YouVersion Logo
Search Icon

2 SAMUEL 8

8
Dawid se oorloë en landsadministrasie
(Vgl. 1 Kron. 18:1-17)
1Hierna het Dawid die Filistyne verslaan. Hy het hulle onderwerp en die mag uit hulle hande geneem.
2Hy het ook die Moabiete verslaan. Hy het hulle groep-groep op die grond laat lê: twee groepe om te laat doodmaak vir elke volle groep wat toegelaat is om te lewe. Moab het onderhorig geword aan Dawid en moes aan hom belasting betaal.
3Toe Dawid sy mag aan die Eufraat gaan herstel het, het hy vir koning Hadad-Eser van Soba, seun van Regob, verslaan. 4Van hom het Dawid sewentien honderd oorlogsperde en twintig duisend voetsoldate afgevat. Hy het perde vir honderd strydwaens uitgehou en al die ander se hakskeensenings afgesny. 5Die Arameërs van Damaskus het vir koning Hadad-Eser van Soba te hulp gekom, maar Dawid het twee en twintig duisend man van Aram verslaan. 6Hy het militêre poste in die gebied Aram-Damaskus ingerig, en die Arameërs het aan hom onderhorig geword en moes aan hom belasting betaal. Die Here het Dawid die oorwinning laat behaal net waar hy gegaan het.
7Hy het die goue skilde van Hadad-Eser se offisiere afgevat en dit na Jerusalem toe gebring. 8In Tebag en Berotai, twee stede van Hadad-Eser, het hy op 'n groot klomp brons beslag gelê.
9Toe koning Toï van Hamat hoor dat Dawid die hele leër van Hadad-Eser verslaan het, 10het hy sy seun Joram na koning Dawid toe gestuur. Hy moes hom sy groete oorbring en hom gelukwens met sy oorwinning oor Hadad-Eser, want Hadad-Eser het kort-kort vir Toï aangeval. Joram het vir Dawid allerlei artikels van silwer en goud en brons gebring. 11Koning Dawid het dit alles aan die Here gewy, en so ook die silwer en goud van al die nasies wat hy onderwerp het, 12naamlik Aram, Moab, Ammon, die Filistyne en Amalek. Hy het dieselfde gedoen met sy buit van koning Hadad-Eser van Soba, seun van Regob.
13Na sy oorwinning oor Aram het Dawid vir hom naam gemaak toe hy agtien duisend man van Edom in die Soutvlakte verslaan het. 14Hy het oral in Edom militêre poste ingerig, en die hele Edom het aan hom onderhorig geword. Die Here het Dawid die oorwinning laat behaal net waar hy gegaan het.
15Dawid was koning oor die hele Israel en hy het sy hele volk met reg en billikheid geregeer. 16Joab seun van Seruja is aangestel oor die weermag, en Josafat seun van Agilud was hoof uitvoerende beampte. 17Sadok seun van Agitub, en Agimelek seun van Abjatar was priesters, en Seraja was staatsekretaris. 18Jojada se seun Benaja is aangestel oor die koning se Filistynse lyfwag. Dawid se seuns was priesters.

Currently Selected:

2 SAMUEL 8: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy