YouVersion Logo
Search Icon

Matteus 28

28
Hy is nie meer hier nie! Hy het opgestaan
1Die Sondagoggend vroeg, net toe dit begin lig word, is Maria Magdalena en die ander Maria af graf toe. 2Hulle was net by die graf toe die aarde skielik begin bewe. Verskrik kyk hulle op en sien ’n engel van die Here uit die hemel na hulle toe kom. Hy rol toe die groot klip voor die graf weg en gaan sit daarop.
3-4Toe die wagte hom sien, het hulle hulle byna doodgeskrik. Soos iemand wat flou word, slaan hulle neer, veral toe hulle die engel se gesig sien. Dit het gelyk of daar weerligstrale uitkom, so het dit gestraal. Sy klere was skitterend blink.
5Die engel praat toe met die vroue: “Moenie vir my bang wees nie. Ek weet julle soek Jesus, die Een wat hulle gekruisig het. Hy is nie meer hier nie. 6Hy het mos self gesê Hy gaan opgewek word. Presies dit het gebeur! Maar staan nader; kom kyk self na die plek waar Hy gelê het. 7As julle klaar gekyk het, maak so gou as wat julle kan en gaan vertel vir sy dissipels dat Hy uit die dood opgewek is. Sê vir hulle Hy is op pad Galilea toe. Julle almal moet Hom daar gaan kry. Dit is my boodskap aan julle.”
8Die vroue het nie op hulle laat wag nie. Hulle hardloop toe so vinnig as wat hulle kon huis toe om vir die dissipels te gaan vertel. Van skrik het hulle bene nog maar gebewe, maar hulle harte het van pure blydskap vinnig geklop. 9Terwyl hulle afsit huis toe, kom hulle skielik vir Jesus self teë. Daar het Hy gestaan.
10“Goeiemôre!” het Hy gesê. Die vroue was totaal uit die veld geslaan. Hulle het voor Jesus neergeval en sy voete vasgegryp. Woorde van aanbidding het oor hulle lippe gestroom.
Jesus sê vir hulle: “Moenie bang wees nie. Gaan sê vir my broers dat Ek hulle in Galilea sal kry.”
’n Storie: die liggaam is gesteel
11Die wagte het intussen die hasepad gekies. Party van hulle is terug stad toe om vir die hoëpriester te gaan vertel wat alles gebeur het. 12Die Joodse leiers het dadelik weer ’n noodvergadering belê. Hulle het ooreengekom om wat gebeur het stil te probeer hou. Maar hulle moes by die soldate verbykom en bied toe vir hulle ’n aardige bedrag aan. 13“Vertel asseblief vir almal dat julle deur die nag aan die slaap geraak het. Jesus se vriende het toe die kans gebruik om sy liggaam te steel. Moet julle nie verder oor iets bekommer nie. Ons sal vir alles sorg. 14As die goewerneur vra waarom julle aan diens geslaap het, sal ons wel ’n storie uitdink wat sal keer dat iets met julle gebeur.”
15Die soldate het die omkoopgeld gretig gevat. Hulle het die storie wat die Joodse leiers versin het oral gaan rondvertel. Die Jode glo die storie tot vandag toe nog.
Die wêreld is julle sendingveld
16Die elf dissipels is van Jerusalem af terug Galilea toe. Daar het hulle Jesus op die berg gaan soek, soos Hy gevra het. 17Hulle het Hom ook daar gekry. Party het nog maar baie onseker gevoel oor alles wat gebeur het. Tog het hulle Hom geloof en aanbid.
18Jesus het nader gestaan. “God het aan My al die mag gegee wat daar is. Niemand is magtiger as Ek nie. 19Ek wil hê julle moet iets vir My doen: “Die wêreld is nou julle sendingveld. Gaan oral na almal toe en daag hulle uit om My sonder enige voorwaardes of verskonings te volg. As hulle bereid is om My met hulle hele lewe te volg, moet julle hulle doop op gesag van die Vader, die Seun en die Heilige Gees. So sal julle hulle inlyf om deel van God se familie te wees. Maar dan is julle nog nie klaar nie. 20Leer hulle en lei hulle dan in alles wat Ek vir julle geleer het. Vertel hulle hoe belangrik dit is om aan My gehoorsaam te wees en te doen wat Ek vra.
“En wees verseker: Ek verwag nie dat julle dit alleen moet doen nie. Elke dag, tot met die wederkoms, sal Ek self by julle wees.”

Currently Selected:

Matteus 28: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy