YouVersion Logo
Search Icon

Openbaring 18

18
God se oordeel vernietig die sonde heeltemal
1Toe dit alles verby was, sien ek ’n ander engel uit die hemel afkom. Dit was ’n baie sterk engel. Die aarde het sommerso geblink van die helder glans van die engel. Hy het ’n verskriklik harde stem gehad. 2Hy skree toe: “Dit is verby met daardie belangrike stad Babilon. Sy word met die grond gelykgemaak. Dit het ’n spookdorp geword, vol demone. Oral het bose geeste hulle intrek geneem. Allerhande vieslike vlieënde goed het daar kom nes maak. Diere waarvan God niks hou nie, het daar opgedaag. Al hierdie goed is regtig vieslik en haatlik! 3Al die mense van die aarde kon nie genoeg kry van haar verraad teen God nie. Hulle het dit soos wyn opgeslurp. Die regeerders, wat hulle mense moes lei, het die stad eerder gedien as vir God. Die sakemanne het miljoene gemaak uit haar lewe vol vieslikhede.”
4Net toe hoor ek iemand anders uit die hemel praat: “My volk, sorg dat julle uit die stad wegkom; gee pad, sodat julle nie met al daardie slegte dinge deurmekaarraak nie. Ja, gee pad sodat al haar rampe julle nie ook tref nie. 5Sy het so baie verkeerde dinge gedoen. As jy dit op mekaar pak, sal die hoop so hoog soos die hemel wees. So iets sal God nooit vergeet nie! Hy onthou elke verkeerde ding wat sy gedoen het. 6Maak met haar wat sy met julle gemaak het. Betaal haar dubbel en dwars terug vir wat sy aan julle gedoen het. As sy julle met een hou geslaan het, slaan haar dubbel so hard terug. 7Sy het haar vreeslik belangrik gehou en ’n wilde, losbandige lewe gelei. Laat haar nou net soveel swaarkry en verdriet ly. Weet julle hoekom? Sy was die een wat vir haarself gesê het: ‘Hier sit ek, die groot heerser oor almal. Ek is nie alleen nie. Ek het baie wat agter my staan. Daar sal nooit trane van verdriet oor my wange loop nie!’ 8Ja-nee, sy het daarna gesoek! Die rampe wat haar gaan tref, gaan haar op een dag saam tref. Sy gaan baie hartseer wees, sy gaan niks hê om te eet nie en die dood gaan sy wrede greep op haar kry. Sy sal met vuur tot op die grond afgebrand word. Ja, dit alles sal gebeur, want God is die Sterke. Hy is die Here. Hy is die Een wat sê wat met die stad gaan gebeur.”
Spyt kom te laat, veral met sonde
9Die regeerders van hierdie wêreld sal bitterlik oor haar huil as hulle die wolke rook sien wat uit die brandende stad opborrel. Hulle het mos saam met die stad geleef asof God nie daar is nie. Ja, saam met haar het hulle vieslik geleef. 10Hulle sal haar nie gaan help nie, maar net van ver af staan en kyk. Hulle is te bang hulle gaan net so swaarkry soos sy. Hulle sal net sê: “Ag, genugtig; hoe jammer! Die groot, belangrike stad; die sterk stad Babilon! Ai, kyk net; in ’n enkele oomblik het jy reguit in God se straf vasgeloop!”
11Die besigheidsmanne van die wêreld is net so hartseer oor haar. Hulle huil net sulke lang trane. Niemand wil nou meer hulle goed koop nie. Al die goed wat mense eers so graag wou gehad het, lê nou in hope op die mark, want niemand wil dit meer hê nie. 12Daar lê goud, silwer, edelstene, pêrels; daar is die mooiste materiale, linne en sy. Daar is die mooiste kleure, pers en rooi. Die verskillende houtgoed is net so mooi. Die hout ruik lekker en sommige artikels is uit duur hout gemaak, en ivoor ook! Goed van brons, yster en marmer staan ook oral rond. Om nie eens te praat van al die duur kruie nie. Oral lê daar 13kaneel, speserye en verskillende kruie wat lekker ruik, soos mirre en wierook. Aan eetgoed is daar ook nie ’n tekort nie. Duur kos, olie, wyn, meel en koring is vrylik beskikbaar. Selfs diere soos beeste, skape en perde kan ’n mens daar kry en daar is tot perdekarre! Om nie eens te noem dat ’n mens selfs mense daar kan koop nie: ja, daar is selfs slawe beskikbaar.
14“Alles waarvoor julle geleef het, is daarmee heen. Dit wat julle so graag wou hê, is weg. Al die spoggerige luukshede het soos dou voor die oggendson verdwyn; dit is vir altyd weg!”
15Hierdie einste handelaars wat so ryk geword het uit die stad sal haar nie nou gaan help nie. Hulle sal net van ver af staan en kyk. Hulle is bang dat wat die stad tref, hulle ook gaan tref. 16Tog huil hulle kliphard: “Die arme, arme stad. Die groot, belangrike stad! Kyk net hoe het sy haar deftig opgetof met mooi pers en rooi klere. Kyk na al haar duur juwele: dis net pêrels en edelstene waar jy kyk! 17In ’n enkele oogwink sorg God dat daar van al hierdie rykdom en weelde niks oorbly nie.”
Die skeepskapteins, matrose en almal wat iets met die see te doen het, het van ver af gestaan en kyk. 18Hulle het die rookwolke gesien wat van die stad af opgestyg het. Dit het hulle laat uitroep: “Wat ’n wonderlike stad was dit! Daar was nog nooit so iets nie!” 19Om te wys hoe hartseer hulle regtig was, het hulle stof oor hulle gegooi. So deur die trane en snikke het hulle gesê: “Hoe ellendig, hoe verskriklik is dit tog nie! Kyk na die magtige stad. Almal wat skepe op die see gehad het, het skatryk geword. Daarvoor het sy gesorg. En nou, met een veeg van sy hand, het God ’n einde aan alles gemaak.”
20In die hemel moet almal bly wees oor wat met die stad gebeur. Al God se mense, die mense wat Hy uitgestuur het om vir Hom te werk, hulle wat sy Woord moet verkondig, moet net so bly wees. God het haar immers gestraf oor wat sy aan hulle gedoen het.
Daar sal niks oorbly nie
21Daar kom toe ’n engel wat baie sterk was. Hy vat ’n groot rots en gooi dit in die see. Hy kondig toe aan: “So, soos hierdie rots, sal die groot stad Babilon met mening neergegooi word. Soos die rots sal dit vir ewig verdwyn. 22Daar sal net mooi niks oorbly nie, nie eens een musiekinstrument nie; nie eens ’n enkele ding wat iemand maak of bou nie; nie ’n korreltjie meel nie; ja, niks nie! 23Daar sal nie ’n lampie oorbly om iewers sy dowwe liggie te gooi nie, wat nog te sê van die vrolike gesels van twee pasgetroudes. 24Net mooi niks sal oorbly van Babilon nie, en sy was eens die een wat met al die belangrikste en rykste besigheidsmanne in die wêreld gespog het! Sy kon mense van oral af deur haar oëverblindery om die bos lei. Dit was ook die einste stad waarin die kinders van God en sy boodskappers doodgemaak is, ja, vermoor is!”

Currently Selected:

Openbaring 18: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy