YouVersion Logo
Search Icon

2 KONINGS 9

9
Jehu word gesalf tot koning oor Israel
1Die profeet Elisa het een van die profete geroep en vir hom gesê: “Maak klaar en vat hierdie kruikie olie en gaan na Ramot in Gilead toe. 2As jy daar kom, gaan soek vir Jehu op, seun van Josafat seun van Nimsi. Gaan in, bring hom eenkant, weg van sy medeoffisiere af, in 'n binnekamer, 3vat die kruik olie en giet dit op sy kop uit. Sê dan vir hom: ‘So sê die Here: Ek salf jou tot koning van Israel.’ Maak dan die deur oop en vlug onmiddellik.”
4Die jongman, die profeet, het na Ramot in Gilead toe gegaan. 5Toe hy daar aankom, was die generaals besig met 'n samespreking. Hy het gesê: “Ek het 'n boodskap vir u, Generaal.”
Jehu het gevra: “Vir wie van ons?”
Hy het geantwoord: “Vir u, Generaal.”
6Jehu het opgestaan en toe hy in die ander vertrek inkom, het die profeet die olie op Jehu se kop uitgegiet met die woorde: “So sê die Here die God van Israel: Ek salf jou tot koning oor Israel, die volk van die Here. 7Jy sal die koningshuis van Agab vernietig. So sal Ek My wreek op Isebel oor die vergieting van die bloed van my dienaars die profete, oor die vergieting van die bloed van al die dienaars van die Here. 8Die hele koningshuis van Agab sal tot niet gaan. Ek sal elke manlike nakomeling van Agab in Israel sonder uitsondering uitroei. 9Ek sal met die huis van Agab maak soos met die huis van Jerobeam seun van Nebat, en soos met die huis van Baesa seun van Agija. 10Die honde sal vir Isebel opvreet op die oop stuk grond in Jisreël; sy sal nie begrawe word nie.”
Die profeet het toe die deur oopgemaak en gevlug.
11Toe Jehu uit die kamer uit terugkom by die amptenare van die koning, het hulle vir hom gevra: “Is alles reg? Hoekom het hierdie mal man na jou toe gekom?”
Hy het hulle geantwoord: “Julle ken tog self die man en sy praatjies.” 12Hulle antwoord toe: “Onsin! Toe, vertel ons.”
Hy het gesê: “Dit is wat die man vir my gesê het: So sê die Here: Ek salf jou tot koning oor Israel.”
13Onmiddellik het elkeen sy klere gevat en dit op die trappe voor Jehu oopgegooi. Hulle het die ramshoring geblaas en uitgeroep: “Jehu is koning!”
14-15Jehu seun van Josafat, seun van Nimsi, het met hulle saamgesweer teen koning Joram van Israel. Hy was toe in Jisreël waar hy gaan herstel het van die wonde wat die Arameërs hom toegedien het toe hy teen koning Gasael van Aram geveg het. Dit het gebeur terwyl Joram en die Israeliete besig was om Ramot in Gilead te verdedig teen koning Gasael van Aram.
Jehu het gesê: “As julle aan my kant is, sorg dat niemand wegkom uit Ramot uit om die nuus in Jisreël te gaan vertel nie.”
16Daarna het Jehu op sy wa geklim en Jisreël toe gery waar Joram siek gelê het en koning Ahasia van Juda vir Joram gaan besoek het. 17Waar die wag op die toring in Jisreël gestaan het, het hy Jehu se aanhangers sien aankom. Hy het opgemerk: “Ek sien 'n klomp mense.”
Toe sê Joram: “Beveel 'n ruiter om hulle tegemoet te ry en te vra of hulle in vrede kom.”
18Die perderuiter het Jehu tegemoet gegaan en gesê: “Die koning vra of jy in vrede kom.”
Jehu het geantwoord: “Wat maak dit saak of ek in vrede kom? Sluit by my aan.”
Die man het laat weet: “Die boodskapper het tot by hulle gekom, maar hy kom nie terug nie.”
19Koning Joram stuur toe 'n tweede perderuiter. Toe hy by hulle kom, sê hy: “Die koning vra of jy in vrede kom?”
Jehu het geantwoord: “Wat maak dit saak of ek in vrede kom? Sluit by my aan.”
20Die wag het laat weet: “Die boodskapper het tot by hulle gekom, maar hy kom nie terug nie. Die een wat die wa dryf, moet Jehu seun van Nimsi wees, want hy dryf soos 'n mal mens!”
21Koning Joram van Israel het toe opdrag gegee: “Span die wa in.”
Hulle het sy wa ingespan en hy het opgeklim. Koning Ahasia van Juda het op sy eie wa geklim. Hulle het na Jehu toe gery en by hom gekom by die stuk grond van Nabot die Jisreëliet. 22Toe Joram vir Jehu sien, vra hy: “Kom jy in vrede, Jehu?”
Maar hy antwoord: “Wat? Vrede? Met al hierdie hoerery en toordery van jou ma Isebel se afgodsdiens?”
23Toe Joram die wa ompluk om te vlug, skree hy vir Ahasia: “Verraad, Ahasia!”
24Jehu het sy boog gespan en Joram tussen die blaaie getref. Die pyl is deur sy hart; daar op sy wa het hy inmekaargesak. 25Jehu het sy adjudant Bidkar beveel: “Tel hom op en gooi hom op die stuk grond van Nabot die Jisreëliet. Onthou jy toe ek en jy langs mekaar agter sy pa Agab aangery het hoe die Here hierdie oordeel oor hom aangekondig het? 26Die Here het toe gesê: ‘So seker as Ek die vergieting van die bloed van Nabot en van sy seuns gister gesien het, sal Ek jou daarvoor vergelding laat doen op hierdie selfde stuk grond.’ Vat hom nou en gooi hom op dié stuk grond, net soos die Here gesê het.”
27Toe koning Ahasia van Juda sien wat gebeur, het hy in die rigting van Bet-Gan gevlug. Jehu het hom agtervolg en opdrag gegee: “Skiet hom ook!” Op die hoogte van Gur, by Jibleam, het hulle hom op sy wa raakgeskiet. Hy het nog tot by Megiddo gevlug, maar daar het hy gesterf. 28Sy dienaars het hom op sy wa na Jerusalem toe vervoer en hom daar in die Dawidstad in die familiegraf begrawe.
29In die elfde regeringsjaar van Joram seun van Agab het Ahasia koning geword oor Juda.
30Isebel het gehoor dat Jehu na Jisreël toe op pad is. Sy het oogverf aangesmeer en haar hare mooi gemaak. Sy het by die venster gaan staan en uitkyk.
31Toe Jehu by die poort inkom, het sy vir hom gesê: “Kom jy in vrede, Simri , koningsmoordenaar?”
32Jehu het na die venster toe opgekyk en gevra: “Wie is aan my kant? Wie?” Twee, drie paleisamptenare het afgekyk na hom toe. 33Hy het beveel: “Gooi haar af!”
Toe gooi hulle haar af. Van haar bloed het teen die muur en teen die perde gespat, en hulle het haar doodgetrap.
34Hy het in die paleis ingegaan en gaan eet en drink. Daarna het hy gesê: “Sien tog maar om na hierdie vervloekte vrou. Begrawe haar, sy is darem 'n koning se dogter.”
35Hulle is weg om haar te gaan begrawe, maar hulle kon net die kopbeen, die voete en die hande kry. 36Toe hulle dit aan Jehu kom rapporteer, het hy gesê: “Dit is die woord van die Here wat deur sy dienaar Elia die Tisbiet gekom het: ‘Op die oop stuk grond in Jisreël sal die honde die vleis van Isebel opvreet.’ 37Op die oop stuk grond in Jisreël sal die lyk van Isebel wees soos mis in 'n land. Niemand sal kan sê dit is Isebel nie.”

Currently Selected:

2 KONINGS 9: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy