YouVersion Logo
Search Icon

1 TIMOTEUS 6

6
Die slawe
1Gelowiges wat as slawe onder 'n juk staan, moet hulle eienaars met alle eerbied bejeën, sodat niemand sal kwaadpraat van die Naam van God en van die Christelike leer nie. 2Slawe wat gelowige eienaars het, moet aan hulle nie minder eerbied betoon omdat hulle saam broers is nie. Hulle moet hulle eerder beter dien omdat dié wat uit hulle werk voordeel trek, met hulle een is in geloof en liefde.
Vals leer en ware rykdom
Hierdie dinge moet jy aan die mense leer en dit by hulle inskerp. 3As iemand 'n ander leer verkondig en nie hou by die gesonde woorde van ons Here Jesus Christus en by die leer van ons godsdiens nie, 4is hy verwaand en weet hy niks. Hy het 'n sieklike beheptheid met twisvrae en met stryery oor woorde. Daaruit ontstaan afguns, twis, beledigings, gemene verdagmakery, 5voortdurende rusie van mense wat verstandelik verward en van die waarheid beroof is. Hulle dink dat die godsdiens iets is om geldelike wins mee te maak. 6Die godsdiens is 'n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, 7want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. 8As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees. 9Maar dié wat ryk wil word, val in versoeking. Hulle loop hulle vas in die strik van baie sinlose en skadelike begeertes waardeur mense in verderf en ondergang gestort word. 10Geldgierigheid is 'n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal.
Die goeie stryd van die geloof
11Maar jy, man van God, moet van hierdie dinge af wegvlug. Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid. 12In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal. Daartoe het God jou geroep en het jy die goeie belydenis voor baie getuies afgelê. 13Voor God, wat aan alle dinge die lewe skenk, en voor Christus Jesus, wat teenoor Pontius Pilatus getuienis afgelê het van die goeie belydenis, beveel ek jou: 14“Voer jou opdrag stiptelik en onberispelik uit tot op die dag dat ons Here Jesus Christus kom.” 15Sy verskyning sal op die bestemde tyd plaasvind. Daarvoor sorg God, die goeie en enigste Heerser, die Koning van die konings en die Here van die heersers. 16Hy alleen besit onsterflikheid; Hy woon in ontoeganklike lig. Geen mens het Hom gesien of kan Hom sien nie. Aan Hom kom toe eer en ewige mag! Amen.
17Dié wat in hierdie wêreld ryk is, moet jy waarsku om nie hooghartig te wees nie. Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet. 18Spoor hulle aan om goed te doen, om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam. 19So vergader hulle vir hulle 'n skat as 'n goeie belegging vir die toekoms, sodat hulle die ware lewe sal verkry.
20Timoteus, bewaar wat aan jou toevertrou is. Vermy die onheilige en sinlose praatjies en die redenasies van die “kennis”, soos dit verkeerdelik genoem word. 21Daar is mense wat daardie “kennis” aanhang en so van die geloof afgedwaal het.
Die genade sal by julle wees!

Currently Selected:

1 TIMOTEUS 6: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy