YouVersion Logo
Search Icon

Josua 4

4
Twee herinneringstekens word opgerig
1Toe die hele volk veilig deur die Jordaan is, het die Here vir Josua gesê: 2-3  “Kies nou twaalf mense, een uit elke stam. Sê vir hulle om twaalf klippe uit die middel van die Jordaan, daar waar die priesters gestaan het, te gaan haal. Laat hulle hierdie klippe na die plek toe bring waar julle vannag kamp opslaan en laat hulle die klippe daar neersit.”
4Josua roep toe die twaalf wat hy gekies het bymekaar 5en sê vir hulle: “Loop tot in die middel van die Jordaan, by die ark van die Here verby. Daar moet julle elkeen ’n klip optel en dit op julle skouers uitdra, een klip vir elkeen van die twaalf stamme. 6Hierdie klippe sal die mense herinner aan wat die Here gedoen het. As julle kinders dan eendag vir julle vra: ‘Wat beteken hierdie klippe vir julle?’ 7kan julle vir hulle vertel dat die water van die Jordaan ophou vloei het toe die verbondsark van die Here daardeur is. En dat hierdie klippe vir die Israeliete ’n permanente herinnering aan hierdie wonderwerk is.”
8Die mense het toe Josua se opdrag uitgevoer. Hulle het twaalf klippe, volgens die Here se opdrag aan Josua, in die middel van die Jordaan gaan optel, een vir elke stam. Hulle het hierdie klippe na hulle oornagkampplek toe gevat en daar neergesit.
9Josua het toe nog ’n herinneringsteken van twaalf klippe in die middel van die Jordaan opgerig op die plek waar die priesters met die verbondsark gestaan het. (Volgens oorlewering is hulle tot vandag toe nog daar.) 10Die priesters wat die verbondsark gedra het, het in die middel van die Jordaan bly staan totdat al die Here se opdragte, wat Moses vir Josua gegee het, afgehandel was. Die volk het intussen vinnig deur die droë rivier na die oorkant toe gegaan. 11Eers toe die hele volk deur is, het die priesters hulle met die ark van die Here gevolg. 12Die groepe soldate uit die stam van Ruben en Gad, asook die halwe stam van Manasse, het eerste deurgegaan, soos Moses vroeër beveel het. 13Ongeveer 40  000 van hierdie manne was reg om oorlog te maak. Hulle het deurgetrek na die vlaktes van Jerigo toe. Die Here was by hulle. 14Die groot dinge wat die Here daardie dag deur Josua gedoen het, het die volk groot respek vir Josua laat kry. Hulle het hom, net soos vir Moses, met eerbied behandel vir die res van sy lewe.
15Die Here het vir Josua gesê: 16“Laat die priesters wat die ark met die getuienis dra nou uit die Jordaan uitkom.” 17Josua het dit toe gedoen. 18Toe die priesters wat die verbondsark gedra het, aan die ander kant van die rivier uitklim, het dit weer soos voorheen begin vloei en sy walle oorstroom. 19Dit het alles gebeur op die tiende dag van die eerste maand. Die volk het kamp opgeslaan by Gilgal, oos van Jerigo.
Josua leer die volk
20Josua het die twaalf klippe wat hulle uit die Jordaan gebring het by Gilgal op mekaar gepak 21en vir die Israeliete gesê: “As julle kinders eendag vir julle vra: ‘Wat beteken hierdie klippe?’ 22kan julle vir hulle sê: ‘Hier is Israel droogvoets deur die Jordaan.’ 23Die Here julle God het die Jordaan se water voor julle laat opdroog sodat julle kon deurstap sonder dat julle voete nat word. Dit is presies soos Hy vroeër met die Rietsee gemaak het toe Hy dit voor ons laat opdroog het sodat ons kon deurgaan. 24Die Here het hierdie wonderwerk gedoen sodat al die volke van die aarde kan weet hoe magtig Hy is, en sodat julle die Here julle God altyd sal dien en eer.”

Currently Selected:

Josua 4: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy