YouVersion Logo
Search Icon

Maleagi 1

1
1Hierdie is ’n boodskap vir Israel deur Maleagi uit die hart van die Here uit.
Die Here se liefdesverklaring aan sy kind, Israel
2Ek het julle baie lief, sê die Here, maar julle sê heel verbaas: Regtig? Waar is die bewys dat U ons liefhet? Kom Ek antwoord julle so: Ek het my liefde vir julle bewys deur Jakob lief te hê. 3Esau het Ek aan homself oorgelaat, al was hy Jakob se broer. Daarom is sy bergland vandag soos ’n kaal vlakte en is dit nie sy kinders wat daar bly nie, maar net ’n klomp woestynjakkalse.
4Sy kinders daar in Edom sou natuurlik kon sê: “Al lyk dit nou sleg, ons sal weer voor begin!” Vir hulle sê Ek, die God vir wie niks onmoontlik is nie, julle kan soveel huise bou as wat julle wil, dit sal nooit ’n stad word nie. Om die waarheid te sê, julle sal eerder op ’n bynaam genoem word: die goddelose dorp en mense vir wie die Here vir altyd kwaad is. 5Julle sal dit met julle eie oë sien en dan sal julle nie anders kan nie as om te sê: “Maar die Here is in beheer selfs tot anderkant Israel se grense.”
Nuttelose offers
6’n Kind respekteer tog sy pa en ’n werknemer sy hoof. Julle noem My julle Vader en julle Here, maar waar is die eer en respek wat Ek dan moet kry? Dit wil Ek, wat die Grootkoning is, by julle weet, priesters, want julle maak My belaglik voor die mense. En tog vra julle ewe onskuldig: “Wanneer het ons U ooit belaglik gemaak?” 7Kyk ’n bietjie na die soort offers wat julle vir My bring. Julle gee nie om hoe hierdie offers lyk nie. En dan vra julle nog: “Wanneer het ons U nie gerespekteer nie?” Deur nie te bring wat Ek wil hê nie, is net so goed as om jou neus vir My op te trek en te sê: “Vat wat jy kry.”
8Is daar niks mee verkeerd as julle ’n blinde of ’n lam of ’n siek dier vir My kom offer nie? Probeer ’n bietjie so iets met julle goewerneur en kyk hoe baie hy daarvan gaan hou.
9Tog hou julle aan vra dat Ek, die Here, vir julle goed moet wees, maar solank julle so aangaan, sal Ek nie julle gebede verhoor nie, en dis net julle eie skuld. 10Ek wens iemand wil liewer die tempel se deur toesluit. Dan kon julle ten minste nie al hierdie nuttelose offers vir My bring nie. Ek is nie beïndruk met wat julle doen nie. Moenie dink dat Ek maar met enigiets tevrede moet wees nie. Onthou, Ek is die Here, die enigste God. 11Mense oor die hele wêreld eer My. Die offers wat hulle vir My bring, is aanvaarbaar, want hulle bedoel dit uit die hart uit. Op hierdie manier bewys hulle dat hulle respek het vir My as die Here aan wie alles behoort. 12Julle optrede is sonder respek. Julle nooi My as ’n gas, maar dit waarmee julle die tafel vir My dek, is goed wat julle self nie eens wil hê nie. 13En dan trek julle nogal die neus vir My op en sug oor hoe moeilik dit is om die Here tevrede te stel. Gaan kyk ’n bietjie wat bring julle vir My as offers: gesteelde, lam en siek diere; dis mos nie aanvaarbaar nie.
14As iemand belowe het om vir My die beste te gee wat hy het en hy kom dan later daar aan met iets minderwaardigs, moet hy weet dit sal baie swaar met hom gaan. Want Ek laat My nie bedrieg nie. Ek is die Grootkoning, die Here aan wie alles behoort. Die volke van die wêreld het respek vir My.

Currently Selected:

Maleagi 1: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy