YouVersion Logo
Search Icon

1 KORINTIËRS 7:24-40

1 KORINTIËRS 7:24-40 AFR83

Broers, elkeen moet God dien in die omstandighede waarin hy was toe God hom geroep het. Wat die ongetroudes betref, het ek geen bevel van die Here nie, maar ek gee my eie mening as iemand wat deur die genade van die Here betroubaar is. Ek meen dat, met die oog op die swaarkry van die eindtyd, dit vir 'n mens goed is om te bly soos hy is: as jy getroud is, moenie skei nie; as jy ongetroud is, moenie 'n vrou soek nie. Maar as jy tog trou, doen jy nie verkeerd nie. En as 'n jongmeisie trou, doen sy nie verkeerd nie. Maar sulke mense sal swaar kry in hierdie lewe, en ek wil julle dit bespaar. Ek bedoel dít, broers: die tyd is min. Van nou af moet dié wat getroud is, leef asof hulle nie getroud is nie; en dié wat bedroef is, asof hulle nie bedroef is nie; en dié wat bly is, asof hulle nie bly is nie; dié wat iets aankoop, asof hulle dit nie besit nie. Ja, dié wat met die dinge van die wêreld te doen het, moet leef asof hulle daar niks aan het nie, want hierdie wêreld soos ons hom ken, is aan die verbygaan. Ek wil hê julle moet vry wees van sorge. Die ongetroude man gee aandag aan die dinge van die Here, aan hoe hy die Here kan behaag. Die getroude man gee ook aandag aan die dinge van die wêreld, aan hoe hy sy vrou kan behaag, en sy aandag is verdeel. Ook die ongetroude vrou en die jongmeisie gee aandag aan die dinge van die Here, om na liggaam en gees aan Hom toegewy te wees. Maar die getroude vrou gee ook aandag aan die dinge van die wêreld, aan hoe sy haar man kan behaag. Dit alles sê ek vir julle eie beswil. Ek wil julle nie aan bande lê nie, maar ek wil hê julle moet in eerbaarheid lewe en in onverdeelde toewyding aan die Here. As iemand meen dat hy teenoor sy verloofde onbehoorlik handel deur nie te trou nie, en sy begeertes te sterk word en hy voel dat hulle behoort te trou, laat hom doen wat hy graag wil: laat hulle gerus trou. Dit is nie verkeerd nie. Maar as iemand in sy eie gemoed oortuig is dat hy nie moet trou nie, en hy nie onder enige dwang verkeer nie, maar volle beheer oor sy eie wil het, en hy by homself besluit het om nie te trou nie, doen hy 'n goeie ding. Dus, hy wat met sy verloofde trou, doen goed. Wie egter nie trou nie, doen beter. 'n Vrou is aan haar man gebind so lank as hy lewe. As hy sterwe, is sy vry om te trou met wie sy wil, mits dit met 'n gelowige is. Tog is sy na my mening gelukkiger as sy ongetroud bly; en ek dink dat ek ook die Gees van God het.

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy