YouVersion Logo
Search Icon

Miga 5

5
1“Betlehem is in die Efrata-gebied. Dit is eintlik maar ’n onbelangrike stadjie in vergelyking met van die ander stede in Juda. Maar die Here sê in hierdie stadjie sal ’n leier gebore word wat Hy gekies het om koning oor Israel te wees. Hy kom uit ’n familielyn wat tot baie ver in die verlede teruggaan. 2Vir ’n tyd lank sal die Here sy mense baie swaar laat kry. Dit sal so aanhou totdat hierdie nuwe leier gebore word. Dan sal van die mense van Juda wat deur hulle vyand uit hulle land weggevat is, terugkom sodat hulle weer by hulle eie mense in Israel kan wees. 3Hierdie leier sal sy pligte begin en sy mense lei deur die krag wat die Here vir hom sal gee. Die Here sal vir hom die gesag gee wat hy nodig het om die leier van Juda te wees. Die mense van Israel sal met hom as leier baie veilig voel, want oral oor die wêreld sal mense vir hom respek hê. Hy sal sorg dat daar vrede is,” het Miga gesê.
4Die opponente antwoord toe: “Die mense hoef nie bekommerd te wees nie. As die Assiriërs ons land inval en deur ons verdedigingslinies breek, sal ons genoeg leiers aan ons kant hê om hulle aan te vat. Hulle sal ons beskerm. 5Hulle sal Assirië met militêre mag verslaan. As die Assiriërs oor ons grense kom om ons land in te val, sal ons bondgenote ons uit hulle mag kom red.”
6“Nee,” antwoord Miga toe, “die waarheid is net mooi andersom. Die mense van Israel wat die straf van die Here oorleef het, sal vir ander nasies baie beteken. Hulle sal soos dou of reën wees wat die Here verniet gee. Hulle is van die Here afhanklik om te lewe.”
7“Die mense van Israel wat oorgebly het, sal onder die nasies wees soos ’n leeu onder wilde diere is. Mense sal vir hulle bang wees omdat hulle sterk is. Hulle sal soos ’n leeu wees onder ’n trop skape wat hulle verjaag en verskeur. Niemand sal kom om hulle te help nie. 8Die mense van Israel sal hulle vyande onverwags aanval en oorwin. Niks sal van hulle oorbly nie,” het die opponente gesê.
9En Miga antwoord toe: “Die Here sê: ‘Wanneer die tyd kom waarvan Ek praat, sal die volgende gebeur: Ek sal julle wapens en militêre mag heeltemal vernietig. 10Daar sal ook niks van al julle stede oorbly nie, selfs nie dié met die groot hekke en sterk mure om nie. 11Ek sal ook ontslae raak van al julle toorkunsies en van julle waarsêers. 12Verder sal Ek ook al julle afgodsbeelde en die klippilare vernietig wat julle opgesit het om eer aan die gode te bring. Julle sal nooit weer neerbuig voor die goed wat julle met julle hande gemaak het nie. 13Ek sal die houtpale uitruk wat julle geplant het om die godin van vrugbaarheid te vereer. Ek sal ook julle stede verwoes waar julle hierdie gode aanbid het. 14Omdat Ek baie kwaad is, sal Ek wraak neem op al die nasies wat aan My ongehoorsaam is.’”

Currently Selected:

Miga 5: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy