YouVersion Logo
Search Icon

Josua 5

5
1Toe al die konings van die Amoriete wes van die Jordaan en al die konings van die Kanaäniete wat langs die Middellandse See gebly het, hoor dat die Here die Jordaan laat opdroog het sodat die Israeliete daardeur kon trek, het hulle moed in hulle skoene gesak. Hulle het baie bang geword. Hulle het nie meer moed gehad om teen die Israeliete te veg nie.
Die besnydenis by Gilgal
2In daardie tyd het die Here vir Josua gesê: “Maak vir julle messe van klip sodat julle weer die Israeliete kan begin besny.” 3Josua het toe klipmesse laat maak en die manlike Israeliete besny. Daarom word die plek die Heuwel van die Besnydenis genoem. 4-6Josua moes hulle besny, want toe Israel uit Egipte weg is, was al die mans reeds besny. Maar gedurende die 40 jaar wat dit hulle geneem het om deur die woestyn te trek, is nie een van die seuntjies wat toe gebore is, besny nie. Teen Josua se tyd was die Israeliete wat uit Egipte getrek het al dood omdat hulle aan die Here ongehoorsaam was. Daarom dat Hy gesê het dat hulle nie die ryk en vrugbare nuwe land sou sien wat Hy aan hulle voorouers beloof het nie. 7Dit is hierdie mense se seuns wat Josua nou besny het, omdat hulle nie op pad na die Beloofde Land toe besny is nie. Hulle moes nou hulle ouers se plek volstaan. 8Nadat die besnydenis afgehandel is, het hulle vir eers in die kamp gebly totdat hulle gesond was.
9Toe sê die Here vir Josua: “Vandag bevry Ek julle van die vernedering wat julle beleef het as slawe in Egipte.”
Daarom is die plek Gilgal genoem, die naam wat dit nog steeds het.
Die paasfees word gevier
10Terwyl die Israeliete nog by Gilgal op die vlakte naby Jerigo gekamp het, het hulle die paasfees op die aand van die veertiende dag van die maand gevier. 11Die dag na die paasfees het hulle vir die eerste keer kos van die Beloofde Land geëet: ongesuurde brood en gebraaide koring. 12Daardie oggend toe hulle van die kos van die land geëet het, het die manna vir altyd weggebly. Hulle het van toe af van hulle eie oeste in die land Kanaän geleef. Daar was nie weer manna nie.
Josua sien ’n visioen: die
bevelvoerder van die Here se leër
13Op pad Jerigo toe het Josua skielik ’n man voor hom sien staan met sy swaard in sy hand. Josua stap toe na hom toe en vra: “Is jy ’n vriend of ’n vyand?”
14“Nie een van die twee nie,” antwoord hy. “Ek is die bevelvoerder van die Here se leër.”
Josua het uit eerbied diep voor die man gebuig en gesê: “Ek is tot u diens. Wat wil u vir my sê?”
15Die bevelvoerder van die Here se leër sê toe vir Josua: “Trek uit jou skoene, want jy staan op ’n plek wat aan die Here toegewy is.”
En Josua het dit gedoen.

Currently Selected:

Josua 5: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy