YouVersion Logo
Search Icon

Psalms 27

27
Vir Dawid
1Die Here help my deur my donkerste krisis.
Sy hulp is soos ’n lig wat ’n mens in ’n pikdonker kamer aanskakel. Hy red my.
Omdat Hy my help, is daar niks waarvoor ek bang is nie.
Die Here beskerm my. Waarvoor sal ek dan bang wees?
2As slegte mense my kwaad wil aandoen, ja, as mense wat niks van my hou nie, my wil seermaak, sal hulle sleg daarvan afkom.
Hulle sal self tot ’n val kom.
3Al staan ek alleen teen ’n hele leër soldate, sal ek geen bang haar op my kop hê nie.
Ook al trek ’n hele weermag teen my op en val my aan, sal ek steeds op die Here vertrou.
4Daar is een groot wens in my hart en dit wil ek met my hele lewe najaag: dat ek my hele lewe lank by die Here mag wees.
Sy wonderlike nabyheid wil ek dag en nag beleef. Ek wil ervaar hoe goed Hy vir my is.
Ek wil weer en weer daaroor nadink wanneer ek Hom aanbid.
5Die Here beskerm my die dag as slegte dinge op my afkom; Hy bewaar my teen gevaar;
Hy help my uit die moeilikheid. Hy laat my by Hom wegkruip.
Nou kan ek weer my kop optel.
Die Here maak my ’n wenner.
6Daarom wil ek Hom aanbid en vir Hom dankie sê deur liedere te sing saam met
verskillende musiekinstrumente.
Ek sal liedere sing om die Here te eer. Ek sal vir Hom offers bring.
Mense wat niks van my hou nie, sal kyk hoe ek my kop optel en die Here prys.
7Here, ek bid ernstig tot U. Ek roep na U.
Wees goed vir my. Help my. Hoor my gebed en antwoord my.
8Ek sê elke dag vir myself: Jy moet die Here dien. Soek na sy teenwoordigheid. Daarom aanbid ek U, Here.
9Moet tog nie maak of U my nie hoor nie.
Moenie my wegjaag omdat U vir my kwaad is nie.
U het my in die verlede gehelp.
Stoot my nie weg van U af nie. Los my nie alleen nie. U is die God wat my red.
10Selfs al wil my pa en ma niks met my te doen hê nie,
sal die Here self vir my sorg.
11Here, vat my hand. Lei my op ’n pad waar daar nie slaggate is nie.
Wys my hoe om reg te lewe.
Moenie dat hulle wat niks van my hou oor my seëvier nie.
Pas my op. Lei my.
12Party vertel leuens oor my, terwyl ander my met geweld onderstebo wil loop. Moet my tog nie in hulle hand oorgee nie.
13Dis net my geloof in die Here wat my staande hou.
Sy goedheid dra my elke dag van my lewe. As ek dit darem nie geglo het nie …
14Stel al jou hoop op die Here! Vertrou op Hom!
Hou moed! Wees sterk!
Moenie die handdoek ingooi nie; bly wag op die Here!

Currently Selected:

Psalms 27: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy