YouVersion Logo
Search Icon

2 KONINGS 12

12
1In die sewende regeringsjaar van Jehu het Joas koning geword, en hy het veertig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Sibja, uit Berseba. 2Al die jare wat die priester Jojada sy leermeester was, het hy gedoen wat reg is in die oë van die Here. 3Hy het net nie die hoogtes verwyder nie. Die volk het voortgegaan om daar diereoffers en wierookoffers te bring.
Joas laat die tempel herstel
(Vgl. 2 Kron. 24:4-16)
4Joas het vir die priesters gesê: “Neem al die geld wat as gewyde gawes na die huis van die Here toe gebring word: die geld wat gekollekteer word, dié waarvoor elkeen persoonlik aangeslaan word en dié wat as vrywillige gawes na die huis van die Here toe gebring word. 5Die priesters moet die geld in ontvangs neem by dié wat dit bring, en die tempel daarmee herstel, oral waar daar bouvallige plekke is.”
6In die drie en twintigste regeringsjaar van koning Joas het die priesters die bouvallige plekke in die tempel nog steeds nie herstel gehad nie. 7Toe het koning Joas vir Jojada en die ander priesters ingeroep en vir hulle gevra: “Waarom herstel julle nie die bouvallige plekke in die tempel nie? Julle moenie geld aanvaar van dié wat dit bring, as julle nie daarmee vir die herstel van die bouvallige plekke betaal nie.”
8Die priesters het toe onderneem om nie langer geld van die volk te aanvaar solank hulle nie die bouvallige plekke herstel nie.
9Die priester Jojada het 'n kis gevat, 'n gat in die deksel geboor en dit langs die altaar neergesit, regs van waar 'n mens die huis van die Here binnekom. Die priesters wat by die drumpel wag gestaan het, het al die geld wat na die huis van die Here toe gebring is, daarin gegooi. 10Toe hulle sien dat daar baie geld in die kis is, het die sekretaris van die koning saam met die hoëpriester na die tempel toe gegaan en die geld wat in die huis van die Here was, in 'n sak gesit en gaan tel. 11Hulle het die afgetelde geld oorbetaal aan die werksvoormanne wat vir die huis van die Here aangestel is. Dié het dit oorbetaal aan die skrynwerkers en bouers wat die werk aan die huis van die Here moes uitvoer, 12so ook aan die messelaars en die klipkappers, om hout en gekapte klip te koop om die herstelwerk aan die huis van die Here te doen, kortom, om alle uitgawes aan die herstel van die tempel te dek. 13Daar is geen silwerbakke, skêre, komme of trompette gemaak vir die huis van die Here nie; geen silwer- of goue gereedskap is gemaak van die geld wat na die huis van die Here toe gebring is nie. 14Dit moes aan die voormanne gegee word om die huis van die Here te herstel. 15Hulle het nie die manne laat boekhou van die geld wat hulle aan hulle betaal het nie. Dit is aan die voormanne gegee wat die werk eerlik uitgevoer het. 16Die geld vir skuldoffers en sondeoffers is nie in die huis van die Here gebring nie; dit was vir die priesters bestem.
Die Arameërs trek op teen Jerusalem
17Destyds het koning Gasael van Aram na Gat toe opgeruk, dit aangeval en ingeneem. Hierna het hy na Jerusalem toe koers gekies om dit te gaan aanval. 18Koning Joas van Juda het al die gewyde gawes wat deur sy voorvaders Josafat, Joram en Ahasia, konings van Juda, gebring is, gevat en aan koning Gasael van Aram gestuur saam met sy eie gewyde gawes en al die goud wat in die skatkamers van die huis van die Here en in die paleis te vinde was. Toe het Gasael van Jerusalem af teruggetrek.
Joas se dood
(Vgl. 2 Kron. 24:17-19)
19Die ander verhale oor Joas en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda. 20Sy amptenare het teen hom in opstand gekom en teen hom saamgesweer. Hulle het vir Joas doodgemaak by Bet-Millo waar 'n mens afgaan na Silla toe. 21Dit was sy amptenare Sabad seun van Simat en Josabad seun van Somer wat hom doodgemaak het. Hy is oorlede, en hy is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy seun Amasia het hom as koning opgevolg.

Currently Selected:

2 KONINGS 12: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy