HANDELINGE 18:1-17

HANDELINGE 18:1-17 AFR83

Hierna het Paulus Atene verlaat en na Korinte toe gegaan. Daar het hy vir Akwila, 'n Jood wat in Pontus gebore is, ontmoet. Hy het kort tevore saam met sy vrou, Priscilla, uit Italië daar aangekom, nadat keiser Claudius beveel het dat al die Jode Rome moet verlaat. Paulus het hulle gaan opsoek, en omdat hulle net soos hy tentmakers van beroep was, het hy by hulle ingetrek en saam met hulle gewerk. Maar elke sabbatdag het hy in die sinagoge met die mense geredeneer en Jode en Grieke probeer oortuig. Nadat Silas en Timoteus van Masedonië af gekom het, het Paulus al sy tyd bestee aan die prediking om die Jode daarvan te oortuig dat Jesus die Christus is. Maar toe hulle hulle aanhou verset en hom beledig, het hy die stof van sy klere afgeskud en vir hulle gesê: “As julle verlore gaan, is dit julle eie skuld. Ek aanvaar nie die verantwoordelikheid daarvoor nie. Van nou af gaan werk ek onder mense wat nie Jode is nie.” Toe het hy die sinagoge verlaat en na die huis toe gegaan van 'n godvresende man met die naam Titius Justus. Sy huis was net langs die sinagoge. Krispus, die hoof van die sinagoge, en sy hele huisgesin het tot geloof in die Here gekom. Ook baie ander mense in Korinte wat die boodskap gehoor het, het gelowig geword en is gedoop. Een nag het die Here in 'n gesig vir Paulus gesê: “Moenie bang wees nie; hou aan met preek en moenie stilbly nie, want Ek is by jou. Niemand sal jou aanval of jou kwaad aandoen nie, want in hierdie stad behoort baie mense aan My.” Paulus het 'n jaar en ses maande lank daar gebly en die mense onderrig in die woord van God. Nadat Gallio goewerneur van Agaje geword het, het die Jode egter soos een man teen Paulus in opstand gekom en hom voor die hof gebring. “Hierdie man,” het hulle gesê, “probeer die mense oorhaal om God op 'n manier te vereer wat in stryd is met ons wet.” Paulus wou praat, maar toe sê Gallio vir die Jode: “As dit oor 'n onreg of 'n ernstige misdaad gegaan het, was dit my plig om geduldig na julle Jode te luister. Maar aangesien dit 'n geredekawel is oor woorde en name en julle eie wet, moet julle self daaroor beslis. In sulke sake wil ek nie regter wees nie.” Daarna het hy hulle uit die hof uitgejaag. Hulle het toe almal vir Sostenes, die hoof van die sinagoge, gegryp en hom net daar voor die regbank aangerand. Gallio het hom egter niks daaraan gesteur nie.
AFR83: Afrikaans 1983
Share