YouVersion Logo
Search Icon

2 KRONIEKE 18

18
Josafat veg saam met Agab teen die Arameërs
(Vgl. 1 Kon. 22:2-35)
1Toe Josafat ryk geword het en groot aansien geniet het, het hy 'n huwelik tussen 'n lid van sy familie en een uit die familie van Agab gereël. 2Na 'n paar jaar het hy vir Agab in Samaria gaan besoek. Agab het ter ere van Josafat en sy gevolg 'n groot aantal skape en beeste geslag en hom ook probeer omhaal om 'n veldtog teen Ramot in Gilead te begin. 3Koning Agab van Israel het vir koning Josafat van Juda gesê: “Sal jy met my saamgaan na Ramot in Gilead toe?”
Josafat het geantwoord: “Ek en jy is een, en ons leërs is een. Ons is saam met jou in dié oorlog, 4maar,” het Josafat verder vir die koning van Israel gesê, “vind nou eers uit wat sê die Here.”
5Die koning van Israel het toe vier honderd profete bymekaargeroep en vir hulle gevra: “Moet ons teen Ramot in Gilead gaan veg? Of moet ek dit laat staan?”
Hulle antwoord was: “Gaan gerus. God gee die stad aan die koning oor.”
6Toe sê Josafat: “Is hier nie nóg 'n profeet van die Here dat ons hom ook kan raadpleeg nie?”
7“Hier is nog een man deur wie ons die Here kan raadpleeg,” het die koning van Israel vir Josafat gesê, “maar ek haat hom, want hy voorspel vir my nooit iets goeds nie, net altyd die slegste. Dit is Miga seun van Jimla.”
Josafat sê toe: “Die koning moenie so praat nie!”
8Die koning van Israel roep toe 'n paleisamptenaar en sê: “Gaan haal gou vir Miga seun van Jimla.”
9Die koning van Israel en koning Josafat van Juda het elkeen in sy koninklike gewaad op sy troon gesit by die dorsvloer voor die poort van Samaria. Voor hulle was al die profete besig met hulle voorspellings. 10Sedekia seun van Kenaäna het vir hom 'n paar horings van yster gemaak en gesê: “So sê die Here: Met hierdie horings sal u die Arameërs stoot tot dit klaar is met hulle.” 11So het al die profete voorspel. Hulle uitspraak was: “Trek op teen Ramot in Gilead. U sal wen. Die Here gee die stad aan die koning oor.”
12Die boodskapper wat vir Miga gaan roep het, het vir hom gesê: “Kyk, die uitspraak van die profete was eenstemmig gunstig vir die koning. Laat joune nou tog dieselfde wees. Sê iets goeds!”
13Maar Miga sê: “So seker as die Here leef, wat my God vir my sê, dit sal ek sê!”
14Toe hy by die koning kom, sê dié vir hom: “Miga, moet ons teen Ramot in Gilead gaan veg? Of moet ek dit laat staan?”
“Gaan gerus,” antwoord Miga, “en mag dit goed gaan, mag die stad aan u oorgegee word.”
15Maar die koning sê vir hom: “Hoeveel keer moet ek nog by jou daarop aandring dat jy vir my niks anders as die waarheid in die Naam van die Here moet sê nie!”
16Toe sê Miga:
“Ek het die hele Israel verstrooi op die berge gesien
soos skape wat nie 'n wagter het nie.
Die Here het gesê: Hulle het nie 'n koning nie,
laat hulle maar in vrede teruggaan, elkeen na sy huis toe.”
17Die koning van Israel sê toe vir Josafat: “Ek het jou mos gesê hy voorspel vir my nie iets wat goed is nie, net die slegste.”
18En Miga praat verder: “Hoor die woord van die Here! Ek het die Here op sy troon sien sit met die hele hemelse leërmag wat weerskante van Hom staan. 19En die Here het gesê: ‘Wie sal vir Agab koning van Israel so ver kry dat hy na Ramot in Gilead gaan en daar sneuwel?’ Die een het toe dit gesê en die ander dat, 20totdat die gees vorentoe gekom en voor die Here gaan staan en gesê het: ‘Ek sal hom so ver kry.’ En toe die Here vir hom vra: ‘Hoe?’ 21sê die gees: ‘Ek sal uitgaan en 'n leuengees word in die mond van al sy profete.’ Toe sê die Here: ‘Jy sal hom so ver kry. Gaan doen dit, jy sal dit regkry.’ 22So het die Here 'n leuengees in die mond van hierdie profete van u laat kom, maar Hy het in werklikheid vir u 'n ramp aangekondig.”
23Toe kom Sedekia seun van Kenaäna nader en hy slaan vir Miga op die kakebeen en sê: “Met watter pad is die Gees van die Here van my af weg om met jou te praat?”
24En Miga antwoord: “Dit sal jy sien die dag as jy in een donker kamer na die ander probeer wegkruip.”
25Die koning van Israel het toe beveel: “Vat vir Miga en bring hom na Amon, die stadsbevelvoerder, en na prins Joas toe. 26Sê vir hulle die koning sê hulle moet hierdie man in die tronk sit en hom 'n skraal rantsoen kos en water gee tot ek behoue terugkom.”
27Maar Miga het gesê: “As u behoue terugkom, het die Here nie deur my gepraat nie.” Verder het hy gesê: “Hoor dit, alle manskappe!”
28Die koning van Israel en koning Josafat van Juda is toe na Ramot in Gilead toe. 29Die koning van Israel het vir Josafat gesê: “Ek gaan my vermom voor ek in die geveg betrokke raak. Hou jy jou koninklike gewaad aan.” Die koning van Israel het hom toe vermom en so die geveg ingegaan.
30Die Aramese koning het die aanvoerders van sy strydwaens opdrag gegee: “Spits die geveg toe op die koning van Israel, moenie aan die ander aandag gee nie, klein of groot.”
31Toe die aanvoerders van sy strydwaens vir Josafat sien, sê hulle: “Daar is die koning van Israel!” en hulle het op hom toegesak. Josafat het om hulp geroep, en die Here het hom gehelp. God het die aanval van Josafat af weggekeer. 32Die aanvoerders van die strydwaens het gesien dit is nie die koning van Israel nie en het die agtervolging gestaak. 33Iemand het egter losweg 'n pyl afgeskiet, en dié het die koning van Israel getref tussen die skubbe van sy harnas en die borsplaat.
Hy sê toe vir sy drywer: “Ruk die perde om en bring my uit die geveg uit. Ek is gewond.”
34Die geveg was dié dag egter so hewig dat die koning van Israel tot die aand toe op sy strydwa moes bly staan in die geveg teen die Arameërs. Teen laatmiddag is hy dood.

Currently Selected:

2 KRONIEKE 18: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy