YouVersion Logo
Search Icon

Sagaria 1

1
1In die agtste maand van die tweede jaar wat Darius koning was (dit is 520 v.C.), het die Here vir Sagaria gevra om vir sy mense ’n paar belangrike dinge te gaan sê. Hy was ’n profeet wat vir die Here gewerk het. Sy pa se naam was Berekja en sy oupa was Iddo. 2Die Here het vir die mense van Juda gesê: “Ek is baie kwaad vir julle voorouers! 3Ek is die Here en Ek het mag oor alles en almal. Ek sê: Kom terug na My toe en dien My weer. Julle kan weer my volk wees. 4Moenie soos julle voorouers maak nie. My profete het vroeër vir hulle gesê dat hulle moet ophou om so verkeerd te lewe en slegte dinge te doen. Maar hulle het nie geluister nie en op hulle eie manier aangegaan. 5Julle voorouers en daardie profete is lankal dood. 6Maar my profete het die waarheid gepraat. Alles wat hulle vir julle voorouers gesê het, het toe net so gebeur.” Hulle het toe besef dat die Here nie leuens vertel nie. Wat Hy besluit het om met hulle te doen het gebeur. Hulle moes saamstem: hulle het gekry wat hulle verdien het. Hulle het die verkeerde dinge gedoen.
Die eerste droom: vier ruiters
7Op vyftien Februarie, in die tweede jaar wat Darius koning was, wou die Here weer hê dat Sagaria iets vir sy volk moes gaan sê. 8Sagaria het vertel wat gebeur het: Een nag het ek ’n droom gesien van ’n man wat op ’n bruin perd sit. Hy het tussen bome in ’n kloof gestaan. Agter hom was ook nog ’n rooi perd, ’n bruine en ’n witte. 9Ek het gevra: Wat is hier aan die gang, Meneer? ’n Man wat soos ’n engel lyk, het vir my gesê: “Ek sal jou sê wat dit beteken.” 10Die man wat tussen die bome gestaan het, het toe begin verduidelik. “Dit is die ruiters wat die Here gestuur het om te gaan kyk wat in die wêreld aangaan. 11Die ruiters het toe teruggekom en daar by die bome alles kom vertel. Hulle het gesê: Ons het deur die wêreld gery en alles is stil en rustig.”
12Die engel van die Here sê toe: “Here, U is die Here van alles en almal! U is nou al vir 70 jaar kwaad vir die mense van Jerusalem en die ander stede van Juda. Hoe lank gaan dit nog vat voordat U weer vir hulle goed gaan wees?” 13Die Here het die engel vriendelik geantwoord en hom moed ingepraat. 14En die engel het vir my gesê: “Skree hard sodat almal kan hoor wat die Here sê.”
Hy sê: “Ek is baie lief vir Jerusalem en die berg waarop die tempel staan. Al twee is Myne! 15Maar Ek is sommer baie kwaad vir die nasies wat so tevrede met hulleself is. Ek was kwaad vir my volk, maar nou het die Babiloniërs net te ver gegaan. Hulle het hulle nou te sleg behandel. 16Daarom sal Ek na Jerusalem toe terugkom om vir die mense te wys dat Ek vir hulle omgee. Ek sal sorg dat my tempel reggemaak word. Hulle sal kom kyk wat nodig is om my tempel weer op te bou. 17Skree weer sodat almal kan hoor wat die Here gaan doen: Hy sê: Ek sal sorg dat dit sommer baie goed met al die mense in Israel gaan. Daar sal meer as genoeg van alles wees. Ek sal ook kyk dat alles weer vir Jerusalem reg verloop. Ek kies Jerusalem as my gunstelingstad.”
Die tweede droom: vier horings
18Sagaria het verder gesê: Ek het weer ’n droom gehad. Daar was vier horings. 19Toe vra ek vir die engel wat vroeër met my gepraat het: Wat beteken dit wat ek sien? Hy het vir my gesê: “Die vier horings is soos die sterk nasies wat die mense van Juda, Israel en Jerusalem uitmekaar laat spat het.” 20Toe laat die Here my ook nog vier ambagsmanne sien. 21Ek het weer gevra: Wat kom hulle hier doen? Hy het geantwoord: “Die horings is die sterk nasies wat die mense van Juda in alle rigtings laat spat het. Hulle het Juda se mense soos groot gekke laat voel. Die ambagsmanne het gekom om hierdie sterk nasies reg te sien. Hulle sal hulle horings breek en so die nasies swak maak. Die nasies gaan lelik verloor.”

Currently Selected:

Sagaria 1: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy