YouVersion Logo
Search Icon

1 SAMUEL 19

19
Jonatan pleit by Saul vir Dawid
1Saul het naderhand selfs met sy seun Jonatan en met al sy offisiere gepraat om Dawid dood te maak. Maar Saul se seun Jonatan het baie van Dawid gehou. 2Toe het Jonatan vir Dawid vertel: “My pa wil jou doodmaak. Jy moet tog môreoggend versigtig wees. Gaan sit op 'n beskutte plek en kruip weg. 3Dan sal ek in die veld waar jy is, langs my pa gaan staan en met hom oor jou praat. As ek agterkom hoe dit gesteld is, sal ek jou dit vertel.”
4Jonatan het toe vir Dawid voorspraak gedoen by Saul en vir hom gesê: “Die koning moet hom tog nie aan sy onderdaan Dawid besondig nie, want hy het u geen kwaad aangedoen nie, sy dade was baie voordelig vir u. 5Hy het sy lewe gewaag en die Filistyn verslaan dié keer toe die Here die groot uitkoms vir die hele Israel bewerk het. U het dit gesien en u was self bly. Waarom sal u sonde doen oor 'n onskuldige man en vir Dawid sonder rede doodmaak?”
6Saul het na Jonatan geluister en 'n eed afgelê: “So seker as die Here leef, hy sal nie doodgemaak word nie.” 7Hierná het Jonatan vir Dawid gaan roep, en Jonatan het hom die hele gesprek meegedeel. Jonatan het vir Dawid na Saul toe gebring, en Dawid het vir Saul gedien soos voorheen.
8Daar het weer 'n keer oorlog gekom, en Dawid het opgetrek om teen die Filistyne te veg. Hy het hulle in 'n bloedige veldslag verslaan, en hulle het voor hom gevlug.
Mikal bedrieg vir Saul en red Dawid se lewe
9Saul het in sy huis gesit met sy spies in sy hand, en Dawid het op die lier gespeel. Toe 'n boosaardige gees wat deur die Here gestuur is, oor Saul kom, 10het hy geprobeer om Dawid teen die muur vas te pen met die spies. Maar Dawid het weggekoes, en Saul het die spies teen die muur vasgegooi. Dawid het gevlug en daardie nag ontsnap. 11Toe stuur Saul mense na Dawid se huis toe om hom dop te hou en hom in die môre dood te maak.
Maar sy vrou Mikal het hom gewaarsku: “As jy nie vannag vlug nie, word jy môre doodgemaak.”
12Mikal het Dawid toe deur die venster laat afsak. Hy het weggegaan, gevlug en ontsnap. 13Maar Mikal het die afgodsbeeld gevat en op die bed neergesit. Sy het 'n bokhaarnet om die beeld se kop gedraai en dit met 'n kombers toegemaak.
14Toe Saul se mense daar kom om vir Dawid te vang, sê sy: “Hy is siek.”
15Daarna het Saul sy manne gestuur om na Dawid te gaan kyk en beveel: “Bring hom na my toe met bed en al dat ek hom kan laat doodmaak.” 16Die manne het ingekom, en toe lê die afgodsbeeld op die bed, met die bokhaarnet aan die koppenent.
17Saul sê toe vir Mikal: “Waarom het jy my so bedrieg en my vyand vrygelaat om te ontsnap?”
Maar Mikal het vir Saul geantwoord: “Hy het vir my gesê: Laat my gaan, anders maak ek jou dood.”
Saul weer tussen die profete
18Ondertussen het Dawid gevlug en ontsnap en by Samuel in Rama gekom en hom alles vertel wat Saul hom aangedoen het. Hy en Samuel het in die woonkwartiere van die profete gaan woon. 19Daarna is aan Saul berig: “Weet u, Dawid is in die profetekwartiere in Rama.”
20Daarop stuur Saul boodskappers om Dawid gevange te neem. Toe hulle die groep profete sien wat besig was om as profete op te tree onderwyl Samuel hulle voorgaan, het die Gees van God oor die boodskappers van Saul gekom, en hulle het self ook begin om as profete op te tree.
21Dit is aan Saul vertel, en hy het ander boodskappers gestuur. Ook húlle het self begin om as profete op te tree. Hy het 'n derde groep boodskappers gestuur, en hulle het óók begin om as profete op te tree. 22Daarop het hy self na Rama toe gegaan en toe hy by die groot opgaardam in Seku kom, vra hy: “Waar is Samuel en Dawid?”
Iemand het geantwoord: “Daar in die profetekwartiere in Rama.”
23Hy het na die profetekwartiere toe gegaan in Rama, en die Gees van God het ook oor hom gekom en hy het so in die loop begin om as profeet op te tree totdat hy by die kwartiere in Rama gekom het. 24Ook hý het sy klere uitgetrek en self as profeet opgetree in die teenwoordigheid van Samuel. Daardie hele dag en nag het Saul sonder klere op die grond gelê, sodat die mense gevra het: “Is Saul ook onder die profete?”

Currently Selected:

1 SAMUEL 19: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy