YouVersion Logo
Search Icon

1 SAMUEL 18

18
Dawid bly by Saul
1Nadat Dawid klaar met Saul gepraat het, het Jonatan baie geheg geraak aan Dawid en hom liefgekry soos homself. 2Dieselfde dag nog het Saul vir Dawid saamgevat huis toe en hom nie toegelaat om na sy pa se huis toe terug te gaan nie. 3Jonatan en Dawid het 'n verbond gesluit omdat Jonatan hom liefgekry het soos homself. 4Jonatan het die mantel wat hy aangehad het, uitgetrek en dit vir Dawid gegee, ook sy uitrusting, sy swaard, sy boog en sy gordel. 5Dawid het toe opgetrek teen elkeen teen wie Saul hom uitgestuur het. Hy was suksesvol, en Saul het hom oor die soldate aangestel. Die hele volk en Saul se amptenare het dit goedgevind.
Saul wantrou vir Dawid
6Toe Dawid teruggekom het nadat hy die Filistyn verslaan het en Saul-hulle op pad was huis toe, het die vroue van al die dorpe van Israel uitgegaan om te sing, en die danseresse het koning Saul tegemoet gegaan met tamboeryne en driesnarige musiekinstrumente en met gejubel. 7Die vroue het gedans en gesing:
“Saul het sy duisende verslaan,
maar Dawid sy tienduisende!”
8Daaroor het Saul hom vererg. Dit het hom nie geval nie en hy het gesê: “Aan Dawid het hulle tienduisende gegee en aan my duisende. Die koningskap sal ook nog syne word!”
9Van toe af het Saul vir Dawid gewantrou.
10Die volgende dag het 'n boosaardige gees wat deur God gestuur is, vir Saul beetgepak, sodat hy in sy huis te kere gegaan het soos 'n waansinnige. Soos gewoonlik het Dawid op die lier gespeel. In die hand van Saul was daar 'n spies. 11Toe lig Saul die spies op en dink: ek gaan vir Dawid teen die muur vaspen.
Maar Dawid het weggekoes, selfs twee maal. 12Saul het bang geword vir Dawid omdat die Here by hom was, maar die Here het vir Saul verlaat. 13Saul het daarna nie meer vir Dawid by hom laat bly nie en hom aangestel as hoof van 'n leërafdeling. Hy het in die oorlog as aanvoerder van die manskappe opgetree 14en in alles sukses behaal omdat die Here by hom was. 15Saul het opgemerk dat Dawid baie suksesvol was, en Saul was bang vir hom. 16Maar die hele Israel en Juda was lief vir Dawid, en hy het in die oorlog as hulle aanvoerder opgetree.
Dawid word Saul se skoonseun
17Later het Saul vir Dawid gesê: “Hier is my oudste dogter Merab. Ek gee haar aan jou as vrou. Jy moet net vir my 'n dapper man wees en die oorloë van die Here voer.”
Saul het naamlik gedink: ek moenie teen hom wees nie. Laat die Filistyne teen hom wees.
18Dawid sê toe vir Saul: “Wie is ek en wie is my broers en my familie in Israel dat ek die koning se skoonseun mag word?”
19Maar teen die tyd dat Saul se dogter Merab aan Dawid gegee moes word, is sy aan Adriël die Megolatiet as vrou gegee. 20Saul se ander dogter, Mikal, was verlief op Dawid, en toe dit aan Saul vertel is, was hy in sy skik daarmee. 21Saul het naamlik gedink: ek sal haar aan hom gee dat sy vir hom 'n vangstrik word en die Filistyne teen hom kan wees.
So het Saul dan twee keer vir Dawid gesê: “Jy kan vandag my skoonseun word.”
22Saul het sy amptenare beveel: “Sê so ongemerk vir Dawid: Jy weet, die koning hou van jou en al sy amptenare is lief vir jou. Word nou maar die koning se skoonseun.”
23Saul se amptenare het hierdie boodskap vir Dawid in die oor gefluister en Dawid het gesê: “Dink julle dis 'n kleinigheid om die koning se skoonseun te word? Ek is maar 'n arm man sonder aansien.”
24Saul se amptenare het hom meegedeel wat Dawid gesê het.
25Maar Saul het gesê: “So moet julle vir Dawid sê: Die koning wil niks anders as honderd voorhuide van die Filistyne as huweliksvergoeding hê nie, om so wraak te neem teen sy vyande.”
Saul se gedagte was om Dawid deur die Filistyne te laat omkom. 26Saul se amptenare het hierdie woorde aan Dawid meegedeel, en Dawid het ingestem om die koning se skoonseun te word.
Dawid het nie tyd verspeel nie, 27maar klaargemaak, en hy en sy manskappe het twee honderd Filistyne gaan doodmaak. Dawid het hulle voorhuide gebring, en dié is almal aan die koning oorhandig sodat Dawid die koning se skoonseun kon word. Saul het sy dogter Mikal aan hom gegee as vrou.
28Dit het vir Saul duidelik geword dat die Here by Dawid is. Boonop het Saul se dogter Mikal vir Dawid liefgehad. 29Toe het Saul nog banger geword vir Dawid, Saul was vir goed vyandig teenoor hom. 30Die regeerders van die Filistyne het herhaaldelik opgetrek om oorlog te maak, maar elke keer as hulle optrek, het Dawid meer sukses gehad as die offisiere van Saul, sodat hy groot aansien verkry het.

Currently Selected:

1 SAMUEL 18: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy