YouVersion Logo
Search Icon

Psalms 103

103
Vir Dawid
1Ek wil die Here loof.
Met alles in my wil ek die Here se grootheid prys.
2Ek wil nooit vergeet hoe goed die Here vir my is nie. Ek loof Hom!
3Dit is Hy wat my vergewe as ek verkeerde dinge doen. Hy maak my gesond.
4Hy red my uit die kloue van die dood.
Hy maak dat ek vir ander mense omgee en goeie dinge vir hulle doen.
5Die Here oorlaai my met al die goeie dinge in die lewe.
Hy gee my arms vol krag. Hy maak my so sterk soos ’n jongmens.
6Die Here help almal wat onderdruk word. Hy is goed.
Hy sorg dat reg aan hulle gedoen word.
7Dink net hoe Hy vir Moses gesê het wat Hy van hom verwag
en hoe Hy sy kinders gaan help.
8Die Here se hart is baie sag. Hy gee graag goeie dinge aan ons.
Hy is geduldig. Hy het sy kinders baie lief.
9Die Here sal jou nie aanhou straf vir die verkeerde dinge wat jy gedoen het nie.
Ook bly Hy nie vir altyd kwaad oor iets nie.
10Hy straf ons nie volgens dit wat ons regtig verdien nie.
Hy vergeld ons nie op dieselfde manier vir al ons slegte dade nie.
11So ver as wat die verste punt in die heelal van ons af is, so groot, en nog groter, is die Here se liefde vir elkeen wat Hom dien.
12So ver as wat die verste punte van die heelal van mekaar af is, so ver, en nog verder, vat Hy ons sondes se straf van ons af weg.
13Net soos ouers hulle kinders met groot liefde versorg, so versorg die Here elkeen wat Hom dien met arms vol liefde.
14Die Here weet hoe swak en vol foute ons is. Hy weet dat ons maar net klein en swak mensies is.
15’n Mens leef net vir ’n kort rukkie.
Jy is maar soos gras wat daarbuite groei.
16Wanneer die wind begin waai en die son begin skroei, dan hou dit nie lank nie.
Die gras gaan net daar dood.
So gaan dit ook met mense.
17Daar is geen grense aan die Here se liefde nie. Dit sal vir altyd aanhou vir mense wat hom dien, vir geslagte lank.
18Elkeen wat Hom dien en die ooreenkoms nakom wat Hy gesluit het,
kan op sy liefde reken.
Oor die jare heen help Hy mense.
Die Here help almal wat na Hom luister.
19Die Here regeer uit die hemel. Hy is die sterkste van almal. Hy heers oor alles.
20Kom prys die Here, sterk engele wat vir die Here werk!
Julle maak Hom baie gelukkig omdat julle doen wat die Here wil hê.
21Kom prys die Here, al julle ontelbare skares in die hemel wat Hom gelukkig maak!
22Kom prys die Here, almal en alles wat deur Hom gemaak is!
Prys Hom op elke plek waar Hy regeer.
Ek wil ook die Here prys met my hele lewe!

Currently Selected:

Psalms 103: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy