YouVersion Logo
Search Icon

1 TESSALONISENSE 5

5
Die wederkoms van die Here
1Oor die tyd en omstandigheid wanneer hierdie dinge sal gebeur, is dit nie nodig om aan julle te skrywe nie, broers. 2Julle weet self maar alte goed dat die dag van die Here onverwags kom soos 'n dief in die nag. 3Wanneer die mense sê: “Alles is rustig en veilig,” sal die ondergang hulle skielik oorval soos geboortepyne 'n swanger vrou, en niemand sal ontkom nie. 4Maar, broers, julle leef nie in die duisternis nie; dié dag sal julle nie soos 'n dief oorval nie. 5Julle is tog almal mense van die lig, mense van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie. 6Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons wakker bly en nugter wees. 7Dié wat slaap, is van die nag; en dié wat hulle dronk drink, is van die nag. 8Maar ons wat van die dag is, moet nugter wees; ons moet geloof en liefde as borsharnas dra en die hoop op verlossing as helm. 9God het ons tog nie bestem om gestraf te word nie, maar om deur ons Here Jesus Christus verlos te word. 10Hy het ter wille van ons gesterwe, sodat ons, of ons by sy koms nog lewe of reeds dood is, saam met Hom kan lewe.
11Praat mekaar moed in en versterk mekaar dan met hierdie woorde, soos julle trouens reeds doen.
Laaste opdragte
12Broers, ons vra julle: Erken die mense wat so hard onder julle werk en julle in opdrag van die Here lei en teregwys. 13Betoon in liefde die hoogste agting aan hulle ter wille van hulle werk. Leef in vrede met mekaar.
14Ons druk julle dit op die hart, broers: Wys die leeglêers onder julle tereg, praat die kleinmoediges moed in, help die swakkes, wees met almal geduldig. 15Sorg dat niemand 'n ander mens kwaad vir kwaad vergeld nie. Beywer julle liewer altyd vir die belange van julle medegelowiges en van alle mense.
16Wees altyd bly. 17Bid gedurig. 18Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.
19Moenie die werking van die Heilige Gees teenstaan nie. 20Moenie profesieë geringskat nie, 21maar toets dit alles, behou wat goed is, 22en bly weg van alles wat sleg is.
23Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom! 24Hy sal dit ook doen, want Hy wat julle roep, is getrou.
25Broers, bid ook vir ons.
26Groet al die medegelowiges met 'n soen van Christelike broederskap.
27In die Naam van die Here dring ek by julle daarop aan dat hierdie brief aan al die gelowiges voorgelees word.
28Die genade van ons Here Jesus Christus sal by julle wees.

Currently Selected:

1 TESSALONISENSE 5: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy