YouVersion Logo
Search Icon

2 SAMUEL 19

19
1Daar is aan Joab vertel: “Kan jy dit glo? Die koning huil en treur oor Absalom!”
2So het die oorwinningsdag 'n dag van trane geword vir al die manskappe, want hulle het gehoor dat die koning bedroef is oor sy seun. 3Op dié dag het die manskappe die stad binnegesluip, soos wanneer hulle beskaamd insluip as hulle uit 'n geveg weggehardloop het.
4Die koning het sy gesig toegehou en hardop uitgeroep: “My seun Absalom; Absalom, my seun, my seun!”
5Joab het by die koning in die kamer ingegaan en gesê: “U het vandag al die manskappe laat skaam kry, hulle wat so pas u lewe en ook dié van u seuns en dogters, u vrouens en byvrouens gered het. 6U het mos nou u haters lief en u haat die mense wat vir u liefhet. Ja waarlik, u gee vandag te kenne dat u nie vir aanvoerders en manskappe omgee nie. Vandag weet ek beslis: as Absalom maar net kon gelewe het, kon ons vandag net so wel almal dood gewees het; u sou dan in u skik gewees het! 7Kom nou, gaan stel u manskappe tevrede. Ek verklaar voor die Here: As u nie buitetoe gaan nie, sal daar vannag nie 'n enkele man by u oorbly nie. Dit sal vir u 'n groter ramp wees as enige ramp wat u in u hele lewe getref het.”
8Die koning het toe buitetoe gegaan en in die stadspoort gaan sit. Daar is toe aan al die manskappe vertel: “Kom kyk, die koning sit in die stadspoort.”
Toe het al die manskappe van die koning voor hom verskyn. Israel het intussen huis toe gevlug.
Die volk wil vir Dawid terug hê
9Daarna het die manne van die Israelitiese stamme onder mekaar begin praat: “Dit is die kóning deur wie ons gered is uit die mag van ons vyande; hý het ons bevry uit die greep van die Filistyne, en nou moes hy die land uit vlug voor Absalom. 10Buitendien is Absalom vir wie ons tot koning gesalf het, in die geveg dood. Waarom talm julle nog om die koning te laat terugkom?”
11Hierdie gevoel onder Israel het by Dawid en sy mense uitgekom.
Daarna het die koning vir die priesters, Sadok en Abjatar, laat weet: “Praat met die leiers van Juda en vra: Waarom moet julle nou die laaste wees om die koning na sy paleis toe te laat terugkom? 12Julle is my broers, ja, julle is my mense. Waarom moet julle nou die laaste wees om die koning te laat terugkom? 13Sê vir Amasa ek sê: Is jy nie my eie bloedfamilie nie? Mag God my om die lewe bring as jy nie vir altyd die hoof van my leër word in die plek van Joab nie.”
14So het hy die hele Juda soos een man na sy kant toe oorgehaal, en hulle het die koning laat weet: “Kom terug! U en al u manskappe!”
Simeï kom ontmoet vir Dawid
15Die koning is toe terug, en terwyl hy op pad was na die Jordaan toe, het Juda by Gilgal bymekaargekom om hom te ontmoet en oor die Jordaan te help. 16Simeï seun van Gera, die Benjaminiet van die stad Bagurim, het haastig saam met Juda afgegaan om koning Dawid te ontmoet. 17By hom was 'n afdeling soldate uit Benjamin, en verder ook Siba, die bestuurder van Saul se huishouding, met sy vyftien seuns en twintig slawe. Hulle het voor die koning by die Jordaan aangekom. 18Hulle het deur die drif gegaan om die geselskap van die koning deur te bring en om te doen wat die koning wou hê.
Net toe die koning die Jordaan wou deurtrek, kniel Simeï seun van Gera voor hom 19en sê: “U Majesteit moet my die verkeerde daad tog nie toereken nie en moenie wat ek verkeerd gedoen het op die dag toe die koning uit Jerusalem uit gegaan het, ernstig opneem nie. 20Ek weet baie goed dat ek sleg opgetree het, maar let tog op dat ek vandag die heel eerste uit die huis van Josef is wat die koning kom ontmoet.”
21Hierop het Abisai seun van Seruja gevra: “Moet Simeï nie doodgemaak word nie? Hy het immers die gesalfde van die Here gevloek.”
22Maar Dawid het geantwoord: “Wat het dit met julle te doen, seuns van Seruja? As julle so praat, is julle my teenstanders. Moet daar dan vandag iemand in Israel doodgemaak word? Ek weet mos tog dat ek vandag koning oor Israel is.”
23Verder het die koning vir Simeï gesê: “Jy sal nie doodgemaak word nie.” Die koning het dit vir hom selfs met 'n eed bevestig.
Mefiboset kom ontmoet vir Dawid
24Toe Saul se seun Mefiboset die koning kom ontmoet het, was sy voete en baard nie versorg nie; en sy klere was vandat die koning vertrek het tot op die dag dat hy in vrede teruggekom het, nie gewas nie. 25Toe hy in Jerusalem die koning kom ontmoet, vra die koning hom: “Waarom het jy nie saam met my gegaan nie, Mefiboset?”
26“U Majesteit,” antwoord hy, “my helper het my in die steek gelaat, want ek het gesê: Ek wil 'n donkie opgesaal hê om op te ry en saam met die koning te gaan; ek is mos kreupel. 27Hy het my by u gaan beskinder, maar U Majesteit is soos 'n engel van God. U sal dus met my doen soos dit vir u die beste lyk. 28My hele familie het by u niks anders as die dood verdien nie, en tog het u my 'n plek gegee by dié wat by u aan huis eet. Ek het niks waarop ek my by die koning kan beroep nie.”
29Toe antwoord die koning hom: “Die saak is afgehandel. Ek beveel hiermee dat jy en Siba die grond moet deel.”
30Mefiboset het geantwoord: “Nou dat die koning behoue tuis gekom het, kan Siba maar alles vat.”
Barsillai neem afskeid van Dawid
31Barsillai die Gileadiet het van Rogelim af gekom vir die koning se oortog oor die Jordaan. 32Hy was al baie oud, tagtig jaar, en hy het die koning onderhou tydens sy verblyf in Maganajim, want hy was welgesteld. Hy wou daar by die Jordaan van die koning afskeid neem.
33Toe sê die koning vir hom: “Kom saam met my, dan sal ek jou in Jerusalem by my onderhou.”
34Maar hy het vir die koning gesê: “Hoeveel langer het ek nog om te leef dat ek saam met die koning na Jerusalem toe moet optrek? 35Ek is nou tagtig. Kan ek nog iets geniet? Of kan ek nog proe wat ek eet en drink? Kan ek nog die stem van sangers en sangeresse waardeer? Waarom moet ek van my 'n oorlas maak by die koning? 36Waarvoor wil die koning my nou eintlik beloon? Ek wou maar net 'n klein entjie van die Jordaan af saam met u trek. 37Laat my nou maar omdraai en in my eie stad sterf, by die graf van my pa en ma. Maar kyk, hier is u onderdaan Kimham. Hy kan saam met u gaan, en u kan aan hom doen soos u dit goedvind.”
38Toe sê die koning: “Kimham kan maar saamgaan. Ek sal vir hom doen wat jy sê. Wat jy ook al van my verwag, sál ek vir hom doen.”
39Daarna het die hele volk die Jordaan oorgesteek, en die koning het gevolg. Nadat die koning vir Barsillai gesoen en hom voorspoed toegewens het, het hy na sy stad toe teruggegaan. 40Die koning het by Gilgal verbygetrek, en Kimham saam met hom. Die hele Juda en ook die helfte van Israel het saam met die koning getrek.
Juda en Israel twis oor Dawid. Seba se opstand
41Toe het al die mense van Israel na die koning toe gekom en gesê: “Waarom het ons broer Juda u gesteel en die koning met sy huisgesin en al die manskappe van Dawid saam met hom oor die Jordaan laat trek?”
42Die hele Juda het Israel toe geantwoord: “Maar die koning is mos familie van my. Waarom neem jy aanstoot hieraan? Het ons dalk iets van die koning geëet, of is ons op enige manier bevoordeel?”
43Maar Israel antwoord vir Juda: “Ek het tien keer meer aanspraak op die koningskap; selfs aan Dawid het ek meer as jy. Waarom het jy my nie in die saak geken nie? Was my uitnodiging nie eerste om my koning na my toe te laat terugkom nie?”
Maar Juda het 'n beter saak gehad as Israel.

Currently Selected:

2 SAMUEL 19: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy