liefhê wat goed is,
julle moet opkom vir die reg in die howe.
Dan sal die Here die almagtige God Hom dalk ontferm
oor wat daar van Josef oor is.
16So sê die Here, die almagtige God, die Here:
Die mense sal treur op al die oop ruimtes,
hulle sal op al die strate sê: “Ag tog, ag tog!”
Hulle sal die boere en die treursangers roep
om saam te kom treur.
17Daar sal ook in al die wingerde getreur word,
want Ek gaan tussen julle deur om julle te straf,
sê die Here.
Die dag van die Here bring donker
18Ellende wag vir dié wat smag na die dag van die Here!
Waarom verlang julle na die dag van die Here?
Dit sal donker bring, nie lig nie;
19dit sal wees soos wanneer iemand vir 'n leeu vlug
en 'n beer val hom aan,
of soos wanneer iemand tuiskom
en hy leun met sy hand teen die muur
en 'n slang pik hom.
20Die dag van die Here bring donker, nie lig nie,
net duisternis, nie 'n ligstraal nie.
21Ek haat, Ek verafsku julle feeste,
Ek het niks aan julle feestye nie.
22Al bring julle vir My brandoffers en graanoffers,
dit is nie vir My aanneemlik nie,
en Ek kyk nie eens na julle maaltydoffers
van vetgevoerde kalwers nie.
23Gee pad voor My met die rumoer van jou gesing;
Ek wil nie jou harpmusiek hoor nie!
24Maar laat die reg en die geregtigheid te voorskyn kom,
laat dit aanrol soos watergolwe, soos 'n standhoudende stroom.
25Moes julle vir My die veertig jaar in die woestyn
diereoffers en graanoffers bring, Israel?
26Julle sal julle koning Sikkut en julle afgodsbeeld Kijun,
dié stergode wat julle vir julle gemaak het,
moet dra 27wanneer Ek julle in ballingskap laat wegvoer
ver by Damaskus verby, sê die Here.
Sy Naam is Almagtige God.

Currently Selected:

AMOS 5: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy