YouVersion Logo
Search Icon

Psalms 44

44
1Opgedra aan die musiekleier. ’n Gedig van die Koragsanggroep
2Ons oupas en oumas het vir ons gesê
U, o God, het baie groot dinge in hulle tyd gedoen.
Dit was lank, lank gelede, toe U vir die Israeliete ’n land gegee het.
3Met u groot krag het U vreemde volke voor u kinders uit verjaag.
Vir u kinders het U ’n blyplek gegee.
4Dit was nie u kinders se wapens wat so goed was dat hulle die oorlog gewen het nie.
Nee, dit was nie hulle wat so sterk was nie. Dit was U.
U het hulle met u groot krag gehelp.
U wou hulle help omdat U baie lief is vir hulle.
5God, U regeer ook oor ons.
Ons erken dat U die sterkste van almal is.
Help ons net soos U ons oupas en oumas gehelp het.
6Met u hulp sal ons die mense wat met ons baklei onderstebo loop. In u Naam wen ons die mense wat teen ons opstaan.
7Ons maak nie op ons eie krag staat nie. Ons wapens sal ons nie laat wen nie.
8Dis net U wat ons in die verlede laat wen het.
U het ons vyande skaam-skaam huis toe laat gaan.
9Ons het U toe heeldag lank geprys en bewonder. Ons het U geloof.
10Maar, Here, U het ons nou van U af weggestamp!
U het ons verneder!
U het ons nie gehelp toe ons teen ander mense geveg het nie.
11Ons moes vlug.
Ons vyande het al ons goed gevat.
Hulle gee niks vir ons om nie.
12Ons is soos diere wat geslag word.
U het ons uitgelewer aan vreemde mense in die omgewing en ons tussen hulle verstrooi.
13U het u kinders vir wie U lief is, byna verniet weggegee.
In ruil daarvoor het U amper niks gekry nie. U maak geen wins op ons nie.
14U het ons verneder voor almal wat rondom ons bly.
Die mense wat ons sien, lag ons uit. Hulle spot met ons.
15Mense van ander nasies spot met ons. Hulle kyk op ons neer.
16Ons word heeltyd verneder.
Ons kan niemand meer in die oë kyk nie. Ons is te skaam.
17Ons vyande spot met ons. Hulle trap ons in die modder.
Hulle geniet dit om lelik met ons te wees.
18Kyk net wat het alles met ons gebeur, Here!
Ons het U en u ooreenkoms met ons nie vergeet nie.
19Ons het nie ons rug vir U gedraai nie.
Ons het nie van u pad weggegaan nie.
20Tog het U ons vernietig. Ons huise is afgebreek.
Ons leef in die land waar die dood vir ons loer.
21God weet mos as ons Hom skielik nie meer dien nie.
Hy sal vinnig agterkom as ons by vreemde afgode hulp gaan vra.
22Hy weet wat mense in die geheim dink en doen.
Sou Hy nie agterkom wat ons doen nie?
23U het ons ’n lang tyd laat swaarkry, Here.
Dit is oor U dat ons behandel is soos diere wat geslag word.
24Is U nog daar, Here? Slaap U?
Hoekom doen U dan niks nie? Gryp in!
Moenie ons wegstamp nie!
25U maak asof U nie daar is nie.
U speel wegkruipertjie met ons. U steur U nie aan ons nie!
U draai die rug vir ons terwyl ons swaarkry en mense met ons spot.
26Ons word in die grond in getrap. Ons kan nie self regop kom nie.
27Help ons, Here! Red ons omdat U ons liefhet.

Currently Selected:

Psalms 44: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy