YouVersion Logo
Search Icon

Psalms 106

106
1Prys die Here! Hy is goed.
Sy goedheid hou net aan en aan, vir altyd!
2Wie op aarde het ooit genoeg woorde om te sê hoe groot en sterk die Here is?
Wie kan sy Naam genoeg loof?
3God hou baie van elkeen wat doen wat reg is,
wat elke kans aangryp om sy wil te doen. Hy laat dit goed gaan met sulke mense.
4Here, onthou my tog wanneer U vol vreugde is oor u kinders.
Sluit my in wanneer U hulle help,
5sodat ek kan sien hoe almal wat U uitgekies het, oorloop van geluk.
Ek wil bly wees saam met al u kinders.
Ek wil feesvier saam met elkeen wat aan U behoort.
6Ons het baie verkeerde dinge gedoen, nes ons voorgeslagte.
Ons het nie op die regte pad gestap nie.
Ons het U elke keer in die steek gelaat.
7Daar in Egipte het ons voorouers hulle nie gesteur aan die groot dinge
wat U gedoen het nie.
Hulle het gou-gou vergeet hoe vol liefde en goedheid U is.
Daarom was hulle so hardkoppig daar by die Rietsee.
8Maar die Here het hulle gered, om sy reputasie te beskerm.
Hy wou vir hulle wys hoe groot Hy is.
9Hy het met die Rietsee gepraat, en in ’n oogwink was dit kurkdroog!
Hy het hulle dwarsdeur die see laat stap asof dit ’n droë woestyn is.
10Hy het hulle gered uit die hand van hulle haters.
Hulle is bevry uit die greep van die mense wat hulle laat swaarkry het.
11Die waters van die see het oor hulle vyande gespoel. Nie een het bly leef nie.
12Toe het die volk geglo dat die Here doen wat Hy sê.
Hulle het Hom geloof en geprys!
13Maar hulle het gou-gou weer vergeet wat die Here gedoen het.
Hulle was nie bereid om te wag totdat Hy vir hulle sê wat om te doen nie.
Daar in die woestyn het hulle net aan hulleself gedink.
14Met hulle aanhoudende gekla het hulle God kwaad gemaak. Hulle het sy geduld beproef deur te eis dat Hy vir hulle kos gee.
15Hy het vir hulle gegee wat hulle gevra het,
maar Hy het hulle geestelik laat uithonger.
16Hulle het op ’n dag jaloers geraak op Moses en op Aäron, die een wat in die Here se diens gestaan het.
17Die aarde het toe oopgegaan en Datan ingesluk.
Abiram se klomp handlangers is ook van die aardbol afgevee.
18’n Vuur het onder hulle gebrand.
Daar het niks van almal wat nie voor God wou buig oorgebly nie.
19By die berg Horeb het die volk ’n kalf van metaal gemaak,
hulle eie handewerk aanbid.
20Hulle het die allerheiligste God verruil vir ’n dooie beeld,
vir ’n beeld van ’n bul wat gras vreet.
21Hulle het heeltemal vergeet hoe God hulle gered het.
Hulle het vergeet watter groot dinge Hy daar in Egipte gedoen het,
22sy magtige dade in die land van Gam
en sy reusewonderwerk by die Rietsee.
23God se geduld met sy volk was op.
Hy wou Israel vernietig,
maar Moses, sy kneg, het Hom gesmeek om dit nie te doen nie.
Hy het God se woede laat bedaar
en gekeer dat die volk weggevee word.
24Die volk het die wonderlike land wat op hulle gewag het, deur hulle vingers laat glip;
hulle het die Here nie op sy woord gevat nie.
25Al wat hulle gedoen het, was om in hulle woonplekke te sit en kla.
Hulle het hulle ore toegedruk as die Here met hulle praat.
26Toe het God besluit: Genoeg is genoeg!
Hy het gesê dat nie een van hulle die woestyn lewendig sou verlaat nie.
27Hulle kinders sou oor die aarde verstrooi word,
hulle sou tussen ongelowiges gaan bly.
28Die volk het ook voor Baäl-Peor gebuig,
hulle het kos geëet wat aan afgode wat dood is, geoffer is.
29Wat hulle gedoen het, het die Here baie kwaad gemaak;
daarom dat ’n verskriklike siekte hulle getref het.
30Gelukkig het Pinehas ingegryp en die skuldiges gestraf.
Toe het die siekte opgehou.
31Pinehas het gedoen wat reg is, sy nageslag sal dit altyd onthou.
32Daar by die fonteine van Meriba het die volk die Here weer kwaad gemaak,
selfs Moses het gely onder hulle sonde.
33Omdat hulle vir die soveelste keer ongehoorsaam aan God was,
het Moses kwaad geword en dinge gesê wat hy nie moes sê nie.
34Hulle het nie die goddelose volke uitgeroei
soos die Here vir hulle gesê het om te doen nie,
35maar links en regs met ongelowiges begin trou.
Kort voor lank het hulle net soos hierdie mense begin leef.
36Hulle het selfs hierdie mense se afgode aanbid
en vasgevang geraak in afgodery.
37Hulle het hulle kinders geoffer op die altare van die duiwels.
38Hulle het onskuldige kindertjies doodgemaak,
hulle eie seuns en dogters is aan Kanaän se dooie gode geoffer.
Die hele land is met onskuldige bloed besoedel.
39Wat hulle gedoen het, het die Here gewalg.
Soos sedelose vroue het hulle agter elke nuwe sonde op die mark aangehardloop.
40Toe het die Here baie kwaad geword vir sy volk.
Hy wou niks meer met sy eie mense te doen hê nie.
41Hy het toegelaat dat hulle vyande bo-oor hulle loop,
hulle is swaar verdruk deur hulle nuwe heersers.
42Hulle vyande het geen genade geken nie, hulle het Israel baie swaar laat ly.
43Keer op keer het God sy volk uit die gemors kom haal,
maar hulle wou eenvoudig nie voor Hom buig nie,
hulle het net al hoe dieper in hulle sonde weggesink.
44Maar God het gesien hoe swaar hulle kry,
Hy het geluister as hulle Hom smeek om hulle te kom help.
45Hy het onthou dat Hy sy ooreenkoms met hulle gemaak het.
Omdat sy hart oorloop van goedheid, het Hy sy hand weer na hulle toe uitgesteek.
46Hy het gemaak dat hulle verdrukkers hulle jammer gekry het.
47Ag, Here ons God, kom help ons tog!
Kom haal ons hier tussen die nasies uit sodat ons u heilige Naam kan loof
en bly kan wees oor al u goedheid!
48Die Here, die God van Israel, moet geloof word,
nou en vir altyd.
Laat die hele volk sê: “Amen! Dit is waar!
Prys die Here!”

Currently Selected:

Psalms 106: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy