YouVersion Logo
Search Icon

2 KRONIEKE 17

17
1Sy seun Josafat het hom as koning opgevolg.
Die regering van Josafat
Josafat het die land teen Israel beveilig 2deur soldate te stasioneer in al die vestingstede van Juda en deur wagposte te plaas in Juda sowel as in die stede wat Asa, sy pa, in Efraim verower het. 3Die Here was by Josafat, want hy het sy voorvader Dawid se vroeëre lewe nagevolg. Hy het nie die Baäls gedien nie, 4maar die God van sy vader. Hy het die gebooie van God gehoorsaam en nie gemaak soos Israel nie. 5Daarom het die Here Josafat se koningskap bevestig. Die hele Juda het vir Josafat geskenke gebring, en hy het ryk geword en groot aansien geniet. 6Hy het sy eer daarin gestel om te leef soos die Here dit wil en het die vernietiging van die hoogtes en gewyde pale in Juda voortgesit.
7In die derde jaar van sy regering het hy van sy beste amptenare uitgestuur om oral in die stede van Juda onderrig te gee: Obadja, Sagaria, Netanel en Miga. 8Daar was Leviete saam met hulle: Semaja, Netanja, Sebadja, Asael, Semiramot, Jonatan, Adonia, Tobija en Tob-Adonija. Hulle was die Leviete; en verder was die priesters Elisama en Joram by hulle. 9Hulle het onderrig gegee in Juda. Hulle het die wetboek van die Here saamgeneem, die rondte gedoen in al die stede van Juda, en die volk in die wet onderrig.
10Al die lande rondom Juda was van skrik bevange vir die Here; hulle het Josafat nie aangeval nie. 11Selfs van die Filistyne af is daar vir Josafat geskenke en 'n groot hoeveelheid silwer gebring, en die Arabiere het vir hom kleinvee gebring, sewe duisend sewe honderd skaapramme en sewe duisend sewe honderd bokramme.
12So het Josafat steeds magtiger geword. Hy het forte en voorraadstede in Juda gebou 13en in elke stad van Juda groot bedrywigheid aan die gang gesit. In Jerusalem het hy sy beste soldate gehad. 14Hulle is familiegewys georganiseer. Uit Juda was daar die volgende bevelvoerders oor duisend: die bevelvoerder Adna met drie honderd duisend weerbare man by hom, 15naas hom die bevelvoerder Joganan met twee honderd en tagtig duisend, 16naas hom Amasja seun van Sikri, wat hom met 'n vrywillige eed aan die Here gewy het, met twee honderd duisend weerbare man. 17Uit Benjamin was daar die krygsman Eljada met twee honderd duisend man by hom, gewapen met pyl en boog en skild, 18en naas hom Josabad met honderd en tagtig duisend by hom, ten volle toegerus vir oorlog. 19Dit is die manne wat tot die koning se beskikking was, afgesien van dié wat hy in die vestingstede oral in Juda geplaas het.

Currently Selected:

2 KRONIEKE 17: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy