YouVersion Logo
Search Icon

Miga 3

3
Israel se leiers het misluk
1Miga het gesê: “Luister ’n bietjie hier, leiers van Israel. Behoort julle nie te weet wat reg en verkeerd is nie? 2By julle kry ’n mens net die teenoorgestelde. Julle haat die dinge wat reg en goed is, maar julle is lief vir die slegte dinge in die lewe. Julle behandel die mense van Juda soos diere wat lewendig afgeslag word. Die vel word afgetrek en die vleis van die bene afgesny. 3Dan eet julle die vleis, sny die vel af en breek die bene oop. Julle kap hulle in stukke soos ’n mens vleis opsny om in ’n pot te kook. Dit is skokkend wat julle aan die mense van Juda doen. Julle steel die mense van Juda se goed en knou hulle af totdat julle kry wat julle wil hê. Julle vat die dinge weg wat hulle aan die lewe hou en laat hulle as stukkende mense agter. Julle gee nie om wie of wat julle skade aandoen nie, solank julle net kry wat julle wil hê.’ 4Die Here is nie tevrede met hierdie verkeerde dinge wat julle doen nie. Daarom sal Hy, as julle na Hom roep om julle te help, julle nie antwoord nie. Julle kan maar smeek dat Hy iets spesiaals vir julle moet sê of wys, Hy sal dit nie doen nie.”
5Dit is wat die Here wil hê Miga vir die profete moet sê. “Die Here sê: ‘Julle lei my mense op ’n dwaalspoor. As hulle vir julle kos gee om te eet, het julle allerhande mooi dinge vir hulle te vertel. Dit is net wat hulle wil hoor. As iemand weier om julle te betaal, dan word julle kwaad en behandel hulle soos julle vyande.’ 6Die Here sê dit is nag vir julle. ‘Die toekoms lyk maar donker vir julle, want Ek gaan nie vir julle iets besonders wys in ’n droom of vir julle iets oor die toekoms sê nie.’ Dit gaan vir hulle voel of die son vir hulle ondergegaan het en die donkerte hulle vasvang. Dit is hulle einde. Hulle sal nie meer kan doen waarvoor profete bekend is nie. Hulle gaan hulle plek in die samelewing verloor. 7Hierdie profete wat altyd sê wat in die toekoms gaan gebeur, gaan in die skande kom omdat hulle niks gaan hê om daaroor te sê nie. Omdat hulle skaam is, sal hulle almal hulle gesigte met hulle hande toehou, want die Here wil nie met hulle praat nie.”
8Tog sê Miga: “Ek voel dat die Here se Gees in my lewe is. Hy gee my baie krag. Ek het ook ’n goeie gevoel vir wat reg en verkeerd is. Verder is ek nie bang om vir die mense van Juda en Israel te sê wat hulle verkeerd doen nie en waarvan die Here nie hou nie.
9“Hoor hier, julle leiers van Israel! Julle is mos die mense wat regverdigheid nie kan verdra nie. Julle lieg en bedrieg almal. 10Jerusalem lyk baie mooi en dit lyk of dit baie goed gaan, maar dit is ’n vals prentjie. Die waarheid is dat mense vermoor en bedrieg is om dit reg te kry. 11Jou leiers word maklik omgekoop. Vir geld sorg hulle dat dit met die een mens goed gaan terwyl hulle ’n ander een skade aandoen as hy nie kan betaal nie. Julle priesters leer ook net mense as hulle kan betaal. Die profete vra geld om vir iemand te sê wat die Here sê. Tog sê almal van hulle dat hulle van die Here afhanklik is. Hulle sê: ‘So lank as wat die Here by ons in sy tempel is, sal niks vir ons verkeerd loop nie.’ 12Hoor hier, julle leiers, dit is julle skuld dat Jerusalem verwoes gaan word. Sion gaan soos ’n omgeploegde land lyk. Die afgebreekte mure van Jerusalem gaan soos ’n hoop bourommel lyk. Bossies gaan oral op die berg groei waar die tempel staan, want daar gaan nie mense na die tempel toe kom wat die bossies gaan plattrap nie.”

Currently Selected:

Miga 3: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy